Hooffoto: Melissa Myburgh in die rol van Mart
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad.” – Dalena van Vuuren in Die dinge van ’n kind
In 1994, toe Marita van der Vyver se boek, Die dinge van ’n kind, die eerste keer uitgegee is, kon die meeste lesers aanklank vind by die karakters en die tydvak, want hulle was waarskynlik self deel daarvan in die 70’s. Die jare van storm en drang in die puberteitsjare, politieke leuens en die grensoorlog – waar “agtienjariges as ‘helde’ moes sterf voor hulle nog werklik begin leef het”. Die jare waar die verlies van onskuld op verskillende vlakke deel uitgemaak het van baie se ervaringe.
Yolanda Wessels skryf in 2016 in ’n boekresensie op LitNET: “Ek kon as hoërskoolmeisie identifiseer met Die dinge van ’n kind; ek wás ‘n kind, dit was maklik. Vandag, 22 jaar later, kon ek lees met ‘n ander perspektief, terug uit die oogpunt van ‘n jong, onseker meisie (soos ek ook in 1994 was) en die klok aandraai na vandag, die jaar 2016, as volwassene.”
Nou, in 2022, glo ek talle kykers gaan dieselfde voel oor die televisiereeks en dalk sal die jongeres, wat nie self deel was van die 70’s nie hulle ouers en grootouers beter verstaan en sal hulle moet saamstem: “Ons ouers was eintlik cool!” En hopelik verstaan hulle dan ook beter wat in Suid-Afrika aangaan.
“Ek wil nie hê dit moet bloot net ʼn nostalgiese terugblik vir ʼn ouer generasie wees nie. Dit gaan juis oor jongmense se emosies wat universeel is. Vir die jong mense moet jy vertel hoe dit was, en vir die ouer kykers moet jy herinner hoe dit was.” – Marita van der Vyver oor die televisiereeks in ’n artikel op Afrikaans.com
Afrikaans.com het met drie van die aktrises in die reeks gesels en deel graag hulle perspektiewe met ons lesers.
Melissa Myburgh vertolk die rol van Mart Vermaak, aanvanklik die verpersoonliking van onskuld en amper ’n metafoor vir kindwees. Mart kyk met bokkieoë en nuuskierigheid na die lewe en wêreld. Na gelang die reeks ontvou, kom ons agter dat dit Mart se grootwordproses uitbeeld. “Hoe die lewe haar onskuld vat en haar bietjie knak. Aan die einde van die reeks is sy ’n grootmens. En hoewel sterker en meer seker van haarself, is sy maar soos ons almal, geskend en seer.”
Mart is ’n jong meisie in die 70’s. Was dit vir jou as aktrise uitdagend om jouself te verplaas na ‘n tydperk wat op ’n sosiale en politieke vlak baie anders gelyk het as die een waarin jy jouself nou bevind?
Melissa vertel dat dit ’n interessante proses was om Mart wat in die 70’s ’n skoolmeisie was en in ’n tydperk grootgeword het wat op sosiale en politieke vlak soveel anders was as die een is waarin sy (Melissa) grootgeword het – naamlik die nuwe Suid-Afrika – te speel. “Die grootste uitdaging was om nou skielik in hierdie wêreld van Apartheid te moes tree. Ek loop op ’n dag op stel en daar hang ’n “Slegs blankes”-bordjie. Ek het my oor ’n mik geskrik. Maar ek moes as Mart myself inleef, asof dit die wêreld is waarmee ek grootgeword het.”

Mienke Ehlers in die rol van Dalena
“Ons moet onthou, sodat ons nooit weer dieselfde foute maak nie”
Melissa sê verder: “Wat dit wel vir my beteken het om die rol te vertolk, is dat ek nou daai deel van die geskiedenis deur ’n nuwe lens sien en verstaan. Mens leer van Apartheid in die skool, maar nou is dit asof die informasie gaan insink het. Ek het so baie navorsing gedoen om hierdie tydperk, die politieke klimaat van die land en sy mense te kon verstaan. Aanvanklik was dit ontstellend, aangesien dit so ver verwyderd is van hoe ek geleer is, maar ek dink vir my, en hopelik die kykers, is hierdie ’n geleentheid om herinner te word vanwaar ons land vandaan kom. Ons moet onthou, sodat ons kan leer uit ons foutiewe keuses en nooit weer dieselfde foute maak nie.”
