KKNK Dramaweb SA is ’n opwindende nasionale dramakompetisie wat aan jongmense die geleentheid bied om hulle dramatalent uit te leef en te ontwikkel in die gerief van hulle eie huise. Video-opnames, wat gerieflik met ʼn selfoon gemaak kan word, moet digitaal deur deelnemers ingestuur word, waarna dit dan deur ʼn span kundige beoordelaars beoordeel word.
Elke deelnemer ontvang uiteindelik ʼn elektroniese sertifikaat met gedetailleerde besonderhede en advies van die beoordelaar vir elkeen van die items wat gelewer is. In elke graadgroep sal daar ʼn wenner in die Engelse en Afrikaanse stroom aangewys word.
Daar is ook wonderlike pryse ter waarde van R50 000 op die spel. Elke leerder kies sy eie materiaal en kan in een of meer van die volgende kategorieë inskryf: gedramatiseerde gedigte; ongedramatiseerde gedigte, voorbereide lees, prosa, gedramatiseerde prosa, mimiek, en koorspraak.
Inskrywings vir die KKNK Dramaweb SA sluit op 30 April 2022 en alle video-opnames moet die paneel teen 10 Mei 2022 bereik.
Ira Blanckenberg, die stigter en organiseerder van hierdie platform, het die nood en behoefte vir so ʼn geleentheid raakgesien tydens die eerste tydperk van inperking in 2020 toe alle kunstefeeste en eisteddfods tot stilstand gekom het. Sy is per e-pos beskikbaar om raad en wenke te voorsien. Kontak haar by ira@dramawebsa.co.za Vir enige navrae rakende die kompetisie kontak Daventia Kennedy op 044 203 8600 of stuur ʼn e-pos aan info@dramawebsa.co.za
Besoek https://kknk.co.za/dramaweb-sa/.