Die kombinasie van tamaties en geurige chorizo-worsies is heerlik. Sit die tert as ’n ligte ete met ’n groenslaai of as deel van ’n teetafel voor. Dis eintlik ’n ‘onderstebo’ tert, so die vulsel word met die deeg bedek en dan omgekeer, sodra die tert klaar gebak is, vir ’n indrukwekkende eindresultaat.
Lewer 4 – 6 porsies
Kors
375 ml (1½ k) koekmeel
75 ml (5 e) koue botter, in blokkies gesny
50 ml fyngerasperde pecorinokaas
10 ml (2 t) gekapte vars roosmaryn
125 ml (½ k) gladde maaskaas
1 eier, geklits
Vulsel
10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
100 g chorizo of enige ander gegeurde worsies, in skyfies gesny
400 g kersietamaties, gehalveer
5 ml (1 t) gekapte vars roosmaryn
2,5 ml (½ t) gerookte paprika of 5 ml (1 t) gewone paprika
peper
50 ml grofgerasperde pecorinokaas
- Kors: Plaas die meel, botter, kaas en roosmaryn in ’n voedselverwerker en meng tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die maaskaas en eier by en meng tot dit ’n sagte bal deeg vorm.
- Druk die deeg versigtig in ’n sirkel so groot soos ’n kleinbordjie uit, bedek met kleefplastiek en plaas vir 30 minute in die yskas.
- Vulsel: Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan en braai worsies vir ’n paar minute of tot geurig. Voeg die tamaties by en soteer tot die tamatieskilletjies net begin oopbars.
- Roer die roosmaryn en paprika by en geur na smaak met peper. Stel die hitte laer, sit die deksel op en prut vir 5 minute totdat die tamaties ’n sous vorm. Skep uit en laat dit afkoel.
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Skep die vulsel in ’n vlak, 22 cm tertbak en strooi die kaas oor.
- Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n sirkel uit, totdat dit groot genoeg is om net oor die rand van die tertbak te pas. Plaas die deeg oor die vulsel en vou dit tussen die tertbak se rand en die vulsel in.
- Bak vir 30 minute of tot die kors goudbruin is. Laat staan vir ’n paar minute sodat die sous effens intrek.
- Plaas ’n groot opdienbord oor die tertbak en keer dit versigtig maar vinnig in een beweging om. Die kors is dan onder met die tamatievulsel na bo gekeer. Sit voor met ’n groenslaai of ’n paar handevol roketblare.
Fotokrediet: Maak vyf/Make five, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Gebruik 125 g spek indien chorizo nie beskikbaar is nie.
- Die deeg vries uitstekend. Maak dit dubbeld aan en vries om later nog ’n tert te kan bak. Ontdooi die deeg oornag in die yskas en gebruik soos hier bo beskryf