Marita van der Vyver se boek beeld die verskillende karakters op ’n baie spesifieke manier uit – en lesers het waarskynlik reeds vooropgestelde prentjies in hulle koppe gevorm oor hoe die karakters moet wees. Ons wou by Melissa weet hoe sy dit hanteer het. Sy antwoord: “Toe ek die rol kry was my eerste gedagte natuurlik, YAY ek’s so bly, maar kort daarna was al wat ek kon dink: ‘Mart is blond. Ek is nie blond nie. Ek is ook nie so goed soos Cintaine Schutte nie (wat die verhoogproduksie gedoen het). Mense gaan my haat’.
“Ek dink dit was moontlik my grootste dryfkrag om so hard te werk, net die feit dat die hele land alreeds vir Mart ken, en ek kan hulle nie teleurstel nie. Meer as dit, ek is ’n massiewe aanhanger van Marita van der Vyver, so om haar storie eer te bring was my grootste prioriteit.
“Ek het geweet ek sou nooit kon voldoen aan die beeld van Mart in lesers se koppe nie. Ek weet self as my gunstelingboeke in films of reekse gemaak is, hulle nooit dieselfde lyk nie. Daarom het ek besluit, my werk is nie om die beeld in die lesers se kop te probeer wees nie. My werk is om die kykers te oorreed ek is ’n beter Mart as die beeld in hulle kop. Ek was toe al die pad Mart, en ek sal hulle verlief maak op my weergawe ook.”
Melissa vertel dat die lekkerste deel van die verfilmingsproses die verhouding is wat sy met Mienke (Dalena) gebou het. “Ons vriendskap het begin in die gange van die koshuis waar ons geskiet het, en nou sit ons aande verby op ons eie kombuisvloer. Ons het saam gebou aan hierdie dinamika van twee meisies uit verskillende ouerhuise, met verskillende waardes en dinge waarin hulle glo. Twee meisies wat nie gemaak was om vriende te wees nie, het mekaar gevind en gekies. En ons verhouding as Melissa en Mienke het so mooi parallel met Mart en Dalena s’n geloop. Ek het haar hand vasgehou die eerste dag op stel en vir haar gesê alles gaan oukei wees, en sy het my rug gekrap wanneer die druk my begin oorweldig het.”
Oor wat vir haar die uitdagendste deel van die hele proses was, sê Melissa dadelik: “Om weer te moet tiener speel. Om ’n tiener te wees, is een van die moeilikste dinge op aarde. Jy voel alles hiperbolies. Hartseer, teleurstelling, seer, maar meer as enige iets verliefdheid, word in die oortreffende trap ervaar.
“Mart is ’n romantic. En omdat dit so belangrik was vir my om eer te bring aan haar, het ek werklik probeer om daai tienerangs te voel. Deur Mart het my hart so baie gebreek. Ek moes weer ’n tiener wees. Weer deur die grootwordproses gaan. Daai proses is seer, en moeilik, dis ontnugterend. Maar alhoewel dit uitdagend was, was dit alles die moeite werd. Ek het so baie geleer van myself, van die wêreld waarin ek lewe. En al het my hart elke dag op stel gebreek, voel ek ek kon weer liefde soos ’n kind ervaar. En dis die mooiste ding op aarde.”

Mienke Ehlers en Augusta Zietsman

Cintaine Schutte

Augusta Zietsman in die rol van Suna
“Moenie al die dinge van ’n kind aflê nie. Onthou om soms te glo soos ’n kind.”
