Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Raak stil … en leef bewustelik.
’n Mens hoor deesdae gereeld die term mindfulness. In Afrikaans sou ’n mens dit kon vertaal met “bewustelik” of “om bewustelik te lewe”. Volksvreemd? Glad nie. Afrikaans.com het met die skrywer en meditasie-instrukteur Johannes de Villiers gesels. Johannes het reeds twee boeke spesifiek oor bewustelikheid geskryf. Die eerste boek het in 2018 verskyn met die titel Kalmte in die malle gejaag. In 2020 het sy boek Blydskap, Mindfulness-wenke vir ‘n vreugdevolle lewe, verskyn. Sy jongste boek, Meer as jou seerkry, is gebaseer op die insig wat hy verwerf het toe sy eie lewe uitmekaar geval het. Hy gesels met “deskundiges en terapeute, maar ook gewone mense wat deur die lewe platgevee is”. Hierdeur kom hy tot die slotsom dat groei wel kan plaasvind, al is ’n mens stukkend.
Maar wat is bewustelikheid?
Johannes sê: “Bewustelikheid verwys na die stilwordpraktyke wat oor eeue heen in baie wysheidstradisies onderrig is. Die Boeddhiste en Taoiste in die Ooste onderrig dit reeds eeue lank. In die Weste het die Christelike woestynvaders en ander mistieke tradisies dit ook onderrig.
“Die laaste 30 tot 40 jaar het daar toenemend onder Westerse sielkundiges en terapeute ’n belangstelling opgeduik in hoe dié tegnieke mense kan help om hul eie gevoelens, gedagtes en lewe beter te bestuur.
“Die kern van bewustelikheid is meditasie, die tegnieke waarmee mens bewustelikheid inoefen. Deur oefeninge te doen waarin jy jou vermoë slyp om jou aandag in die realiteit te fokus eerder as in die geraas in jou kop, kweek ’n mens ’n tipe rustigheid, deernis en later ook wysheid.”
Is daar wenke oor hoe om meer bewustelik te lewe?
Johannes vertel dat hy nie regtig lyste wenke en tegnieke het wat spesifiek op angs of depressie of stres gemik is nie en ervaring het hom geleer dat hoe makliker en eenvoudiger ’n antwoord is, hoe meer onwaarskynlik is dit dat dit gaan werk. Daarom sê hy dat die sinvolste raad juis voortspruit uit ander se stories. Mense moet leer om in stilte met hul pyn te sit en dan te vra wat die pyn vir hulle leer.
Met die skryf van sy jongste boek, sê hy, het hy tot ’n hele paar insigte gekom. Sê Johannes: “Groei is nie om veerkragtig terug te bons na wie jy was voor dinge verkeerd geloop het nie. Jy sal nooit weer dieselfde mens wees as voor die groot verlies of ramp nie. Wat wel belangrik is, is om te besef dat jy kan oorleef – en selfs sterker anderkant kan uitkom.” Dit is duidelik uit die verhale van die mense met wie Johannes praat. Hieruit leer ’n mens “dat pyn die saadjie kan wees vir iets kosbaar. En deur ’n bewustelike benadering te volg, kan ’n mens as ’n nuwe, wyser en meer deernisvolle mens aan die anderkant uitkom.”
Is daar steeds ’n stigma verbonde aan meditasie en soortgelyke tegnieke?
In die verlede was mense half bang vir meditasie omdat baie mense gemeen het as jy mediteer gaan jy by ’n sekte moet aansluit of in snaakse tale praat. Soos wat mense egter gaandeweg begin besef het dis net ’n doodgewone oefening vir jou brein en gemoed se gesondheid (soos wat jy jou lyf se spiere in ’n gym sal oefen) het mense meer ontvanklik geraak.
Niemand is gevrywaar van emosionele swaarkry nie
Johannes sê dat hoewel hy reeds jare lank mediteer, boeke oor die onderwerp geskryf het, en so meer, dit hom nie immuun gemaak het teen emosionele swaarkry en pyn nie. Covid het hom genoodsaak om sy joga-ateljee en gastehuis te sluit en in 2021 het hy in ’n diepe hartseer verval oor sy lewe wat so anders uitgedraai het as wat hy dit wou hê. Hier was hy – ‘n man in sy veertigs, werkloos, en sy drome aan skerwe.
