Jy sal nooit weer met gewone wortelsaai tevrede wees as jy hierdie growwer weergawe met Oosterse geure gemaak het nie. Dis heerlik saam met vark, hoender of vis. Die slaaisous kan ook vir ander slaaie gebruik word, veral ’n groen slaai met vrugte en groente, soos appels, druiwe, groenboontjies of broccoli.
Lewer 6 – 8 porsies
500 ml (2 k) fyngesnyde witkool
2 groot wortels, met ’n groenteskiller in linte gesny
1 appel, ongeskil en in dun skyfies gesny
’n handvol vars kruisementblare
’n handvol vars koljanderblare
’n handvol slaai-spruite van jou keuse
30 ml (2 e) sesamsaad
Slaaisous
60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
15 ml (1 e) sojasous
15 ml (1 e) rooiwynasyn
7,5 ml (½ e) heuning
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
sout en peper
- Slaai: Meng al die slaaibestanddele, buiten die spruite en sesamsaad, in ’n groot mengbak of pak dit op ’n groot slaaibord uit.
- Slaaisous: Meng al die bestanddele en geur na smaak.
- Strooi die spruite en sesamsaad oor die slaai en sit dadelik met die slaaisous voor.
Fotokrediet: Maak vyf/Make five, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Roer repies gaar hoender by vir ’n ligte maaltyd.
- Voeg ’n handvol rooi bosbessies by die slaai of vervang die spruite en sesamsaad met ’n handvol ongesoute kasjoeneute.
- Sojasous is redelik sout, hou dus jou southand lig.