Melissa voel dat grootword iets is wat ons almal moet doen, “anders sal die wêreld jou opeet en uitspoeg, maar moenie vergeet om soms die kind binne jou lief te hê nie. Om die mooi in die lewe te sien. Moet dus nie al die dinge van ’n kind aflê nie. Onthou om soms te glo soos ’n kind.”
Melissa sluit af en sê dat sy dink daar is baie lesse wat die reeks ’n mens kan leer. Soos om te leer uit ons land se foute, om altyd liefde te kies bo alles en wat dit beteken om groot te word.
“Maar ek dink die reeks bied meer as net ’n lewensles. Dis ’n omhelsing van ’n generasie wat soms vergete voel. Dis ’n drukkie vir elke grootmens se innerlike kind wat jare terug seergekry het. Dis erkenning aan die kinders wat soms in die skaduwee agtergelaat word. Dis alles wat dit moet wees.
“Ek dink mense moet dit kyk en gehoor voel … gesien voel. Hulle moet wegloop en hulle jonger self weer begin liefhê. Ek dink dit kan ’n genesingsproses aanhelp vir families, verhoudings en ’n land wat steeds sit met die sere en skete van ons ouers en voorouers se besluite.”
Mienke Ehlers speel die rol van Dalena van Vuuren. Sê Mart in die 1994-boekweergawe (p.3) nadat sy Dalena in die koshuis ontmoet het: “Dis hoe ek Dalena van Vuuren leer ken het. Daarna sou niks ooit weer dieselfde wees nie.” – Profetiese woorde, inderdaad!
Mienke werk die afgelope vyf jaar agter die skerms in die kunsdepartement waar sy geleer het van steletiket, hoe om bedrywig en bedagsaam te wees en tot die besef gekom het dat elke lid van die span belangrik is. Mienke vertel dat hoewel sy haar werk en stelontwerp ongelooflik baie geniet, het sy tog op ’n stadium ongeduldig gewonder wanneer dit dan haar beurt is vir ’n rol. “As ek geweet het Dalena wag vir my, sou ek baie meer geduldig kon wees. Die verfilming van Dinge van ‘n kind was een groot avontuur. Dit het vriende vir ’n leeftyd gemaak en ek het op ’n baie intieme, geestelike en sielkundige vlak gegroei. Die geleentheid beteken die wêreld vir my en ek weet dit is net genade.”
Oor haar karakter, Dalena, sê Mienke: “Dalena is beslis ‘n rowwe diamant. Die algemene ervaring en interpretasie van haar karakter is dat sy rebelleer. Ek glo wel dat sy ’n ongelooflike lus vir die lewe het – tot op die punt waar sy ’n gevaar word vir haarself. Ek sou haar verder beskryf as braaf, briljant en onweerstaanbaar, maar ongelukkig ook impulsief en gevaarlik. Sy is beslis een groot avontuur.”
“Moenie te veel dink oor die dinge waaroor jy nie beheer het nie. Pas jou kop op, praat mooi met jouself …”
Dalena se verhaal is ’n moeilike een en sy worstel veral met haar geestesgesondheid. Ons wou weet of dit moeilik was om die rol te speel omdat sy (Mienke) nie Dalena se ervarings gedeel het nie. Sê Mienke: “Soos met enige boek wat in ’n reeks omskep word, het mense baie vooropgestelde idees oor hoe ’n karakter moet lyk, klink en optree. Dit stel nogal baie eise aan ’n akteur. Ek kan dink dis nogal ’n moeilike ding om mense se vertroue te wen met jóú interpretasie van ’n karakter. Daarom het ek besluit om die boek te bestudeer om Dalena se prentjie vir my persoonlik te skep. Haar maniertjies, los heupe, impulsiewe uitbarstings en sin vir humor is mooi deurdink en ek het baie ure neergeskryf oor hoe ek haar gaan uitbeeld. Ek het wel die hele proses gestop en oor begin toe ek besef sy ly aan depressie. Ek wou dit met soveel respek moontlik hanteer omdat ek dit mooi verstaan en het regtig gefokus om elke stukkie pyn selektief te deel – soos die storie dit vra.
