Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die omgekeerde klaskamer (in Engels: the flipped classroom) is presies wat dit sê: Dit keer die tradisionele manier van klasgee op sy kop. Dus, waar die tradisionele manier van klasgee behels dat die onderwyser voor in die klas staan en nuwe inligting aan die leerders verskaf (meneer of juffrou praat en jy luister), word leerders in die omgekeerde klaskamer-model opdrag gegee om die nuwe inligting of inhoud self te gaan opspoor en in te neem voordat hulle met hierdie voorafkennis klas toe gaan. Die fokus verskuif dus na aktiewe leer en leerderbetrokkenheid.
Selfgerigte leer (SGL) is ‘n proses waardeur die leerder met of sonder hulp besluit om sy leerbehoeftes te bepaal en dan leerdoelwitte te formuleer. Hiervolgens besluit die leerder dan wat hy gaan nodig hê om doeltreffend te leer en kies dan ook daarvolgens die strategieë wat die beste vir hom sal werk om die verlangde leeruitkomste te kry. Afrikaans.com het ondersoek ingestel en bespreek kortliks die twee konsepte – veral hoe dit in die praktyk werk.
Die verskil tussen die omgekeerde klaskamer en die tradisionele klaskamer
Die omgekeerder klaskamer
Die onderwyser gee die opdrag en voorstelle en die leerders besluit op hul eie tyd waar en hoe hulle die inligting gaan inwin. Dit kan video’s, ‘n ondersoekende taak of stemopnames wees. Die leerders kan ook die onderwerp met iemand bespreek en so verder gaan kers opsteek oor ‘n spesifieke onderwerp.
Terug in die klas, kan die leerders nou hul insigte, begrip en nuwe kennis tydens ‘n klasgesprek deel. Met ander woorde: Tydens klas word vrae gestel, die onderwerp word bespreek en indien nodig, verduidelik, veral as van die leerders met van die konsepte sukkel. Op dié manier kan die onderwyser optree as fasiliteerder en mentor en kan hy aanvullende inligting verskaf. “Dit is juis hiér waar die metakognisieproses, die sogenaamde dink-oor-die-dink-proses, plaasvind. Klastyd word dus in ʼn werkswinkel omskep. Die proses word afgesluit met ʼn projek of opdrag waarin die leerders hul insigte demonstreer en nuutverworwe kennis weergee.” Hierdie manier van leer is dus leerdergesentreerd.
Die tradisionele klaskamer
Dink gerus aan die tradisionele klaskamer-model. Die onderwyser staan voor die klas, verduidelik die werk en omdat klasse groot is, is daar nie altyd geleentheid om vir diegene wat nie heeltemal snap nie, weer te verduidelik nie. Die leerders dink ook nie altyd krities oor onderwerpe nie. Die soort benadering is dus onderwysergesentreerd.
Die voordele van die omgekeerde klaskamer-model
Sekerlik een van die grootste voordele van hierdie manier van leer, is dat voorafleer of -kennis die leerder “bemagtig vir die leerproses”, alvorens die onderwyser toetree en die leerders help om die werk behoorlik onder die knie te kry, indien nodig. Op die manier het die onderwyser meer tyd om die leerders te help.
Dis ‘n dinamiese manier van leer en word gekenmerk deur interaksie tussen die onderwyser en die leerders, maar ook interaksie tussen die leerder en sy klasmaats.
Onderrig fokus op kreatiewe probleemoplossing en “die toepassing van die nuutverworwe kennis op werklike, relevante probleme”. Leerders word dus bewus van hul eie denke, kennis en begrip en dit dra grootliks by tot die ontwikkeling van hoëordedenke – wat veral nodig is om ‘n mens se plek in die beroepswêreld vol te staan.
Leerders word gemotiveer en leer om aanpasbaar en pro-aktief te wees en innoverend te dink. ‘n Vaardigheid wat in die toekoms handig te pas sal kom, veral omdat die wêreld daagliks verander en daar nuwe beroepsmoontlikhede ontstaan.
