’n Baie gesonde slaai en heerlike alternatief vir aartappelslaai of ’n ander stysel saam met braaivleis. Vegetariërs is dol oor die slaai, omdat dit ook ’n volledige ete kan wees. Die kombinasie van geure en teksture is altyd vir mense ’n verrassing. Die slaaisous is ook heerlik saam met ’n hoender- of groenslaai.
Lewer 6 – 8 porsies
200 g (1 k) rou stampkoring (pearled wheat)
1 heel kaneelstokkie
750 ml (3 k) water
’n knippie sout
250 ml (1 k) bevrore of geblikte heelpitmielies, deeglik gedreineer
1 x 420 g-blik kekerertjies, gedreineer
10 sagte (Turkse) gedroogde appelkose, in klein blokkies gesny
75 ml (5 e) sultanas
75 ml (5 e) sonneblomsaad, gerooster
30-45 ml (1 e) elk grofgekapte vars koljanderblare en vars kruisement
Slaaisous
125 ml (½ k) olyf- of avokado-olie
25 ml appel- of wit druiweasyn
40 ml (4 t) suurlemoensap
10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
7,5 ml (½ e) gemaalde komyn
2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
40 ml (4 t) gekapte vars koljanderblare
20 ml (2 t) gekapte vars kruisementblare
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- Plaas stampkoring met kaneelstokkie, water en sout in ’n kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag hitte en prut 30-40 minute met die deksel of tot net sag.
- Dreineer in ’n sif of vergiettes, spoel af met koue water en laat vir ’n paar minute afdrup. Skep in ’n groot mengbak en laat afkoel.
- Slaaisous: Klits intussen al die bestanddele saam en geur na smaak.
- Meng die orige slaaibestanddele, behalwe die vars kruie, versigtig in by die stampkoring en skink ⅔ van die slaaisous oor. Geur na smaak.
- Indien verkies, verkoel eers die slaai 1 uur in die yskas. Roer dan die orige slaaisous deur en garneer met vars kruie voor dit voorgesit word.
Fotokrediet: Kos is op die tafel!, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart