’n Vinnige alternatief vir ’n gebakte kaaskoek, met ’n baie romerige tekstuur. Dis een van dié resepte waarvoor daar altyd gevra word, amper elke keer as iemand dit proe. Dis so maklik om te maak en kan lank voor die tyd gemaak word – perfek vir ’n kuiergeleentheid.
Lewer 10 – 12 porsies
Kors
1 x 200 g-pakkie suurlemoenroomkoekies (Lemon creams)
100-125 g (100-125 ml) botter, gesmelt
Vulsel
2 x 397 g-blikke kondensmelk
250 ml (1 k) suurlemoensap
200-250 g geroomde of gladde maaskaas
250 ml (1 k) vars room
2 x 115 g-blikke grenadellapulp
- Kors: Breek die koekies in ’n voedselverwerker tot fyn krummels. Meng die botter deeglik deur en hou eenkant.
- Vulsel: Plaas die kondensmelk en suurlemoensap in ’n groot mengbak en klits tot dit verdik. Klits die room- of maaskaas en room deeglik by en roer die grenadella by.
- Voer die bodem en kante van ’n 24 cm-koekpan met kleefplastiek uit sodat daar genoeg oor die rand bly hang om die kaaskoek mee te bedek. Andersins kan 10-12 individuele koppies of klein bakkies op dieselfde manier gebruik word. Skink die mengsel in die pan. Skep die beskuitjiekrummels bo-op, versprei eweredig en druk liggies vas.
- Bedek kaaskoek met die kleefplastiek en plaas nog ’n laag bo-oor. Vries oornag of tot benodig. Verwyder die boonste laag kleefplastiek.
- Keer die kaaskoek op ’n verkoelde bord uit (sit dit vooraf in die vrieskas). Trek die kleefplastiek af en sit dadelik voor. Sny met ’n groot skerp mes in skywe.
Fotokrediet: Kos is op die tafel!, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adriaan Vorster
Wenke
- Vries die kaaskoek in ’n 1,5-2 liter broodpan en sny in skywe. Dit kan tot 2 maande gevries word.
- Vervang die grenadella met 125 g vars frambose. Verpulp en roer soos die grenadella in.