Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Wat is in ’n naam? Alles … en meer.
Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa het op 10 Maart 2022 tydens die jaarlikse ondertekeningseremonie van die aandeelhouerkompak-ooreenkoms tussen die departement en alle uitvoerende hoofde en voorsitters van die openbare entiteite onder sy portefeulje, aangekondig dat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se naam moet verander en dat dit “ononderhandelbaar” is.
Heindrich Wyngaard sê in ‘n meningsartikel op Netwerk 24 (18 Mei 2022) dat die minister glo beweer het dat “’n groot deel van die Paarl, waar die monument en museum geleë is, en omliggende gebiede se taalgemeenskappe uitsluit.” Dit, afgesien daarvan dat die “ATM reeds soveel energie en hulpbronne inspan om sy missie te volbring om onder meer ‘die diversiteit van Afrikaans deur inklusiewe programme en aktiwiteite te bevorder’ en om ‘uit te reik na ander taalgemeenskappe en instellings deur opvoedkundige programme en kulturele aktiwiteite’.” Wyngaard sê ook dat dit nie lyk asof die minister in ag neem dat die ATM juis ten doel het om “wedersydse respek tussen Afrikaans en ander inheemse tale te bevorder nie”.
Elkeen se mening tel
In reaksie het die ATM besluit om ‘n konsultasieproses te begin om die “haalbaarheid van ‘n moontlike naamsverandering te ondersoek”. Die ATM-raadslede sal dus op 26 en 27 Mei 2022 ‘n strategiese beplanningsessie hou, wat dan deur ‘n openbare vergadering op 28 Mei in die Strooidakkerksaal in die Paarl opgevolg sal word. Die publiek sal by die vergadering die geleentheid hê om hulle insette te lewer. Afrikaans.com ondersteun die proses van openbare deelname en moedig die publiek aan om insette te lewer. Elkeen se mening tel.
ATM woeker vir alle taalgemeenskappe
‘n Mens hoef maar net die ATM se webtuiste te besoek om te besef wat die omvang van hierdie instansie se werk behels. En kyk ‘n mens verder na die simboliek agter die monument, is dit duidelik dat hierdie monument soveel meer is as ‘n monument net vir Afrikaans. Die monument verteenwoordig die tale wat Afrikaans gevorm het, nl. die Europese tale, die Indonesiese (Maleis), Khoi- en Afrikatale. En ofskoon Suid-Afrika beskou word as die geboorteplek van Afrikaans, bring die monument juis Afrikaans in konteks met Afrika – “om te wys dat ons met Afrika praat”.
Ondersteun die ATM
Die ATM moedig die publiek aan om die instelling te ondersteun en die geleenthede wat gereeld aangebied word, by te woon. “Die Taalmonument het ook onder meer oudiogidse in Afrikaans, isiXhosa, Engels en Frans beskikbaar waardeur die simboliek van hierdie ikoniese beeldhouwerk verduidelik word.” Gaan lees gerus meer op die ATM se veeltalige webtuiste.
Bronne:
Persverklaring deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) – uitgereik 18 Mei 2022
Die simboliek van die ATM. Klik hier
Meningsartikel deur Heindrich Wyngaard
Vir ‘n virtuele toer van die monument. Klik hier