Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Die sleutel tot die sukses van ‘n skool is die struktuur by die skool en of daar ‘n kultuur van dissipline is. Baie hang van die skoolhoof af, maar dit is ook belangrik om ‘n sterk bestuurspan, goedopgeleide departementshoofde en ‘n deursigtige dissiplinêre beleid te hê wat konsekwent toegepas word. Dit begin by die onderwyser in die klaskamer.”
Daan Potgieter, oudskoolhoof en uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) in ‘n artikel op Maroela Media (12 Julie 2018)
Die gebrek aan dissipline in ons skole is nie iets nuut nie. Byna daagliks hoor of lees ’n mens van insidente – sommige uiters gewelddadig – en staan jou hare regop by die blote gedagte daaraan. Diegene van ons wat op skool was toe die onderwyser se woord wet was en jy maar liewer jou huiswerk gedoen het en nie teruggepraat het nie, sluk moeilik aan wat deesdae in klaskamers gebeur. Maar om lyfstraf uit te deel, is beslis nie die oplossing nie.
Ja, dinge het verander. Lyfstraf is afgeskaf en dit is reg so, want ongelukkig het talle onderwysers en skoolhoofde deur die jare hierdie “reg om lyfstraf uit te deel”, misbruik en is leerders onnodig verneder. Toegegee, hier en daar het streng optrede en ‘n pak slae dalk die gewenste uitwerking gehad, maar oor die algemeen is dit ‘n benadering wat nie gewerk het nie. Tog bly die gebrek aan dissipline in ons skole ‘n groot probleem en lei dit tot groot ontwrigting en emosionele skade. In party skole is dit asof die leerders (en dikwels die ouers) die onderwysers gyselaars hou en trek die medeleerders wat wil leer en die onderwysers aan die kortste end.
Dissipline begin tuis
Skoolhoofde en onderwysers sit maar gereeld hande in die hare om dissipline te handhaaf. Talle ouers gaan van die standpunt uit dat dit die skool en onderwysers se taak is om die leerders te dissiplineer, maar die skole voel anders hieroor.
Die bekende opvoedkundige sielkundige en navorser en dalk nog beter bekend as die “shackbuilder”, Quinton Adams, het ongeveer vyf jaar gelede werkwinkels aangebied waarin hy juis oor dissipline by die huis gepraat het. Sê Adams: “Ouers moet eers hulle huise in orde kry voordat die skole in orde gekry moet word.”
Die sewe boustene vir dissipline
Adams noem sewe boustene vir dissipline: kommunikasie, respek, reëls in die huis, gesag, verantwoordelikheidsin, onderskeid tussen reg en verkeerd en omgee. Volgens Adams is dit die kinders se ingesteldheid wat positief verander moet word. Daarom sê hy dan ook tereg: “Julle kan nie met julle ou kennis, ‘n nuwe generasie skep nie.” Kortom, wat voorheen gewerk het om dissipline te handhaaf, gaan nie noodwendig nou werk nie. Ons moet uit die boks dink, ons kennis verbreed en onsself bemagtig.
In ‘n artikel op Netwerk 24 het die skoolhoof van Hoërskool Cloetesville, Dorian Meyer, ‘n sterk bewoorde omsendbrief aan ouers gestuur nadat hulle ‘n “onverklaarbare toename in gedragsprobleme ervaar het”. In die brief word ouers en voogde gevra om hulle kinders aan te spreek oor hulle dissipline. Volgens Meyer word onderwysers verbaal geteister, leerders vloek (selfs in die teenwoordigheid van onderwysers), baklei met mekaar, hulle kleredrag is swak en hulle kom dikwels laat vir klas. Sê Meyer: “Dissipline begin by die huis. Ek wil dit duidelik aan ouers, voogde en leerders stel: By ons skool gaan ons onder geen omstandighede ‘n chaos toelaat nie.”
Meyer sê ook dat daar kosbare tyd verlore gaan om orde in klasse te herstel. Sekere leerders verbreek skoolreëls met opset en ‘n lakse gesindheid dra by tot die probleem. Op die ou end kry die leerders wat wil leer nie die onderrig wat hulle verdien nie omdat die ordelose leerders die klasse ontwrig.
