Die 2022-matriekgroep het die afgelope twee jaar geweldig baie klastyd verloor. Daarom het Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se wiskunde-afdeling by Die Wolkskool besluit om die volgende agt weke regstreekse aanlyn klasse aan te bied. Die klasse, wat gratis aangebied word, sal die matrikulante help met die mees komplekse wiskundekonsepte.
Volgens Lampies Lotter, die SOS se Wiskundedosent by Die Wolkskool, sal die klasse vanaf 21 April tot 9 Junie 2022 elke Donderdag regstreeks deur Zoom uitgesaai word. “Matrikulante en Graad 11-leerders is welkom om in te skakel en deel te neem aan die klas. Indien matrikulante enige vrae het, wat nie tydens die sessie behandel is nie, kan hulle my gerus kontak en terugvoer ontvang,” verduidelik Lotter. “Ons wil verseker dat elke matrikulant die belangrikste wiskundekonsepte voor die Junie-eksamen onder die knie kry.”
Wiskundeklasse sal elke Donderdag regstreeks uitgesaai word van 21 April tot 9 Junie 2022 om 16h30. Onderwerpe gedek in week 1 en 2 is analitiese meetkunde. Opnames daarvan kan op Die Wolkskool bekom word. Onderwerpe vir komende weke sluit in:
- Week 3 (5 Mei) – Funksies en inverses
- Week 4 (12 Mei) – Eksponensiële en logaritmiese funksies
- Week 5 (19 Mei) – Polinome
- Week 6 (2 Junie) – Differensiaalrekening
- Week 7 (2 Junie) – Finansiële Wiskunde
- Week 8 (9 Junie) – Finansiële Wiskunde
Om in te skakel op die klasse registreer sommer nou op: https://form.jotform.com/221012849886058
Die Wolkskool, ʼn inisiatief van Solidariteit Skoleondersteuning (SOS) beplan vanaf 27 Junie tot 1 Julie 2022 ʼn slypskool in Pretoria in Wiskunde, Tegniese Wiskunde en Wiskundige Geletterdheid, asook ʼn aanlyn slypskool in vakke soos Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe, Afrikaans Huistaal, Engels (EAT) en Rekeningkunde.
Die SOS het in 2020 regstreekse aanlyn klasse aangebied in Wiskunde, Besigheidstudies, Lewenswetenskappe, Afrikaans Huistaal, Fisiese Wetenskappe, English (EAT), Wiskundige Geletterdheid en Rekeningkunde. Die klasse is deur 7000+ matrikulante bygewoon en is tans gratis beskikbaar op: https://skole.co.za/gr-12-slypskool/.