“Gelukkig vir my het Marita haar so mooi in die boek beskryf en dit was nie nodig om veel meer in te kleur nie. Ek glo jy moet met enige karakter wat jy speel op een of ander vlak kan vereenselwig. Ek het geleer om ook haar foute lief te hê en my hart kon saam breek elke keer wat sy haar kop stamp. Ons as akteurs het die ongelooflike voorreg om so bietjie meer uit die lewe te kry as net jou eie ervarings en emoses. Ek trek ’n paar skoolskoene aan en kry die geleentheid om weer soos ’n kind te dink, droom en speel. Alhoewel die karakteranalise uitdagend was, bly dit die grootste voorreg om te kon speel, skep en vertel.
Mienke sluit af: “Ek wil hê jong meisies moet die reeks kyk en die volgende les daaruit leer: Moenie te veel dink oor die dinge waaroor jy nie beheer het nie. Pas jou kop op, praat mooi met jouself en dan natuurlik, seunskinders is nie al wat saak maak nie!”
Augusta Zietsman speel die rol van Suna, wat aanvanklik naїef en onbeholpe voorkom, maar later in die reeks, kom ’n mens agter hoe die seer van haar verlede haar wyser gemaak het. “Suna het dalk deur moeilike tye gegaan, maar sy het nooit ophou lag nie.”
“Ek dink ons generasie is bevoorreg om meer oop en eerlik te kan praat.”
Die verhaal speel in ’n spesifieke tydvak af en ons wou weet hoe Augusta die uitdaging aangepak het. “Alhoewel dit ’n ander tyd was, glo ek tienerprobleme en angs bly universeel. Dit was wel opvallend hoe min dinge openlik gesê word. Ek dink ons generasie is bevoorreg om meer oop en eerlik te kan praat.” Augusta sê ook dat die reeks haar net weer daaraan herinner het “hoe ongemaklik dit is om groot te word”. Of ’n mens dit nou wil weet of nie, “die verlies aan onskuld is onafwendbaar, maar nodig om vorentoe te gaan”.
Wat beteken hierdie rol vir jou en jou loopbaan as aktrise? Sê Augusta: “Om deel van hierdie reeks te wees was regtig ‘n ongelooflike belewenis. Ek weet nie wat dit vir die pad vorentoe beteken nie. Vir my is dit belangriker om aan die kreatiewe proses deel te neem, dit te geniet en in te neem. Wat daarna gebeur, is minder belangrik.” Augusta is tans besig om ’n komediereeks te verfilm en werk aan ’n debuut- musiekalbum.
Hoekom moet mense Die dinge van ’n kind kyk? “Die reeks bied vir mense ’n blik na die verlede. Vir diegene wat nie daar was nie sal dit ’n meer geslote wêreld wys, en vir die wat dit beleef het moontlik ’n spieël van herinnering ophou.” Aldus Augusta
“Ek hoop jonger mense kyk die reeks. Dis belangrik om te praat oor trauma, want ons kan net van mekaar leer as ons daaroor praat.” – Cintaine Schutte
Kyk die reeks
Dinge van ’n kind is Dinsdae, 20:00 op kykNET (kanaal 144) te sien. (Vanaf 10 Mei 2022)
Bronne:
https://www.litnet.co.za/boekresensie-die-dinge-van-n-kind-deur-marita-van-der-vyver/
Kyk ook:
https://kyknet.dstv.com/program/dinge-van-n-kind/die-storie-agter-die-storie-dinge-van-n-kind/video
Die tegniese span en akteurs gesels meer oor die verskillende tydvakke waarin die nuwe drama, Dinge van ‘n kind, afspeel en hoe hulle te werk gegaan het om dié drie tydlyne van mekaar te onderskei.
Kyk die onderhoud met die drie Marts deur Maroela Media. Drie aktrises, een Mart in “Dinge van ‘n kind”. Klik hier