Hier is vanjaar se Akademie-pryswenners
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat reeds in 1901 gestig is, se oogmerk is om die gebruik van Afrikaans te bevorder in die wetenskap en kunste. Die toekenning van verskeie pryse, medaljes en erepennings is deel van die Akademie se strategie om aan hierdie missie te voldoen. Die raad van die SA Akademie het op 22 April die wenners van 2022 se pryse aangekondig.
Die gesogste prys van al hierdie pryse is die Hertzogprys wat beskou word as die belangrikste prestigeprys in die Afrikaanse letterkunde. Dit word jaarliks toegeken aan ʼn uitmuntende werk in Afrikaans, beurtelings in die veld van poësie, drama of verhalende prosa. Vanjaar het verhalende prosa aan die beurt gekom.
Die Hertzogprys gaan vanjaar, op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie, aan S.J. Naudé vir sy kortverhaalbundel Dol heuning. Hierdie bundel kunstige kortverhale speel af in Suid-Afrika, Namibië en ʼn reeks ander lande in die noordelike halfrond. S.J. Naudé het reeds vroeër die UJ-Letterkundeprys met Dol heuning verower.
Die Eugène Maraisprys wat toegeken word vir ʼn eerste of vroeë letterkundige werk, kan net een keer aan ʼn persoon toegeken word. Vanjaar is Ashwin Arendse vereer met die Eugène Maraisprys vir Poësie vir sy bundel Swatland. Arendse het ook die UJ-debuutprys vir hierdie selfde bundel ontvang.
Frederik de Jager wat vanjaar die UJ-debuutprys met Ashwin Arendse gedeel het, het vanjaar se Eugène Maraisprys vir Prosa ontvang vir sy kortverhaalbundel Man op ʼn fiets êrens heen.
ʼn Gesogte toekenning wat driejaarliks deur die Akademie toegeken word aan ʼn jeugboek in Afrikaans, die Scheepersprys vir jeugliteratuur, behoort vanjaar aan Fanie Viljoen vir sy jeugverhaal Offers vir die vlieë. Viljoen het in 2019 die LAPA-jeugromankompetisie met hierdie distopiese jeugverhaal gewen.
Die wenner van vanjaar se Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur is Jaco Jacobs met Die boekwinkel tussen die wolke. Hierdie prys word ook driejaarliks toegeken. Die inspirasie agter hierdie wonderlike verhaal van Jacobs wat hy in die grendeltydperk geskryf het, was die regering se besluit om boekwinkels te sluit aangesien dit, in hulle oë, ʼn nie-noodsaaklike item is.
Die ander wenners van vanjaar se Akademiepryse buite die Afrikaanse letterkunde is:
Huberte Rupert-prys vir Klassieke Musiek – Emma Renzi
Die Erepenning vir Geesteswetenskap en die Kunste – Emma Willemse
Die Erepenning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie – Prof. A.R. Coetzee
N.P. Van Wyk Louw-medalje – Prof. H.P. van Coller
M.T. Steyn-prys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese prestasie – Prof. Lise Korsten
Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Letterkundige Kritiek – Prof. W.J. Henderson
Christo Wiese-medalje vir Bedryfsleiding – Hendrik du Toit
Die Protea Boekhuis-prys – Carel van der Merwe vir Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen
Havenga-prys vir Fisiese Wetenskappe – Prof H.C. Swart
Douw Greeff-prys – K.T. Mwepu, S.J. Lubbe en P.L. Crouse
Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Dierkundige Wetenskappe) – Amoré Malan
Poort-pryse
Hierdie pryse word jaarliks toegeken vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in graad 10, 11 en 12 wat aan die Poort-kompetisie deelgeneem het.
Poësie: Mikayla Pretoria van Windhoek High School, Namibië vir haar gedig Die diagram van die hart.
Prosa: J.D. Carr van Hoërskool Upington vir Wabi Sabi
Beste ontwerp vir die Poort-boekie se voorblad vir 2022 – Janke Labuschagne van die Hoërskool Reitz.