Ouers-sonder-grense en bedorwe brokkies
Wendy Sloane en Kim van Reizig skryf in ‘n artikel op Health24 dat die verskynsel van bedorwe brokkies baie stres vir ouers veroorsaak, maar dat Britse navorsers “die vinger reguit wys na die huidige geslag liberale ouers-sonder-grense en dat hulle nie genoeg ferm ‘liefde’ (tough love) toepas nie”.
In ‘n impakstudie van ouerstyle, het die Londense navorsingsorganisasie, Demos, die lewe van 9000 gesinne oor ‘n tydperk van agt jaar gevolg. “Hul gevolgtrekking: Die ferm liefde-manier – ‘n kombinasie van warmte en dissipline – speel ‘n veel groter rol as ouers se inkomste of sosiale agtergrond in ‘n kind se sukses en vermoë om empatie, vasberadenheid en selfbeheersing te leer.”
Naomi van Wyk, ‘n kliniese sielkundige van Stellenbosch wat spesialiseer in ouerbegeleiding, sê in dieselfde Health 24-artikel dat ouers gebombardeer word met soveel teenstrydige raad oor hoe om dissipline te handhaaf, dat hulle later voel dat hulle nie meer weet wat reg of verkeerd is nie en dan ook dikwels skuldig voel. Omdat ouers ook dikwels albei werk, is die kinders dikwels op hulle eie en verloor party ouers so beheer oor hulle kinders se gedrag.
“Outoritêre ouerskapstyl werk nie vir my nie!”
Dan is daar ook ouers wat nie dieselfde “foute” as hulle ouers wil maak nie. Hulle het dalk in die era grootgeword waar kinders gesien, maar nie gehoor is nie en respek teenoor grootmense ononderhandelbaar was. Hierdie outoritêre ouerskapstyl is nie vir hulle ideaal nie en daarom doen hulle amper die teenoorgestelde. Hulle kinders word toegelaat om hulle “woede uit te druk en eise te stel en die kinders word ook die middelpunt van die gesinslewe gemaak”.
Maar hoe pas ‘n mens so ‘n ferm-liefde-plan toe?
Volgens die skrywers van die Health 24-artikel is dit eintlik nie so moeilik nie en moet daar op liefde en dissipline gefokus word. So moet konsekwentheid en regverdigheid ook deel van die resep uitmaak. Hier is so ‘n paar riglyne uit die artikel. Hou net in gedagte dat die plan nie die alfa en die omega is nie en volgens jou en jou kinders se persoonlikhede en omstandighede aangepas moet word:
- Hoekom is jou kind “stout”? Is hy bloot honger of moeg? Is hy dalk ongelukkig by die skool, jaloers op die nuwe baba? Probeer agter die kap van die byl kom en praat met jou kind. Wees eerlik as jy nie die situasie wat hom ongelukkig maak, kan verander nie, maar wees daar om te luister.
- Reëls – moenie uitsonderings maak nie. Reëls is reëls as jy jou kind se gedragspatrone wil verander. Dit leer jou kind die verskil tussen reg en verkeerd, en leer hom die regte waardes. Maar gebruik jou diskresie en verslap gerus hier en daar ‘n reël oor naweke of tydens skoolvakansies.
- Die stouthoekie vir die kleuters. Dit kan ‘n stoel of ‘n trappie wees. Laat jou kind daar sit om te bedaar en oor sy optrede te dink sodat hy daarna om verskoning kan vra. Maar onthou: Verduidelik aan jou kind waarom die gedrag onaanvaarbaar is en wat die gevolge gaan wees. “En prys hom as hy om verskoning vra.”
- Positiewe ouerskap. “Dit is baie meer doeltreffend om goeie gedrag te prys as om swak gedrag te kritiseer.” Spreek jou goedkeuring vir iets spesifiek uit.
- Wees spesifiek. Sê duidelik wat dit is wat jou kind verkeerd doen en hoe jy wil hê hy dit moet regstel. Moenie net sê: “Gaan maak jou kamer aan die kant nie.” Sê liewer: “Pak asseblief jou speelgoed in die boks en sit jou sandale terug in die kas.”