Assessering vind in die klaskamer plaas. “Die leerder se vaardigheid in proaktiewe probleemoplossing, kommunikasie, samewerking, eksperimentering, kritiese denke en kreatiewe uitdrukking word deur uitvoering van die projekte en take wat in die omgekeerde klaskamer-model aangepak word, duidelik.” Dit is daarom nodig dat die leerder verantwoordelikheid vir die leerproses aanvaar, want hoe beter die selfstudie, hoe groter die sukses in die omgekeerde klaskamer.
Die rol van die ouer

Moedig jou kind aan om goeie tydsbestuur toe te pas en skouer aan die wiel te sit, maar gesels ook oor die werk en bied ondersteuning waar nodig. Dit sal help om jou kind se kennis te verryk en sommer ook die verhouding tussen jou en jou kind positief bevorder.
Wat beteken dié manier van klasgee vir die onderwyser?
Omdat die leerder soveel meer betrokke is by die leerproses, hoef die onderwyser nie noodwendig meer voorbereiding te doen nie. Die toegewyde en goed ingeligte onderwyser moet slegs aanpas by die nuwe manier van klasgee, soos om te besluit watter metode die beste sal werk vir die lesinhoud. Dit is nou ‘n geval van samewerking – tussen die leerder en die onderwyser in sy rol as fasiliteerder, tussen leerder en leerder – en word leer ‘n proses waar inligting uitgeruil en geanaliseer word en waar die “nuwe” kennis dan op kreatiewe maniere toegepas en benut word. Leerders beweeg dus weg van die papegaai-manier van leer en leer om te dink, te bepeins en dinge vir hulself uit te pluis.
Hoewel navorsing steeds gedoen word om te bepaal hoe om die leermodelle vir die vierde industriële revolusie aan te pas, is die omgekeerde klaskamer-model en selfgerigte leer ‘n stap in die regte rigting en is dit ‘n baie goeie grondslag vir tersiêre onderrig en om jouself in die mededingende arbeidsmark te laat geld.
Bron: Artikel in Beeld: Ted Townsend, Professionele Adviseur: Onafhanklike skole SAOU
Selfgerigte leer
“Ons visie is om (deur ons navorsing) selfgerigte leer te bevorder wat sal lei tot lewenslange leer in alle onderwyssektore deur uitstekende navorsing. Ons doelwit is om strategieë voor te stel wat kan bydra tot die onwikkeling van selfgerigte leervaardighede. ”
– Navorsingseenheid Selfgerigte leer, NWU
Navorsing toon dat studente en leerders nie die nodige vaardighede het om selfgerigte leer doeltreffend aan te wend nie. Dit kan toegeskryf word aan die meestal onderwysergesentreerde manier van klasgee, m.a.w. leerders ontvang nuwe inligting op ‘n passiewe manier en die metode help nie om leerders se selfgerigte leervaardighede te ontwikkel nie.
Wanneer ‘n leerder wel die selfgerigte leer-proses onder die knie het, hou dit talle voordele in. So ‘n leerder neem beheer en bestuur sy eie leerproses. Hy stel sy eie leerdoelwitte, toon inisiatief, kan onafhanklik werk en het gewoonlik baie deursettingsvermoë. Dit is jou optimistiese leerder wat probleme as uitdagings sien. So ‘n leerder is gemotiveer om te leer, het goeie tydsbestuur en is nuuskierig.
Die fokus moet verskuif
Ons lewe in ‘n wêreld waar daar elke dag nuwe ontwikkeling plaasvind en die eise van die vierde Industriële Rewolusie meer uitdagend raak. Daarom moet ons aanpas om by te hou en om nie êrens langs die pad agtergelaat te word nie. Een so ‘n plek is in die onderwys. Daar moet ‘n kopskuif plaasvind en ons benadering moet verskuif om leerders en studente voor te berei vir die toekoms. In die verband is selfgerigte leer dus belangrik en een van die maniere om onafhanklike en kreatiewe mense wat in staat is om probleme op te los, te kweek. Alternatiewe onderrig-leerstrategieë en –metodes is dus aan die orde van die dag en moet daar opleidingsgeleenthede geskep word om ons opvoeders van die nodige vaardighede te voorsien.
