’n Basiese vinaigrette is so maklik om te maak en kan ’n gewone slaai in ’n spesiale bygereg omskep. Dis tipies ’n mengsel van twee derdes olie en een derde asyn of suurlemoensap, met geurmiddels soos kruie, speserye of mosterd. ’n Tuisgemaakte weergawe is beslis gesonder as ’n gekoopte weergawe.
Lewer ongeveer 250 ml
125 ml (½ k) olyf- of avokado-olie
60 ml (¼ k) appel-, of wit druiweasyn
20 ml (4 t) korrelmosterd
30 ml (2 e) heuning
30 ml (2 e) vars tiemieblaartjies of gekapte Italiaanse pietersielie
sout en peper na smaak
- Klits die olie, asyn, mosterd en heuning saam tot deeglik gemeng. Roer die tiemie by en geur na smaak.
- Hou die slaaisous in ’n skoon glasflessie in die yskas. Onthou dat olie in die yskas stol en dan kan dit baie vreemd voorkom. Haal dit so 10-15 minute voor die ete uit die yskas – dit word baie gou weer loperig.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Vinaigrette met komyn & kaneel: vervang die mosterd met 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil, 10 ml (2 t) gemaalde komyn en 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel. Gebruik koljanderblare en kruisement in plaas van die tiemie of Italiaanse pietersielie.
- Moet nooit spiritus-asyn vir ’n vinaigrette gebruik nie, want dit oorheers al die ander geure. ’n Asyn met ’n druiwe- of wynbasis of selfs die meer delikate appelasyn, is heerlik.