Dun repies sappige steak met slaaibestanddele en ’n jogurtsous in ’n sagte tortilla toegevou, is ’n lekker geselllige ete propvol kleur en geur. Laat elkeen hul eie tortilla vul en vou terwyl julle om ’n tafel kuier.
Lewer 6 – 8 porsies
30 ml (2 e) vleis-speserymengsel (sien wenk) of gedroogde kruie van jou keuse
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
30 ml (2 e) suurlemoensap
500 g steak, oortollige vet verwyder
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
200 g kersietamaties, in kwarte gesny
6-8 groot volkoring-tortillas of -pitabroodjies
175 ml ongegeurde jogurt
125-250 ml (½-1 k) hummus
’n handvol roket- en basiliekruidblare
½ komkommer, met ’n groenteskiller in dun repe gesny
- Meng speserymengsel of kruie, olie en suurlemoensap saam. Bedek vleis daarmee en marineer 10-15 minute.
- Verhit ’n braaipan oor matige hitte. Braai steaks 4-5 minute aan elke kant, tot net goudbruin en gaar na jou smaak – verkieslik nog pienk in die middel. Die dikte van die steaks sal die gaarmaaktyd bepaal, maar moenie die vleis oorgaar maak nie, dan is dit droog. Geur die vleis na smaak terwyl dit braai. Die marinade se olie behoort voldoende te wees vir die braaiproses, maar verhit ’n bietjie ekstra olie, indien nodig.
- Skep steaks uit, laat effens afkoel en sny dan die vleis in dun repies. Onthou om teen die grein van die steak te sny, anders kan die vleis taai voorkom.
- Plaas intussen die tamaties met enige oorblywende marinade in die warm pan en soteer 1-2 minute. Skep uit en hou eenkant.
- Verhit tortillas vinnig oor matige hitte in ’n skoon, warm pan, sonder enige olie. Moenie meer as ’n minuut per kant verhit nie – anders word dit te hard om te rol. Of maak die pitas ook so in ’n pan of voorverhitte oond vinnig warm.
- Skep van die jogurt en hummus op elke tortilla en plaas roket- en basiliekruidblare, steakrepies, komkommer en tamaties in die middel van elke tortilla.
- Vou die tortilla oor die vulsel toe om ’n pakkie of rolletjie te vorm en steek met ’n tandestokkie vas as dit nodig is. Die tortilla kan ook in ’n keël gevou en so gevul word. Moenie te veel vulsel inskep nie, anders peul dit net uit of die tortilla skeur.
Fotokrediet: Kos is op die tafel!, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Heleen Meyer
Wenk
- Tuisgemaakte speserymengsel: Meng 15 ml (1 e) gemaalde komyn, 15 ml (1 e) gemaalde koljander, 15 ml (1 e) paprika, 30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie en 15 ml (1 e) gedroogde tiemie saam. Hou dit in ’n lugdigte houer en gebruik vir enige vleis-, hoender- of groentegeregte.