- Wees ‘n rolmodel. Jou gedrag moet weerspieël hoe jy wil hê jou kind hom moet gedra.
- Hou by jou plan en demonstreer deur jou eie optrede die regte gedrag. Dink self: As jou kind sien jy hanteer ander sonder respek, gaan hulle nooit leer wat dit is om mense met respek te behandel nie. Dieselfde beginsel geld binne die gesin. Behandel jou gesinslede met dieselfde respek as waarmee jy behandel wil word.
- Omkopery en dreigemente is nie ‘n goeie idee nie. Kinders moet leer wat die natuurlike gevolge van hulle dade is. Moenie ‘n voorwaarde stel soos om te belowe dat jou kind televisie kan kyk as hy sy kamer reggepak het nie. “Dit werk beter as jy wag dat hy sy kamer opruim en dan sê hy mag televisie kyk.” Hy moet besef goeie gedrag kan tot ‘n beloning lei, net soos swak gedrag tot straf kan lei.
- Raak eers kalm. Dissiplineer jou kind nadat jy eers afgekoel het.
- Kaarte met plakkers om jou kind se suksesvolle gedrag visueel aan te dui, werk nie vir alle kinders nie, maar kan jou help “om spesifiek te wees en jou goedkeuring te wys”. Dit is belangrik om dit prettig te hou.
- Maak tyd vir jou kind. ‘n Kind wat voel dat hy nie aandag kry nie, of nie na geluister word nie, kan probeer aandag kry deur negatiewe gedrag. Maak daarom elke dag tyd om met jou kind te gesels, vir hom te lees of ‘n speletjie saam te speel. Jy sal vinnig agterkom jou kind se gedrag het ten goede verander.
- Huistakies kweek verantwoordelikheid. Kinders voel deel van die gesin as hulle huistakies verrig.
Swak dissipline in die klaskamer verhinder onderrig
Jean Oosthuizen skryf in 2015 in ‘n artikel op LitNET oor die probleme en uitdagings in skole. Toe reeds was die oorvol klasse genoem as een van die redes hoekom onderwysers oorweldig voel en behoorlike onderrig dikwels ingeboet word.
Disfunksionele gesinne en daarom onbetrokke ouers was nog ‘n rede wat opgehaal is. Dit is steeds ‘n probleem.
Fokus op die positiewe
Maar hoe gemaak om ons onderwysers gemotiveerd te hou? Volgens Oosthuizen moet “onderwysers fokus op die positiewe aspekte in plaas van die negatiewe aspekte van die skoolopset … en die belange van die gehoorsame leerders moet die primêre rede wees hoekom onderwysers skool toe kom”. Dit is alles goed en wel, maar enige iemand wat al met hierdie uitdagings te kampe gehad het, is dit eens dat dit nie altyd so eenvoudig is nie.
Leerders wat ekstra hulp nodig het, moet dikwels daarsonder klaarkom omdat onderwysers gewoon nie genoeg tyd het nie. Behalwe onderrig wat binne ‘n “voorgeskrewe tydgleuf” moet plaasvind om die werk volgens die kurrikulum te voltooi, is onderwysers “oorlaai met administratiewe pligte”.
Talle skole het vroeër jare ‘n skoolsielkundige in diens gehad. Dit was die persoon wat beroepsvoorligting, psigometriese en aanlegtoetse gedoen het, en ook beskikbaar was vir berading. Leerders kon dan betyds na geskikte skole, soos vaardigheidskole, tegniese of meer akademiese skole verwys word. Dit het daartoe bygedra dat die leerders hulle potensiaal kon bereik en uiteindelik ‘n bydrae kon lewer tot die land se ekonomie. Ongelukkig het die meeste skole nie meer so ‘n persoon op die perseel nie en kan dit lank neem voordat die leerder by die sielkundige uitkom.
Dink anders oor dissipline
“Onnies moet, net soos die leerders, ook lees en kennis uitbrei. Baklei vir ons kinders en nie met hulle nie.”
