Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Al loop ons deesdae sonder maskers buite rond en is kontak met ander mense op ‘n meer normale vlak, is die gevolge van die Covid-19-pandemie nog lank nie iets van die verlede nie. Trouens, ‘n mens kan verwag dat die impak op veral ons jonger kinders, nog lank ervaar sal word. Een so ‘n gevolg is die ontwikkeling van sommige van ons voorskoolse kinders wat nie na wense is nie. “Hoewel hulle (die kinders) die kleinste risiko vir die ernstige direkte gevolge van die virus het, is hulle egter die groep met die hoogste risiko van alle ouderdomsgroepe vir die indirekte nadelige nagevolge van die pandemie en die pogings om dit te bekamp.”
“Stresvolle situasies beïnvloed mense op verskillende maniere, met sommige wat onttrek en emosioneel afwesig word – wat veral skadelik vir jong kinders is. Ander mag dalk maklik kwaad word en dit dan verbaal of fisiek op ander insluitende kinders, uithaal. Herhaalde geweld is veral skadelik vir jong kinders.”
Dit is die mening van prof Mark Tomlinson (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing) en prof Linda Richter en dr Wiedaad Slemming (beide verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand) in ‘n artikel vir News24 (17 Februarie 2021).
Afrikaans.com wou die kwessie van naderby bekyk en het met sielkundige en vroeëkinderontwikkelingspesialis en spelterapeut dr Wietske Boon, gesels.
Die impak op emosionele en fisiese ontwikkeling
“Skade wat tydens die kinderjare opgedoen word, manifesteer regdeur die kind se lewe op verskeie maniere: swak skolastiese prestasie, ‘n gebrek aan gesonde en bevredigende verhoudings, onstabiele geestesgesondheid, laer vlakke van werksproduktiwiteit en minder sosiale stabiliteit.” – Artikel, News24
Daar word gesê dat die impak van die pandemie ons kinders nog lank gaan beїnvloed, veral ten opsigte van hulle ontwikkeling, maar presies wat word daarmee bedoel, en hoekom het die pandemie so ‘n groot impak op ons kinders se fisiese ontwikkeling en emosionele welstand gehad?
Volgens dr Wietske Boon het gesinne se leefruimtes hiertoe bygedra en was vele kinders tydens die pandemie ingeperk ten opsigte van hulle fisiese beweegruimte. Daar was dus nie altyd genoeg geleentheid vir klim en klouter nie. Sê Wietske: “Nie net is klim-en-klouteraktiwiteite belangrik vir fisiese ontwikkeling nie, maar ook vir emosionele ontwikkeling, omdat kinders hierdeur die geleentheid kry om van gestoorde energie, frustrasie en ander emosies ontslae te raak. In baie gevalle het gesinne se roetines en die dinamika verander, veral waar ouers van die huis af begin werk het, tuisonderrig plaasgevind het of ouers hulle werk verloor het.

“Kinders het die afgelope twee jaar baie veranderings meegemaak in die oop- en toemaak van skole, uitstel van buitemuurse aktiwiteite en verandering in roetines. Binne gesinne het baie verandering dikwels voorgekom. Kinders het byvoorbeeld inligting gehoor wat hulle nie altyd verstaan het nie. Daar was onsekerheid ten opsigte van die toekoms. Gesinne het ook verliese ervaar. Dit sluit gesondheid, die afsterwe van geliefdes, finansiële uitdagings, sosiale interaksie en aktiwiteite in. Die ervaring van trauma, en ’n toename in angs en depressie onder kinders is ’n realiteit en nie iets wat oornag opgelos word nie. Omdat ons sosiale wesens is, het die inperking van sosiale interaksie ook op ’n emosionele vlak sy tol geëis.
“Dit is juis hierdie veranderinge wat tot onsekerhede aanleiding gegee het. Skielik was mamma en pappa fisies teenwoordig, maar nie altyd emosioneel beskikbaar nie. Dit kon natuurlik in sommige gevalle tot skade in die ouer-kind-verhouding lei. Volgens Wietske kan ‘n tuiskantoor “sonder goed gedefinieerde grense in terme van tyd, ook inmeng by die gesinstyd waaraan kinders voorheen gewoond was”.
Groot- en fynmotoriese vaardighede en sensoriese integrasie
Wietske sê dat ouderdomsgepaste stimulasie wat groot- en fynmotoriese vaardighede ontwikkel nie altyd moontlik was nie, aangesien die gesin nie noodwendig oor die nodige apparaat beskik nie en die ouers “nie opgelei is in die ontwikkeling van hierdie vaardighede nie”. Nog ‘n kwessie wat uitgelig is, is die feit dat kinders tydens die inperking ook minder aan `n verskeidenheid sensoriese stimulasie blootgestel is. Daarom ervaar sommige kinders tans uitdagings ten opsigte van sensoriese integrasie.

