Persverklaring: Suidoosterfees
Opkomende dramaturge wat graag hulle werk op ’n professionele verhoog wil sien, kan nou aansoek doen vir deelname aan die Jong Sterre-mentorskapprogram. Dié projek word deur die Suidoosterfees, NATi, die Jakes Gerwel Stigting, Kunstekaap en Kunste Onbeperk aangebied, en onderskraag belowende skrywers deur hul verhoogtekste te ontwikkel, af te rond en by die Suidoosterfees op te voer. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 27 Mei 2022.
By vanjaar se Suidoosterfees, wat onlangs in Kaapstad aangebied is, het vyf dramas deur NATi Jong Sterre gedebuteer: Stephren Saayman met die klug Dankie, maar nee dankie!; Heloïne Armstrong se Maanskyn en dorings; Melissa Myburgh met die tragikomedie Met liefde, Vincent; Henque Heymans met Oom Bey, my pa en Jane Mpholo met The Dawn. Dié produksies is met groot entoesiasme deur feesgangers ontvang.
Die mentorskapprogram waarvoor aansoeke nou oop is, sluit ’n skrywersresidensie van drie weke in Somerset-Oos in, waar deelnemers hul tekste onder leiding van die aktrise en teatermaker Lee-Ann van Rooi verhooggereed gaan kry. Die skrywersverblyf in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis duur van 25 Julie tot 14 Augustus 2022. Daarná word die tekste onder leiding van Rafiek Mammon in teaterproduksies omskep wat in 2023 by die Suidoosterfees in Kaapstad op die planke gebring sal word. Uittreksels uit die tekste sal ook later vanjaar by die KKNK Teksmark opgevoer word.

Voornemende aansoekers moet teen 27 Mei 2022 ’n e-pos na Theo Kemp stuur by theo@jgf.org.za, en aansoeke moet vergesel word van die teks van ’n nuwe toneelstuk in Afrikaans of Engels, of ’n uittreksel uit ’n nuwe teks, ’n kort CV, asook ’n motiveringsbrief vir deelname aan die program. Geen toneelstuk wat reeds voorheen opgevoer is, of wat klaar deur die proses van teksontwikkeling gegaan het, sal oorweeg word nie.
Suksesvolle kandidate se name sal op 24 Junie 2022 aangekondig word. Die Jakes Gerwel Stigting sal deelnemers se reiskoste na en van Somerset-Oos, sowel as hul akkommodasie, spyseniering en onderrig by Paulet Huis dek. Die Suidoosterfees en NATi sal die produksiekoste van die stukke dra. Kunstekaap sal ondersteuning bied in die vorm van repetisielokale, dekor, rekwisiete, kostuums en tegniese hulp.
Die ondersteuning en mentorskap van talentvolle individue wat ’n helpende hand benodig, eer die nalatenskap van die ontslape professor Jakes Gerwel, wat ’n leidende rol gespeel het in die ontstaan van die Suidoosterfees, ’n onderneming wat inklusiwiteit in die kunste bevorder. NATi is ’n organisasie sonder winsbejag wat fokus op die bevordering van inklusiewe Afrikaanse teater en tot voordeel van die breë Suid-Afrikaanse kunstesektor strek.
Oor die NATi Jong Sterre-projek sê Jana Hattingh, die Suidoosterfees se uitvoerende hoof: “As ’n fees wat ’n sterk fokus op ontwikkeling plaas, is ons besonder trots op die projek. Nie net word geleenthede vir belowende kunstenaars geskep nie, maar sinergie tussen jong en gevestigde kunstenaars is deur al die fases van die projek verweef.”
EINDE
Vir meer inligting, kontak Faren Esau by Faren.Esau@media24.com.