– Opvoedkundige sielkundige, Quinton Adams
Anna-Mari Kruger van Mosselbaai skryf in Februarie 2021 in ‘n blog op Die Dameskring se webtuiste dat toe sy op ‘n dag begin ondersoek instel het en navorsing begin doen het oor hoërskole se gedragskodes en reëls en die lyste van oortredings gesien het waarvoor kinders strafpunte kan versamel en “wat in die fynste besonderhede bespreek word – soos die lengte van naels en toelaatbare haarstyle – maar geen wenke van wat nou eintlik van jou ‘n goeie kind maak nie”, het sy besef dissipline en strafstelsels in die huis en skool nie so eenvoudig is nie en eintlik ver verwyderd is van mekaar. “Wel, daar word verwys na dinge soos respek en integriteit, maar nie wat dit nou eintlik in die klas of op die sportveld beteken nie. Ons weet presies waarvoor ons ons kinders gaan straf, maar ons is nie so seker wat presies jy moet doen om krediete te verdien nie.” Aldus Anna-Mari.
Anna-Mari skryf dat die doel van haar navorsing was om ouers en onderwysers te laat dink oor die kwessie en nie noodwendig om by die oplossing van alle oplossings uit te kom nie. Sy het dus die vraag gevra: “Wat is ons oogmerke met dissipline en straf? Wat is die raakpunte tussen die huis en skool? En hoe kan ons ons maniere van dissiplineer en straf herevalueer? Sê Anna-Mari: “Om kinders die wêreld in te stuur wat respek het vir hulleself, vir kinders rondom hulle en alle volwassenes met wie hulle in aanraking kom … dit klink vir my na ‘n goeie samevatting van ‘n gemeenskaplike doelwit. Liefde vir myself en liefde vir my naaste.”
Dus sê Anna-Mari dat ons moet vasstel wat “die beste manier is om kinders te dissiplineer wat gaan verseker dat hulle op die langtermyn hulle gedrag verander en sodat verhoudings nie skade ly in die proses nie. En dieselfde reëls moet mos by die huis, in die klas en op die sportveld geld.”
As deel van haar navorsing, het Anna-Mari ‘n aanlyn vraelys uitgestuur en gevra wie die respondente dink almal by kinders se dissiplinering betrokke moet wees. Resultate het die volgende getoon:
- 100% het aangedui dat beide ouers moet straf.
- 62% het gevoel onderwysers moet betrokke wees (dus is daar 38% ouers wat voel onderwysers moet nie betrokke wees by hul kinders se dissiplinering nie).
- 52% het gevoel die skoolhoof moet betrokke wees.
- Net 38% het gesê sportafrigters mag hul kinders dissiplineer.
- Net 24% het gevoel hul kinders se maats se ouers mag hul kinders dissiplineer.
Hieruit kan ‘n mens dus aflei dat ouers steeds voel dat hulle grotendeels verantwoordelik is vir hulle kinders se dissipline, maar dat onderwysers ook groot deel hieraan het. Tog werk dit nie heeltemal so in die praktyk nie.
“Dit het tyd geword dat ons ook bietjie anders moet begin doen as dit by dissipline kom.”
Volgens Anna-Mari moet ons onsself afvra: “Besef my kind wat die implikasies is van sy gedrag? Besef hy dat hy homself en/of ander mense hierdeur negatief beïnvloed het? Hoe gaan my manier van dissipline hom help om dit in die toekoms (as ek nie by is nie) nie weer te doen nie? Wys die onderwyser en ouers se gedrag en wat hulle doen en hoe hulle optree ons kinders wat die regte ding is om te doen?” Daarom voel sy dat “dit tyd geword dat ons ook bietjie anders moet begin doen as dit by dissipline kom. Want as vorige generasies se manier van dissipline regtig so effektief was, hoekom is daar honderde bewegings soos #enoughisenough, #MeToo en #OrangeTheWorld? Ek wonder net hardop…dalk moet ons die boompies minder breek as hulle oortree het en eerder kyk hoe ons hulle in die regte rigting kan buig sonder om hulle te knak.”
Wat sê ‘n onnie?
Afrikaans.com het met Karin Lambrechts oor die dissiplinêre stelsels wat by skole in plek is, gesels. Karin hou al 35 jaar lank skool en ons deel graag haar waarnemings.