’n Nuwe boek word gebore
Blurp: “’n Boek vol deurleefde wysheid en praktiese wenke – ‘n kompas vir groei en ‘n nuwe lewe.” — Erns Grundling
Johannes vertel meer oor sy eie stryd en hoe hy uiteindelik sy uitgewer, Tafelberg, genader het en gevra het of hulle sou belangstel in ’n boek oor hoe mindfulness mens met gebrokenheid kan help. En so het Meer as jou seerkry gestalte gekry.
Al ons pyn is eintlik gedeelde pyn
“Hartseer in jou eie hart is ’n tweesnydende swaard. Eerstens kan dit jou baie eensaam laat voel omdat niemand daardie onsigbare seerkry van jou regtig raak kan sien nie. Maar genadiglik doen ek al jare lank saam met my meditasie ook deernispraktyke – dis ’n meditasiestyl wat jou help om empatie met ander te kweek en te besef hoe al ons pyn eintlik gedeelde pyn is.
“Ek het gevolglik begin besef hoeveel swaarkry ander mense ook op die oomblik dra. Aanvanklik was dit net die lewensverlies, siekte en geldprobleme wat met Covid verband hou. Maar hier halfpad deur 2021 was dit asof almal se lewens net onder die gewig van die ontwrigting meegegee het. Mense se huwelike het verbrokkel, depressie en angs was meteens oral, kanker en hartprobleme het oral kop uitgesteek.
“Ek het met ’n vriend gesit en koffie drink terwyl hy vertel het hoe ’n ongeluk hom permanent vermink gelaat het, toe die gedagte by my opkom: ‘Ons is stukkend.’ My vriend, wie se skedel tydens ’n ongeluk deur ’n staalpaal deurboor is, se stukkendheid was veel meer sigbaar, maar die res van ons het almal stukkendheid in ons rondgedra. Stukkende huwelike, stukkende loopbane, stukkende drome.”
Hoe ervaar ander seerkry en pyn?
Johannes vertel dat hy nie net op sy eie kennis en ervaring steun nie, maar om vir ’n boek al die wyse mense wat hy ken, op te soek en hulle oor hul insigte te vra. Hierdie insigte deel hy dan in sy boeke. Vir dié jongste boek oor seerkry het hy dus ’n magdom mense gaan opsoek wat deur trauma en hartseer is, en hulle gevra: “Hoe oorleef jy in jou stukkende lewe?”
Die mense met wie hy gesels het, was uiteenlopend: Een is as kind seksueel aangerand. Een is op ’n jong ouderdom deur ’n beroerte gestrem gelaat. Een leef met MIV. Een is deur ’n kaper ontvoer. Een is in die openbaar verneder. En talle ander. Almal moes met iets leer saamleef wat hul lewe omgedop het.
Post-traumatiese groei: Hoe doen ’n mens dit?
Sê Johannes: “Wat ek gevind het, is dat baie mense inderdaad ná ’n verlies post-traumatiese stres beleef. Maar daar is ook baie mense wat ’n ander fenomeen beleef: Post-traumatiese groei. Hoewel niemand van hulle dankbaar is oor die teenspoed wat hulle getref het nie en hoewel almal sou wou hê dat dit eerder nie moes gebeur het nie, vertel baie dat hulle nou sterker mense is as vantevore. Hul teenspoed het hulle geleer hulle is sterker as wat hulle eens vermoed het, hulle het geestelike verdieping beleef, hulle het ’n nuwe sin vir roeping en dankbaarheid vir hul lewe.
“Een van die vernaamste vereistes om so te kan groei, is dat jy by ’n plek van aanvaarding van jou nuwe lewe moet kom. As teenspoed jou tref, beteken dit ’n ou lewe (’n ou huwelik of ou werk of ou gesondheid) het verlore gegaan. Jy gaan nooit weer terugbons na die mens wat jy voorheen was nie. En vir baie mense is dit moeilik om dit te aanvaar. Hulle lewe word oorheers deur die drang om weer na hul ou lewe terug te keer. Hulle is bitter oor wat hulle nie meer het nie.
“Dis verstaanbaar. Maar bewustelikheid/mindfulness leer ons dat groei net kan plaasvind in die werklikheid waarin jy jou hier en nou bevind, nie in die verlore lewe wat nie meer bestaan nie. So jy moet rou, jy moet huil, jy moet indien nodig jou hare uit jou kop trek, maar op een of ander manier moet jy die realiteit in die gesig staar dat jou ou lewe verby is en nooit weer gaan terugkeer nie.
“Jy is nou in ’n nuwe lewe. Nie een wat jy gekies het nie. Nie een waarvoor jy aanvanklik weet hoe om dankbaar te wees nie. Maar hierdie lewe is die enigste plek waar jy kan groei en vir ander van diens kan wees.”
