Koos Kombuis gesels oor sy vroeë loopbaanjare en die lewenslesse wat hy geleer het.
Marinda maak smaaklike kool-lensiefrikkadelle en sy heel gunsteling- soetgereg, suurlemoenmeringue!
KOOL-EN-LENSIEFRIKKADELLE
Lewer 4-6 porsies
Frikkadelle
500 ml lensies, gedreineer
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 eier
35 g parmesaankaas
30 ml broodkrummels
10 ml fyn komyn
5 ml fyn vars koljander
2 ml fyn kaneel
30 ml fyngekapte ui
5 ml gerookte paprika
1 fyngekapte rissie (opsioneel)
sout
peper
1 groot kool
- Sit alles behalwe die kool in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.
- Gebruik ’n roomysskepper en maak balletjies.
- Sit die balletjies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is, en sit dit in die yskas.
- Neem die buitenste blare van die kool. (Sny die harde stronkgedeelte in die middel uit.) Druk dit in kookwater om sag te raak.
- Draai nou elke frikkadel toe in ’n koolblaar (jy kan dit vassteek met ’n tandestokkie) en sit dit bo-op die sous (resep hierna) wat in ’n oondskottel gegooi is.
- Bak dit oop vir 20 tot 30 minute.
Sous vir koolfrikkies
1 ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngekap
2 rissies, gekap
1 blikkie Mexikaanse tamaties
10 ml tamatiepasta
125 ml rooiwyn
30 ml vars roosmaryn, gekap
5 ml suiker
10 ml gerookte paprika
10 ml worcestersous
- Braai die ui tot glaserig.
- Braai die knoffel en rissies saam met die ui.
- Gooi die res van die bestanddele by en kook vir 20 minute.
- Gooi dit in ’n oondskottel en sit die frikkadelle op die sous om gaar te word.
SUURLEMOENMERINGUETERT
Gebruik ’n losboomtertbak – die resep behoort aan Mari-Louis Guy en is ’n wenner
2 pakkies Tennisbeskuitjies, fyngekrummel
80 g sagte botter
2 blikkies kondensmelk
4 suurlemoene se sap
4 suurlemoene se skil, fyngerasper
4 eiergele
5 ml mielieblom (maizena)
125 ml ekstra suurlemoensap
8 eierwitte
500 g strooisuiker
- Meng die koekiekrummels en botter deeglik en druk dit stewig vas in ’n gesmeerde tertbak.
- Bak vir 15 minute by 170 °C. Sit dit eenkant om af te koel.
- Meng die kondensmelk, 4 suurlemoene se sap en skil in ’n mengbak.
- Klits die eiergele en mielieblom saam tot ’n gladde pasta en voeg dit by die kondensmelkmengsel tot dit goed gemeng is.
- Voeg die ekstra 125 ml suurlemoensap by en meng goed.
- Skep die suurlemoenmengsel binne-in die kors.
- Klits die eierwitte tot sagtepuntstadium en voeg die strooisuiker stadig by tot stywe punte gevorm word.
- Skep dit bo-op die suurlemoenmengsel.
- Bak vir 20 minute by 170 °C tot goudbruin bo-op en laat dit heeltemal afkoel.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Koos Kombuis.