Skrywer: Alita Steenkamp
Feesgangers by die Suidoosterfees was vanjaar aangenaam verras met die sangtalent van ʼn hele paar karakters van hulle gunstelingsepie, Suidooster, wat by die fees ten toon gestel is. In die produksie Suidooster Stormsterk het bekendes soos Jawaahier Petersen (Kaashiefa) Eden Classens (Justin), Irvine van der Merwe (Nazeem,) Natasha van der Merwe (Susan) en Marco Spaumer (Tim) saam met Simone gewys hoe veelsydig hulle is. Hulle is nie net akteurs nie, maar ook geseën met ʼn wonderlike sangstem. Vir Simone was dit ʼn heerlike ervaring om na ses jaar op die verhoog te wees.
“Wat baie lekker was, is dat almal in die gehoor Suidooster-aanhangers was. Hulle het dus geweet ons is karakters in ʼn sepie wat ook iets anders kan doen en die druk was van ons af om perfek te wees. Vir my was dit ʼn gemaklike ervaring en ek is dankbaar, want ná ses jaar op die kassie het die verhoog my begin intimideer. Hierdie produksie het aan my gewys daar is eintlik niks om voor bang te wees nie, want muscle memory is ʼn wonderlike ding,” sê Simone met haar mooi breë glimlag.
Sy het vroeg in haar lewe met die verhoog kennis gemaak. Een van haar pa se vriende wat gereeld aan huis kom kuier het, was dr. Ben Dehaeck, die geesdriftige dramaturg en lektor aan die Universiteit van Stellenbosch se Dramadepartement. Dr. Dehaeck het in 1965 uit Vlaminge na Suid-Afrika gekom om hier te kom klasgee. Hy het die bekende Breughel-teater in Cloetesville, ʼn bruin woonbuurt van Stellenbosch, gevestig en menige Afrikaanssprekende akteur het daar sy of haar buiging gemaak. Simone onthou hoe hy hulle altyd saamgesleep het teater toe om na sy dramastudente se werk te kom kyk. Daar het die spreekwoordelike saadjie in goeie grond geval en uiteindelik het Simone besef haar kleintyddroom om veearts te word, het glad nie meer so aanloklik gelyk nie.
In ʼn gesprek met Simone kom jy gou agter sy is heelwat meer van ʼn introvert as ekstrovert. Sy verkies dit ook eerder om in kleiner groepe te kuier waar sy op die fyner detail kan fokus. Introverte, sê sy, is nuuskierige mense wat meer wil weet en ontdek en daarom juis nie altyd baie aandag op hulle wil hê nie.
“Ek hou daarvan om stories te vertel. Wat drama so ideaal maak, is dat dit ‘n beroep is wat jy tot op jou oudag kan beoefen.”
“Dis eintlik glad nie so snaaks dat ʼn akteur ʼn introvert is nie. Iemand soos Oprah Winfrey erken openlik dat sy ʼn introvert is. Dit was nog altyd vir my ʼn vreemde aanname dat mense in die vermaaklikheidsbedryf ekstroverte moet wees, want in alle ander beroepe kry mens tog beide. Ek wou graag drama gaan swot, want ek hou daarvan om stories te vertel. Of jy nou dans, sing, skryf of toneelspeel, dis alles deel van die storievertelkuns. Wat dit uit al die kunsvorms so ideaal maak, is dat dit ʼn beroep is wat jy letterlik tot op jou oudag kan beoefen,” sê sy.
ʼn Paar weke gelede het Simone in ʼn spannende storielyn gespeel wat kykers behoorlik omgekrap het. Haar karakter Bianca is ontvoer deur Dirk (Evan Hengst), ʼn jong man wat eendag in Ruiterbosch opdaag en dadelik vir Bianca bevriend. Uiteindelik blyk dit dat hy deel is van sy ma, die gewetenlose suster Ester Graaf (Marion Holm), se wraakplan op die Samsodiens. Vir weke lank het kykers gewonder wanneer die bloeddorstige Ester Bianca ernstige leed gaan aandoen. Toe Bianca ten laaste en met ʼn hele lot aksie van dié twee bevry is, kon ʼn mens weer asemhaal. Simone het haar so goed van haar taak as aktrise gekwyt, mens het skoon vergeet dat dit bloot ʼn verbeelde werklikheid is wat voor jou oë uitspeel. Simone lag en sê dit het selfs haar eie mense baie angstig en bekommerd gemaak.

