Saamgestel deur: Annelie van Jaarsveldt
“Die bevindinge vervat in die regsmening en waarin aanbeveel word dat die taalbeleidsraamwerk gewysig word om die inheemse status van Afrikaans en die Khoi- en Santale daarin te erken, is ‘n historiese oorwinning vir die beskerming en bevordering van Suid-Afrika se kulturele en taaldiversiteit – en vir die sprekers van hierdie tale in besonder.”
– Leon Schreiber, DA-kiesafdelingshoof in Stellenbosch
Na meer as ‘n jaar van onverpoosde werk deur belanghebbendes, het die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se departement bes gegee dat Afrikaans, Khoi- en die Santale wel inheems aan Suid-Afrika is. Dus, beslis vordering in die regte rigting. “Daar moet egter in gedagte gehou word dat die minister slegs ‘n regsopinie bekend gemaak het en dat hy nog nie sy taalraamwerk hersien het nie en ook nog nie ‘n amptelike verklaring uitgereik het nie.” So sê Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad is dit eens met Van Wyk en sê ook dat daar wel vordering is, maar “dat die stryd nog ver van gewonne is”.
Nzimande het in Oktober 2021 ‘n regsmening ingewin oor die status van die betrokke tale en na aanvanklike weiering om die regsmening met die Demokratiese Alliansie en ander belanghebbendes te deel, het die DA ‘n appèl in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien en is die regsmening nou gedeel.
“Die dokument bevestig dat dit duidelik is dat die Grondwetlike Hof Afrikaans as ‘n Afrikataal erken wat inheems is aan Suid-Afrika … en dat die uitsluiting van Afrikaans as ‘n inheemse taal in die Taalbeleid onversoenbaar is met die Grondwetlike Hof se beskouing van Afrikaans as ‘n inheemse taal.” Die regsmening beveel dan ook aan dat “die voorheen benadeelde inheemse tale in Suid-Afrika tot hulle volle potensiaal ontwikkel behoort te word”. Sê Leon Schreiber: “Dit is nou tyd vir hulle (die ANC) om te luister na die regsadvies en dringend die Taalbeleidsraamwerk aan te pas om Afrikaans sowel as die Khoi- en Santale as volwaardige inheemse Afrikatale te erken.” Hierdie wysigings sal dan ook verseker dat die betrokke tale wetlik beskerm sal wees “teen enige pogings om hulle te ontneem van die hulpbronne wat toegeken word om inheemse tale te beskerm en ontwikkel”.
Is Afrikaans inheems?
Kyk ‘n mens na die breër definisie van wat ‘n inheemse taal is, word dit beskou as ‘n taal wat op ‘n spesifieke plek ontstaan het en dus nie van buite af ingevoer is nie en word dit daarom deur die inheemse gemeenskap gepraat. Maar dis juis die gebruik van die woord inheems wat dalk verwarring kan skep.
Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se beleidsraamwerk definieer dit so: “Inheemse tale is tale wat hul ontstaan in Afrika het en aan die suidelike Bantoe-taalfamilie behoort. ‘n Inheemse taal is ‘n taal wat inheems aan ‘n streek of land is en deur inheemse mense gepraat word.”
In bogenoemde definisie word die Khoisantale heeltemal uitgesluit. Tog was hulle die eerste mense in suidelike Afrika. So ook het Afrikaans ontstaan op eie bodem a.g.v. taalkontak tussen inheemse mense (Khoi-Khoin), slawe uit die Ooste en sprekers van Europese tale.
Regter Steven Majiedt en ‘n volbank regters van die Grondwethof het in die Unisa-hofsaak (2021) eenparig daarop gewys dat die begrip “inheemse tale” ook Afrikaans insluit. Ook dat die wanopvatting dat Afrikaans “die witmense se taal” en “die taal van die onderdrukker” is – ‘n wanvoorstelling is van die taal en die ware oorsprong daarvan. Trouens, meer as 80% van die bruin gemeenskap in Suid-Afrika is Afrikaanssprekend en word vanaf 1994 deur landsbeleid gedwing om Engels te praat omdat transformasie toegepas word.
“Deur Afrikaans dus as uitheems te beskou, kom die Afrikaanssprekende gemeenskap se reg tot moedertaalonderrig, gelykheid en waardigheid ook ter sprake. Afrikaanssprekers is tog nie uitheems nie. Afrikaans is die enigste inheemse taal wat doelgerig deur sy sprekers ontwikkel is en as hoëfunksietaal gedien het. In die lettere, opvoedkunde, natuur- en sosiale wetenskappe het Afrikaans nie slegs nasionale status geniet nie, maar ook internasionale status.”
Bronne:
Maroela Media. Lees die volledige artikel hier. Daar is ook ‘n skakel na die regsmening.
Netwerk24. Lees die volledige artikel hier
Lees ook:
Netwerk24 – Afrikaans is nie inheems nie. Klik hier
Afrikaans.com – Konstitusionele hofuitspraak oor US-taalbeleid. Klik hier
Afrikaans.com – Gaan minderheidstale swem of sink? Klik hier