Karin vertel dat die skool waarby sy betrokke is, daarop gefokus is om die stelsels wat deur die onderwysdepartement voorgehou word, toe te pas. Dit is byvoorbeeld die “Transform-to-Perform”-program, asook waardegedrewe onderwys. Dit is dan ook die rede dat die dissiplinêre stelsel wat gevolg moet word – en wat ‘n basiese riglyn vir alle skole is – in plek is.
Wat is die dissiplinêre stelsel?
Dit is ‘n puntestelselsisteem waarvolgens oortredings geklassifiseer word volgens die graad van die oortreding en word soos volg ingedeel:
1 punt: minder ernstige oortredings (bv. laatkom, tuiswerk nie gedoen nie, ens.)
2 punte: ernstiger oortredings (bv. klasontwrigting, disrespek, herhaling van punt 1-oortredings, ens.)
3 punte: ernstige oortredings of herhaling van punt2-oortredings (bv. vandalisme, bakleiery, blatante disrespek teenoor onderwyser, boeliegedrag, ens.)
Punt 3-oortredings is direkte kontak met die dissiplinêre komitee van die beheerliggaam in samewerking met personeel en ouers.
Karin sê dat die riglyne vir dissiplinêre stelsels van skole ooreenstem, maar dat die hantering daarvan tog wissel. So byvoorbeeld is detensie moeilik by hulle skool waar leerders van openbare vervoer gebruik maak. Ouers word daarom dikwels reeds by herhalende oortredings van kode 1 en 2 gekontak om in te kom vir ‘n gesprek. Die hoofdoelwit van dissipline is nie om die stelsel na die letter te volg nie, maar om ‘n pad met die kind volgens sy omstandighede te stap en so oplossings te soek.
Transform-to-Perform (T2P) ondersoek en hanteer die gesindhede en waardes wat die optrede en gedrag van alle rolspelers in die onderwysstelsel beïnvloed. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement voel dat so ‘n strategie en die aanvaarding daarvan, grootliks kan bydra tot beter gedrag en resultate in ons skole.
Waardegedrewe onderwys het ten doel om die skoolklimaat positief te verander deur middel van bepaalde waardes en te verduidelik hoekom sekere dinge gedoen word, m.a.w. wat kan ‘n mens hieruit leer. Hoekom is daar so ‘n reël in plek?
Waardegedrewe onderwys kan dus lei tot ‘n aangename leeromgewing, meer tyd om klas te gee en minder tyd spandeer om dissipline te handhaaf of konflik te hanteer, om positiewe groepsdruk te bevorder, om aggressie en antisosiale gedrag te laat afneem, om leerders te motiveer om skool by te woon, om beter slaagsyfers te behaal, en om ‘n veilige omgewing te skep waarbinne leerders kan groei en ontwikkel tot waardevolle lede van die gemeenskap.
Die hoofredes vir swak dissipline
Volgens Karin kan swak dissipline hoofsaaklik aan die volgende toegskryf word:
- Waardesisteme waarbinne ouers/gemeenskap funksioneer.
- Omstandighede wat ‘n impak het op leerders se drome, visie en werksetiek.
- Die nagevolge van die afgelope twee jaar se gefragmenteerde skoolgaan.
Die rimpeleffek van Covid-19 op die onderwys
Karin sê: “Die rimpeleffek wat die pandemie op die onderwys gehad het, glo ek sal nog lank gevoel word. Bo en behalwe die feit dat daar wel akademiese agterstande opgebou het, ervaar ons ‘n interessante verskynsel: Leerders (veral die graad 8’s) baklei verskriklik. Dit is asof leerders wat twee jaar lank meestal tuis moes bly, se sosiale vaardighede skipbreuk gely het. Die kinders het nie filters nie en sê enige iets vir mekaar wat dan dadelik die etiket van ‘boeliery’ ontvang. Ouers is ook gou om ons in te lig dat leerders geboelie word. Sommige gevalle het meriete, maar andersins is dit werklik ‘n gebrek aan die hantering van die gewone emosionele ‘lesse’ wat met die grootwordproses geleer word.
“Hiermee saam het ons, nadat leerders voltyds kon terugkom skool toe, ervaar dat hulle hul seksualiteit baie meer demonstreer. Wat ek hiermee bedoel is dat ons baie streng moes optree nadat leerders in die openbaar hulle verliefdheid wou demonstreer. Dalk het dit te doen met die feit dat hulle so lank afstand moes hou, of dalk het dit ook te doen met ‘n behoefte om iets aan ander te wil bewys.”
