Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die winterkoue kruip stadig maar seker nader en wat is nou lekkerder as om onder die duvet met ‘n lekker boek en dalk ‘n soetdingetjie in te kruip. Afrikaans.com het hande geneem met NB-Uitgewers en vertel jou meer oor ses van die jongste kinder- en jeugboeke op die rak.
Jy kan WEN!
Jy staan die kans om drie boeke, Donkerbloed, Anderkant die Blou en Perde-omnibus 1 te wen! Al wat jy moet doen is om die emoji te soek wat weggesteek is in hierdie artikel en dit in die kommentaarafdeling op sosiale media te plaas.
1. Perde-omnibus 1: Sonder Chocolate Charlie en ander gunstelinge |
Perde-omnibus 1: Sonder Chocolate Charlie en ander gunstelinge
Marga Jonker
ISBN-13: 9780624092377
Uitgewer: Tafelberg
In Sonder Chocolate Charlie moet Nell die ongeluk wat haar geliefde Charlie se lewe geëis het, verwerk. Brigadier en die raaiselponie is die verhaal van susters Zahn en Alex en hulle pa se stram verhouding, met ‘n raaisel wat in die Knysna-bos ontrafel word deur Zahn en Brigadier. In City Girl en die swart hings is Nicole teen haar sin saam met haar ma aan die Kaapse Weskus terwyl haar vriendinne foto’s van hulle glansvakansies deel.
2. Anderkant die blou |
Anderkant die blou
Zelda Bezuidenhout
ISBN-13: 9780624091950
Uitgewer: Tafelberg
Lienke en Dezi beleef die vakansie van hulle lewe in Kalkbaai. By die hotel ontmoet hulle Danroy, ‘n kelner wat vakansiewerk doen, wat hulle na al die mooiste plekke in die baai vat. Hulle leer ken Danroy se “skwad” en sy geliefde Uncle Kaz. Dan is daar ‘n tragedie op see wat Danroy en sy ma se lewe omkeer. Soos Uncle Kaz altyd sê: “Mens het net drie goete nodig om gelukkig te wees: iemand om lief te hê, iets om jou hande mee besig te hou, en iets om na uit te sien.”
3. Felina Kat, geheime agent |
Felina Kat, geheime agent
Louise Smit, Zinelda McDonald
ISBN-13: 9780798182164
Uitgewer: Human & Rousseau
Timo wonder wie die geheimsinnige inwoner op die boonste verdieping van hulle woonstelblok is. Wanneer hy gaan ondersoek instel, verander sy vervelige skoolvakansie skielik in ’n groot avontuur! Hy maak kennis met Felina Kat, maar sy is geen gewone kat nie . . . Sy is ’n GEHEIME AGENT en sy los enige misdaad op. Speurder Skote Petoors het ’n probleem. ’n Kosbare blou diamantring is gesteel en daar is nog geen leidraad nie. Die Geheime Agent moet kom help. Sal Felina, Skote en Timo saam die skurke kan vastrek?
Wie is die baasbrein en wat het sy handlangers, Malia en Dahlia, daarmee te doen?
Hierdie avontuurlike storie, met illustrasies deur die bekroonde Zinelda McDonald, is perfek geskik vir vaardige beginnerlesers.
4. Mieke 2: Spikkelsterre op Mtwana |
Mieke 2: Spikkelsterre op Mtwana
Christien Neser
ISBN-13: 9780624091165
Uitgewer: Tafelberg
Mieke se pad kruis met Sasha Dyssel, Miss Eco Warrior Limpopofinalis, wat die skool en Mtwana se gas word, maar die aanvanklike konflik word ‘n susterskap soos wat Mieke nog nie ervaar het nie. Fen en al die graadsewe-seuns verloor hul hart op die mooie Sasha. Maar dis Mieke wat die dieper kant van die meisie leer ken, en uitvind waarom sy en Smiley, die outjie wat gedurig ‘n nuwe blouoog het, soveel in gemeen het. Die ontknoping is die finaal van Miss Eco Warrior, met afskeid en oorgang vir beide Mieke en Fen wat deur die storie verweef is. ‘n Ligte lekkerleesverhaal oor grootword tussen diere in die omgewing rondom die Limpoporivier.
5. Eerste Liefde Omnibus 2 |
Eerste Liefde Omnibus 2
Janie Oosthuysen, Helen Brain
ISBN-13: 9780798182706
Uitgewer: Human & Rousseau
Drama, humor . . . en natuurlik liefde en liefdesdriehoeke. In Ouens is nes ekstra bagasie moet Barbara die vakansie by die Turkana-meer spandeer waar haar pa opgrawings doen en dokumentêre films maak. In Liefde is nie tjoklits nie is Tamara vir die eerste keer in haar lewe smoorverlief en ’n makeover is haar enigste hoop. In Soene op ’n Suzuki het Lizanne skaars die supervatterige Gerhard afgesê of haar ma pers haar af om met hom op te maak.
6. Dagboek van ‘n dork 6: Stories van ‘n nie-so-gelukkige hartebreker |
Dagboek van ‘n dork 6: Stories van ‘n nie-so-gelukkige hartebreker
Rachel Renée Russell
ISBN-13: 9780798182614
Uitgewer: Human & Rousseau
Dagboek van ‘n dork is vir almal wat al ooit soos die grootste dork in die wêreld gevoel het. ‘n Reeks oor Nikki Maxwell en haar lewe vol drama en dinge. Brandon vra uiteindelik amper vir Nikki uit! Maar hy begin vreemd optree en sy is bekommerd dat hy nie eintlik van haar hou nie. Die meisies moet boonop die seuns na die skooldans vra! Lees Nikki se dagboek en maak reg om die dork in jou ’n drukkie te gee!
7. Donkerbloed |
Donkerbloed
Elrien Scheepers
ISBN-13: 9780798181822
Uitgewer: Human & Rousseau
Dit is die jaar 2045 in die stad Etswagoli. Sybella ondersoek die raaisel rondom haar ma en suster se dood in ’n lugtaxi-ongeluk wanneer haar pad kruis met Yala, ’n onwettige hokvegter. Maar waarom is die kuborg, Cedric Morton, op haar spoor en wat is sy verbintenis met Lilith Rox, die direkteur van Biotron Babas, ’n maatskappy wat geneties gemodifiseerde babas verskaf aan die ryk elite? Haar vriend Jax is veronderstel om haar te help soek, maar skielik verdwyn hy ook spoorloos . . . Die polisie stel lankal nie meer belang om uit te vind wat regtig daardie middag gebeur het nie. Maar Sybella móét net weet. Wanneer sy Lilith Rox se werksaanbod aanvaar, raak sy betrokke by nóg donker geheime. Watter prys sal sy vir die waarheid moet betaal?
🙂
https://afrikaans.com/wp-content/uploads/2022/04/Emoji-glimlag.jpg