Niçoise is ’n tipiese Franse slaai wat as maaltyd voorgesit en meestal op ’n groot slaaibord uitgepak word. ’n Mosterdslaaisous is baie gewild hiermee saam en ek is dol oor al die vars kruie in die slaai en sous.
Lewer 4 – 6 porsies
500 g baba-aartappeltjies in die skil
4 eiers
150 g dun groenboontjies, in kwarte gesny
’n mengsel vars jong slaaiblare met roket-, dille- en kruisementblare
200 g kersietamaties, gehalveer
2 x 170 g-blikke tuna, gedreineer
8-10 swart olywe, ontpit en gehalveer
15 kappertjiesade of 2-3 agurkies, in skyfies gesny (opsioneel)
Slaaisous
75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie
30 ml (2 e) druiwe- of appelasyn
5 ml (1 t) Dijon- (Franse) mosterd
1 klein knoffelhuisie, gekneus
15 ml (1 e) elk gekapte vars Italiaanse pietersielie, origanum en tiemie of dille
sout en peper
- Plaas die aartappels in ’n bietjie water met ’n knippie sout. Verhit oor matige hitte tot kookpunt, stel die hitte laer en prut vir 10-15 minute of tot net sag.
- Dreineer en laat dit afkoel. Halveer elke aartappel, maar behou die skil.
- Plaas die eiers in ’n kastrol met water en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Kook 6-7 minute. Skep uit, spoel af met koue water en kraak die doppe liggies. Laat dit heeltemal afkoel. Dop af en sny in wiggies.
- Giet kookwater oor die groenboontjies en laat dit vir ’n paar minute staan. Dreineer, spoel af en laat dit afkoel.
- Slaaisous: Klits al die bestanddele saam en geur na smaak.
- Pak die slaaibestanddele op ’n slaaibord en sit saam met die slaaisous voor.
Fotokrediet: Maak vyf/Make five, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Vervang die tuna met gerookte salm of selfs gepeperde makriel. Oorskiet-gebraaide vis is netso lekker.
- Die slaai is lekker piekniekkos. Plaas elkeen se bestanddele in ’n glasflessie of bakkie.