Uitdagings met dissipline in die klas
“Om ‘n opvoeder te wees in dié tyd is werklik ‘n voorreg en as jy daagliks bewus bly daarvan dat jy dit nie in jou eie krag kan doen nie, kry jy baie genade om nie te vinnig te skrik nie en om elke dag as ‘n geleentheid te sien om op ‘n nuwe, skoon bladsy ‘n storie saam met jou leerders te skryf.”
– Karin Lambrechts, onderwyseres
Volgens Karin is daar maar altyd uitdagings en was daar al kere wat sy magteloos gevoel het. Gelukkig was dit net enkele kere die geval waar die regte stappe in die dissiplinêre stelsel nie heeltemal reg hanteer is nie. Dit is egter nie uniek tot hulle skool nie.
Die grootste uitdaging bly egter die feit dat jy as onderwyser die volwassene is en dat daar altyd ‘n kind-met-‘n-storie agter die gedrag skuil. Dit is ook hoekom daar nie ‘n stel vaste oplossings vir swak dissipline kan wees nie. Ongelukkig verskil leerders en hul omstandighede en wat vir die een werk, werk beslis nie vir die ander nie, “want net wanneer jy dink jy het alles onder beheer, tuimel die kaartehuis opnuut inmekaar”.
Sit die volgende in plek vir dissipline in die klas:
Sê Karin:
- Ken jou vakgebied en wees voorbereid.
- Leer so vinnig moontlik jou leerders / jou registerklas ken (al is dit net met kort gesprekke aan die begin van die jaar waar hulle hulself voorstel), want as jy hulle ken, kan jy hulle beter verstaan en begelei. Jy sal leerders dan as individue hanteer, waardeer en erken.
- Jy is in beheer van jou klas. Sorg dus dat die leeromgewing reg is (netheid; banke; atmosfeer).
- Verstaan die mag van taal (ek dink daar het ons taalonderwysers dalk ‘n voorsprong), want daar is ‘n fyn balans tussen beheer neem en gee. As jy leerders ruimte gee, moet jy weer daardie beheer kan terugneem. Moet dus nie SIT of SKREE nie.
- Hê as opvoeder balans in jou eie lewe deur na jou eie geestesgesondheid te kyk of betyds hulp te vra.
Ten slotte
Dissipline en die toepassing daarvan is dus nie so eenvoudig nie en is ook nie net bloot ”‘n gehoorsaamheid aan gesag” nie. Dit behels samewerking tussen die ouers en die onderwyser/skool, maar ook die leerders, konsekwente optrede, die aanleer van waardes soos selfrespek, respek vir ander, eerlikheid en om ander met empatie te behandel. Dit is om anders te dink oor straf uitdeel en om ‘n holistiese benadering te volg om uiteindelik negatiewe gedragspatrone permanent te verander en op die manier ons kinders te help om gerespekteerde volwassenes te word. Om soos Karin Lambrechts sê elke dag as ‘n geleentheid te sien om “op ‘n nuwe, skoon bladsy ‘n storie saam met jou leerders te skryf”.
Bronne:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/nou-kan-hy-onderwys-en-afrikaans-kombineer/
https://dameskring.co.za/2021/02/25/dissipline-buig-of-breek-ons-die-boompies/
https://www.news24.com/health24/Parenting/Child/Kindergesondheid/Dissipline-wat-werk-20120721 (oorspronklik verskyn in Huisgenoot-POLS)
https://www.litnet.co.za/swak-dissipline-ondermyn-goeie-onderrig/
Lees ook:
https://wcedonline.westerncape.gov.za/documents/LearnerDiscipline/Leerder_Dissipline_en_Skoolbestuur.pdf – Leerderdissipline en skoolbestuur – ‘n praktiese handleiding om leerdergedrag te verstaan en te bestuur binne die skoolkonteks.
https://wcedonline.westerncape.gov.za/transform-perform
Kyk:
Oorsig oor die “Transform-to-perform”-strategie: Klik hier.