Hoe kan meditasie help om met aanvaarding te groei en tuis te kom in die lewe wat jy tans het?
“Baie mense dink meditasie is om in ’n beswyming te gaan of jouself te hipnotiseer of iets. Maar meditasie is net ’n tegniek om tuis te kom in die lewe – die onvolmaakte lewe – wat jy het. In party meditasies fokus jy op jou asemhaling, in party fokus jy op jou lyf, maar in almal gebruik jy tegnieke wat jou leer om nie in jou gedagtes weg te dryf na die lewe waarvoor jy wens nie, maar eerder tuis te kom in die lewe wat jy hét.”
Enkele voorbeelde
Johannes noem die volgende voorbeelde van mense met wie hy gepraat het, en hoe hulle tot die besef gekom het dat hulle bewustelik daaraan moet werk om tuis te kom in die lewe wat hulle nou, na hulle trauma, het.
- Iemand se kind is oorlede. Hulle sal nooit daarvoor dankbaar kan wees nie en geen mens verwag dit van hulle nie. Maar hulle kan wel by die punt kom dat hulle besef hul lewe het onomkeerbaar verander en dat hulle iets met dié nuwe lewe moet doen. Die persone met wie ek gepraat het, het begin om ander ouers wat kinders verloor het by te staan, om steungroepe te lei, om oor verlies te skryf sodat hulle vir ander ’n gids op dié pad kan wees. Hulle het ’n nuwe sin vir roeping.
- Een persoon is gestrem na ’n ongeluk en kan nou nie meer sy werk doen nie. Hy moes al sy ambisies en sy roem prysgee. Maar hy het geleer om te aanvaar dat sy ou drome en ou ambisies verlore is. Nou lewe hy anders. Die rykdom in sy nuwe lewe is om stadiger te kan lewe. Om nader te wees aan die mense vir wie hy in sy ou lewe nie tyd gehad het nie. Om te onthou dat elke dag ’n gawe is wat hy maklik kan verloor. Hy het besef hy het nooit al daardie mag en roem nodig gehad om gelukkig te kon wees nie.
- Iemand het kanker. Hy was aanvanklik kwaad vir sy lyf wat hom so seer maak. Maar hy het geleer om te aanvaar dat hy nou lewe in ’n nuwe lyf, een wat hy met kanker deel. Hy kan vir dié lyf simpatie hê, soms sy hand op sy hart sit en vir homself die liefde gee wat hy weet hy innig nodig het.”
Raak stil
“Ek sal almal aanmoedig om van tyd tot tyd stil te gaan staan as die lewe dol raak en net hul handpalm teen hul hart te hou. Voel die hitte van jou palm teen jou bors. Maak dalk jou oë toe as jy kan. Herinner jouself dat jy liefde nodig het in jou swaar tye en gee jouself van daardie liefde. Sê: Dis normaal om te sukkel. Dis normaal om soms spyt te wees. Dis normaal dat jou lewe anders lyk as die een waarop jy gehoop het.
“Die lewe werk meestal op die ou einde wel uit. Dit werk net nie heeltemal uit soos wat jy wou gehad het nie. Dit verg moed en geduld om dit te aanvaar. Maar as jy daarmee vrede kan maak, sal jy verstom wees oor die groeikrag wat daar in jou gebrokenheid skuil.”
Leer meer oor meditasietegnieke
Besoek Johannes se webwerf www.blydskap.com waar hy baie van die meditasietegnieke illustreer. Daar is ook video’s op YouTube.
7-4-8 – ’n Asemhalingsoefening
Probeer gerus die volgende oefening en leer hoe om die veg-en-vlug-respons te flous met behulp van stadige en diep asemhaling.
Meer as jou seerkry – Groei as jy stukkend is – is op 22 April vrygestel.
ISBN-13: 9780624093428
Ook beskikbaar as ’n e-boek.
Epub ISBN: 9780624093435
Oor die skrywer
Johannes de Villiers is ’n skrywer en meditasie-instrukteur. Hy beoefen reeds sowat 22 jaar lank meditasie en bewustelikheid – eers as student en deesdae as instrukteur van ‘n Zen-skool (hy bedryf ’n jogaskool in Bloemfontein) – en lei landwyd slypskole en naweekkursusse oor meditasie en mindfulness. Johannes was jare lank joernalis by Huisgenoot, Rapport en Die Burger, en ook voorheen dosent in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.