Die wilskrag, uithouvermoë en kragdadigheid van Bianca het almal verstom, juis omdat hierdie karakter in die verlede al oor haar laat loop het. Simone sê sy het baie begrip vir haar karakter, maar sy probeer altyd so goed as moontlik om haar televisiekarakter van haar as mens te skei. “Ek dink dis ʼn goeie houding, want bitter min van die krisisse in Bianca se lewe spoel oor in my eie lewe. Bianca vertrou meer met haar kop as wat sy op haar instink staatmaak en dit tel dikwels teen haar. In hierdie storielyn het ons gesien hoe sy aanvanklik agterdogtig was oor Dirk, maar sy het hierdie stemmetjie binne haar geïgnoreer. Dit het haar amper duur te staan gekom. Ek kon tog ook haar deernis teenoor Dirk verstaan, want hy was uiteindelik aan haar kant terwyl sy aangehou is en het alles in sy vermoë gedoen om haar gelukkig te probeer maak,” sê Bianca.
“’n Mens het oor niks in die lewe beheer nie. Moenie jouself kwel oor dinge wat dalk verkeerd kan loop nie. Vat eerder elke dag soos dit kom en leef in die nou.”
Die pyn wat haar pa Hilton se dood ʼn paar weke gelede meegebring het, lê nog vlak in haar oë. Sy het nog altyd ʼn wonderlike verhouding met haar ouers gehad en dit was vir haar baie swaar toe hy onverwags gesterf het. ʼn Bestaande longkondisie het gemaak dat ʼn doodgewone verkoue tot sy dood gelei het. Simon sê met sy dood het sy besef dat ʼn mens oor niks in die lewe beheer het nie. Dit het haar opnuut laat insien dat ʼn mens nie jouself moet kwel oor dinge wat dalk verkeerd kan loop nie. Vat eerder elke dag soos dit kom en leef in die nou. “Die tye wat ek dit kon regkry, het ek agtergekom hoe mooi die oomblik is en hoe min daar eintlik is om oor te stres,” sê sy.
Vra ʼn mens Simone oor die goed wat haar werklik gelukkig maak, kom jy agter dit is beslis nie duur items of ingewikkelde kwessies nie. Sy droom wel daaroor om die wêreld te kan platreis, maar andersins is dit die klein dingetjies in die lewe wat aan haar vreugde bring. Haar gunsteling- Afrikaanse woorde is poenankies, ghoema-hare, iesegrimmig en ipekonders!
“As jy nie die kleiner dinge kan waardeer nie, sal jy beslis nie die groter dinge kan waardeer nie,” sê sy. Juis nou, in my rouproses, is dit die klein dingetjies wat eg aan my pa was, wat my emosioneel prikkel. Ek hou van dinge soos ʼn goeie boek of fliek, goeie geselskap en om naby diere te wees. Daar is min dinge wat soveel vreugde bring soos kwaliteit musiek en dit is besonders om gesond te kan wees. Iets wat ek nooit weer as vanselfsprekend sal aanvaar nie.”
Vir Simone was die rol van Bianca in Suidooster ʼn wonderlike seëning, want sy kon mense verkeerd bewys wat vir haar gesê het bruin akteurs kry nie werk nie of speel bloot stereotipe rolle. Die sepie Suidooster is een van die gewildste sepies op Suid-Afrikaanse televisie en stel kykers bloot aan verskeie subkulture binne die Afrikaanssprekende gemeenskap. Iets wat lankal nodig was. Simone is al van die begin van die sepie in 2015 deel van die span.
“Ek kon van 2015 af elke dag my passie beoefen,” sê sy. “Ek kon my lewe in Stellenbosch agterlaat en stad toe trek – iets wat ek nog altyd wou doen. Dit het my die geleentheid gegee om nuwe mense te ontmoet en nuwe ervarings te ondervind. Ek kon uiteindelik my horisonne verbreed. Die lekkerste is om daagliks na die studio’s te gaan en die werk te doen wat my so gelukkig maak. Ek herinner myself voortdurend daaraan hoe bevoorreg ek is om hierdie lewe te lei.”