Oor die algemeen moet ons oplet na kinders se huidige vlak van sosiale, emosionele, fisieke en motoriese ontwikkeling sodat moontlike agterstande en uitdagings so spoedig moontlik ingehaal en opgelos kan word. Indien agterstande nie ingehaal word nie, word die volgende ontwikkelingsfases daardeur benadeel.
Die impak op onderrig
Tydens die inperking het die ontwikkeling ten opsigte van leer, soos byvoorbeeld informele leer wat aangesig tot aangesig plaasvind, agterweë gebly omdat die kinders nie skool toe gegaan het nie. Leer is dus op verskeie wyses beїnvloed. Van die skole was ook onkant gevang en het nie die nodige platforms en stelsels in plek gehad nie.
Individuele aandag
Wietske sê egter dat waar skole die kurrikulum beskikbaar gestel het vir tuisonderrig en ouers die kinders met die lesinhoud bygestaan het en ook toegesien het dat die kinders die aktiwiteite voltooi het, kinders gewoond geraak het aan individuele aandag – wat nie noodwendig iets is wat in ‘n vol klaskamer moontlik is nie.
Akademiese vordering belemmer
Waar die kurrikulum nie duidelik aan gesinne gekommunikeer is of die kinders nie hulp ontvang het met die verduidelik van lesinhoud nie, het dit gebeur dat belangrike begrippe verkeerd geïnterpreteer is, of dat die kinders nie die werk verstaan het nie, of agtergeraak het in skoolwerk. Dit belemmer dus huidige akademiese vordering.
Roetine en druk
Met die skole wat nou weer volstoom aan die gang is, moet kinders weer gewoond raak aan die klasroetine, werkstempo en druk van skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite. “Sommige kinders benodig hulp met dagbeplanning, die haal van sperdatums en die vermoë om nuwe inligting selfstandig te leer en te onthou.”
Sosiale interaksie en verhoudinge
Sosiale inperking het ‘n beduidende invloed op ons kinders se sosiale ontwikkeling gehad. Volgens Wietske ontwikkel kinders in elke fase gepaste sosiale vaardighede. “Wanneer hulle sosiaal ingeperk word, verminder die geleentheid om hierdie vaardighede aan te leer en in te oefen. Maskers en fisieke afstand beperk ook normale sosiale interaksie. In gevalle waar maats nie teruggekeer het skool toe nie, is verliese aan ’n beste maat ervaar.

“Verhoudings kan ook anders voorkom waar ’n maat verliese ervaar het en steeds leer om dit te aanvaar of deur die trauma te werk.”
“Heelwat kinders vind dit moeilik om nuwe maats te maak, verhoudinge te behou of binne groter sosiale kringe aan te pas omdat hulle in die laaste twee jaar minder daaraan blootgestel was. By jonger kinders is daar dikwels ’n agterstand in basiese sosiale vaardighede soos die vermoë om te deel, beurte te maak of konflik te hanteer.”
Raad vir ouers
Dit is belangrik dat ouers (en versorgers) moet oplet na hulle kinders se gedrag om hierdie emosionele en geestesgesondheid van ons kinders te hanteer. Wietske gee die volgende riglyne:
- Let op na tekens van angstigheid, depressie en ’n gevoel van oorweldiging.
- Kommunikeer met die skool oor jou kind se hantering van skoolwerk, sosiale interaksie en emosionele welstand.
- Help jou kind om haalbare doelwitte te stel, dagbeplanning te doen en kom in ’n gemaklike roetine.
- Maak tyd vir ontspanning.
- Stel grense in terme van kantoorure wanneer jy as ouer van die huis af werk, sodat daar ruimte is vir gesinstyd.
- Indien nodig, kry professionele hulp om julle te begelei sodat moontlike trauma en ander emosionele uitdagings hanteer kan word.
Traumatiese stres by kinders en versorgers: Algemene tekens
Dalene du Plessis, ‘n sielkundige berader, noem die volgende algemene tekens van traumatiese stres in ‘n artikel in die Weslander op 8 Februarie 2021:
- Vrees en angs of paniek – soos vrees om alleen te wees, skeidingsangs, ‘n vrees vir die dood of verlies van ouers.
- Woede, frustrasie, irritasie en buierigheid.
- Slaapversteuring en nagmerries.
- Swak konsentrasie en geheue.
- Oorsensitiwiteit vir gevaar, soos as iemand sou nies (veral tydens pandemie/inperking).
- Hartseer en konstante bekommernis.
- Sukkel om na opdragte te luister en dit uit te voer.
- Chroniese moegheid, asook pyn en ander fisieke simptome.
Slotsom
Die pandemie en inperking het ons almal op een of ander manier geraak. Dit is ook duidelik dat die impak nog lank gevoel sal word en dat dit veral ons kinders is wat hierdeur geraak is. Ouers kan egter ‘n groot rol speel om hulle kinders te help om die uitdagings die hoof te bied. Maar, as jy self sukkel en dalk nie opgewasse voel om jou kind te help nie, is dit raadsaam om ‘n professionele persoon te nader. Trouens, dit is dikwels die heel beste opsie. Wat jy wel kan doen, is die volgende:
- Vra jou kind hoe hy voel en sy stres hanteer. Luister aandagtig en met empatie en help hom om sy emosies te identifiseer.
- Bring tyd saam met hom in dieselfde vertrek deur.
- Moedig kontak met familie en vriende aan.
Bronne:
Dr Wietske Boon, BSocSci (Hons) Psych; MDIAC Play Therapy; PhD Early Childhood Education; childtherapist.co.za
https://www.news24.com/news24/analysis/analysis-covid-19-has-had-a-profound-impact-on-young-people-20210217 (Hierdie artikel is gegrond op die navorsingartikel, ‘What the science of child and adolescent development contributes to understanding the impacts of COVID-19’ wat in die South African Journal of Science verskyn het.) – https://sajs.co.za/article/view/8876
https://www.netwerk24.com/netwerk24/za/weslander/nuus/hoe-raak-covid-jou-kind-20210203-2