Selfgerigte leerstrategieë
Hier volg van die leerstrategieë met ‘n kort beskrywing van elkeen, wat deur die Navorsingseenheid Selfgerigte leer by die Noordwes-Universiteit ondersoek word:
- Koöperatiewe leer. Leerders werk in klein groepies saam, m.a.w. dit is ‘n aktiewe, leerdergesentreerde benadering waar daar op gestruktureerde wyse en sonder mededinging by ‘n gemeenskaplike doelwit uitgekom word. Daar word aanbeveel dat die groepe klein gehou word. Die doeltreffendheid van hierdie strategie berus op die volgende elemente:
- Positiewe interafhanklikheid. Die sogenaamde “swem saam of sink saam-beginsel, m.a.w. groepslede is op mekaar aangewese om sukses te behaal.
- Individuele aanspreeklikheid. Elke groepslid is verantwoordelik vir sy deel van die taak, maar moet ook “in staat wees om alle individuele take van die ander groepslede te kan uitvoer”.
- Bevorderlike wisselwerking van aangesig-tot-aangesig-interaksie. Groepslede help mekaar en moedig mekaar aan om die taak te voltooi.
- Sosiale vaardighede en groepprosessering. Leerders leer om mekaar te vertrou, doeltreffend te kommunikeer, mekaar te aanvaar en te ondersteun. “Deur selfrefleksie en groepsrefleksie bepaal groepslede tot watter mate hulle die gemeenskaplike doelwit bereik het.”
- Kognisie en metakognisie ter bevordering van selfgerigte leer. Dit is die “basiese verstandelike strategieë wat ons gebruik om te dink, te leer, inligting te herroep, afleidings te maak, teks te interpreteer en te verstaan, of ‘n probleem op te los. Kognitiewe strategieë help ‘n individu om ‘n bepaalde kognitiewe doelwit te bereik en metakognitiewe strategieë word gebruik om te verseker dat die doelwit bereik is. Effektiewe denke hang dus af van die gelyktydige ontwikkeling van kognitiewe en metakognitiewe kennis en vaardighede.”
- Probleemgebaseerde leer. “Dit is ‘n onderrig-leerstrategie wat die individu voorsien van ‘n indiepte-ondersoek na lewenswerklike probleme, is leerder- of studentgesentreerd en word deur die onderwyser of dosent gefasiliteer. Dit word hoofsaaklik in spanne toegepas.”
- Inheemse kennis en gekontekstualiseerde leer. Hierdie strategie fokus op “dikwels gemarginaliseerde, inheemse kennishouers, asook op leerders wat leerhindernisse ondervind wat selfgerigte leer negatief kan beїnvloed. Die fokus is onder andere daarop gerig om sistemiese hindernisse in die onderwys, soos gebrek aan toerusting en apparaat, te oorkom.
- Multimodale leer. Dit word ook soms vervlegde leer genoem, m.a.w. “van- aangesig-tot-aangesig- en e-leermetodes word gemeng”.
- Oop opvoedkundige hulpbronne. Dit is “gedeelde aanlyn en eweknie-beoordeelde hulpbronne, wat onderrigmateriaal, video’s, lesse en selfs volledige kursusse insluit”.
Bronne:
Navorsingseenheid vir selfgerigte leer by NWU. Klik hier en hier.
Selfgerigte leer: Navorsingstudie deur Neal Petersen oor die gebruik van werkkaarte in ‘n koöperatiewe onderrig-leer-omgewing. LitNET Akademies.
Luister ook hier:
Luister gerus na hierdie RSG-potgooi van 13 Februarie 2022 – Ons en die onderwys. Johan van Lill gesels met dr Corné Kruger en prof Jako Olivier van die Navorsingseenheid vir selfgerigte leer by die Noordwes-Universiteit. Hulle bespreek die omgekeerde klaskamer ter ondersteuning van metakognitiewe vaardighede vir selfgerigte leer.