Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Die kleuter van die hede is die nasie van die toekoms … so lui die slagspreuk van die Vereniging vir Voorskoolse Opvoeding en Sorg (VVOS).”
Daarom is dit belangrik dat ons kinders van kleins af gestimuleer, ontwikkel en opgevoed word in vroeëkinderontwikkelingsprogramme om hulle voor te berei vir hulle formele skoolloopbaan en om uiteindelik sukses te behaal en ’n bydrae tot die ekonomie van die land te maak.
Kinders wat die voorreg het om VKO-skole by te woon, het dikwels” ’n voorsprong en vaar beter in die toekoms, juis omdat hulle die geleentheid kry om die basiese vaardighede wat nodig is om suksesvol te leer, reeds vroeg vaslê. Nie net het vroeëkinderontwikkeling ’n positiewe impak op die kind se kognitiewe vermoëns nie, maar dit dra ook by tot die kind se emosionele en sosiale ontwikkeling”.
Maar wat is die werklike situasie in die land ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling? Is daar genoeg skole, hulpbronne en onderwysers? Is die onderwysers behoorlik opgelei? In 2019 kondig president Cyril Ramaphosa aan dat daar twee jaar verpligte Vroeëkinderontwikkeling (VKO) sal wees voordat die kinders graad 1 toe kan gaan. Toe reeds was dr Eric Atmore, adjunk- medeprofessor in Maatskaplike Ontwikkeling aan die Universiteit van Kaapstad en direkteur en stigter van die Sentrum vir Vroeëkinderontwikkeling skepties en kon hy dit nie sien realiseer nie. “Dit het die nasionale departement van basiese onderwys 18 jaar geneem om een jaar van graad R te implementeer en ons is slegs (2019) op ongeveer 80% kommissie, en baie van wat bestaan, is van swak gehalte.” Aldus Atmore.
Die werklikheid is dat baie kinders nie toegang het tot VKO-programme nie, veral in die landelike gemeenskappe. Een van die groot redes is dat ouers dit gewoon nie kan bekostig nie en daarom moet staatmaak op gesubsideerde instansies as hulle hulle kinders kleuterskool toe wil stuur. Dikwels het die opvoeders ook nie die regte kwalifikasies nie en is die fasiliteite en hulpbronne ook nie na wense nie.
VKO is soveel meer as net onderwys
Holisties beskou, hang ‘n kind se ontwikkeling van ‘n paar elemente af, naamlik gesondheid, voeding, sosiale beskerming, vroeë leer en ondersteuning vir primêre versorgers.
Hoe staan sake in Suid-Afrika ten opsigte van hierdie vyf elemente? Volgens die SA Early Childhood Review 2017 wissel die resultate.
Gesondheidsorgsektor
“MIV / VIGS-oordrag van ma tot kind is minder as twee persent, 85% van babas word in gesondheidsfasiliteite gebore. Meer as 90% van vroue ontvang voorgeboortelike dienste, 61% in die eerste 20 weke van swangerskap. 89% van kinders onder die ouderdom van een jaar is ten volle geïmmuniseer.” Dus op redelike vlak.
Sosiale beskerming
“Die resultate is gemiddeld. 80% van minderbevoorregte kinders onder ses jaar kry toegang tot die kinderondersteuningsubsidie, wat baie belangrik is vir hul ontwikkeling.

Voeding en vroeë leer
Hier vaar Suid-Afrika nie te waffers nie. “Luidens die National Income Dynamics Study (2018) is bevind dat 25% van alle kinders onder vyf te kort vir hul ouderdom is as gevolg van ondervoeding. Onder die armste kinders is verdwergingsvoorkoms 30%. Dit sal kinders lewenslank beïnvloed in terme van hul gesondheids- en leervermoë.
“Eweneens is vroeë leergeleenthede (kleuters, VKO-sentrums, kleuterskole, ens.) nie ewe beskikbaar vir alle kinders nie. Minder as 40% van die armste kinders kry toegang tot ‘n vorm van vroeë leergeleentheid, waarvan die kwaliteit dikwels twyfelagtig is.”
Voordele van vroeëkinderontwikkeling:
- Goeie gedrag en sosiale vaardighede. Kinders leer van kleins af dissipline en om met ander oor die weg te kom en saam te werk.
- Vaardighede word gestimuleer. Die kind se syfer- en taalvaardighede word reeds van vroeg af gestimuleer en verbeter en dit het ‘n positiewe impak op hulle vermoë om inligting in te neem en hulle konsentrasie te verbeter.
Die stand van sake na 1 April 2022*
Tot nou toe het Vroeëkinderontwikkelingskole (VKO) onder die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) geval, maar met beperkte personeel om die administrasie te behartig, is daar nou besluit om die VKO-skole na die Departement van Basiese Onderwys (DBO) te skuif. Na 1 April 2022 word die begroting en alle funksies dus deur die DBO hanteer, en die DMO se personeel word na die DBO se kantore verskuif. Personeel wat reeds werksaam is by vroeëontwikkelingsinstansies sit hulle werk voort soos altyd.
Voordele van hierdie verskuiwing
- VKO-skole volg ‘n formele kurrikulum
- Formele kwalifikasiekriteria word ingestel
- Voorskrifte deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO)
- Subsidies en voedingskemas
- Ontwikkeling van dokumentasie
Die implikasie indien die wysigingswetsontwerp aanvaar word
Die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) is tans nog in die konsultasiefase, maar indien die wysigingswet ten opsigte van VKO (en graad R) aanvaar word, beteken dit dat graad R-bywoning verpligtend sal word.
Alle openbare skole sal dus leerders vanaf graad R moet toelaat. Dit sal ‘n impak hê op infrastruktuur, die voorgeskrewe kurrikulum, die Nasionale Norms en Standaarde vir Skoolbefondsing (NNSSF-subsidies), die aanstel van permanente onderwysers, SARO-registrasie, beskikbaarstel van poste en die vereiste dat personeel aan die minimum kwalifikasiekriteria vir graad R moet voldoen (graad R-diploma /NKR6).
Hoe lyk die prentjie in Suid-Afrika?
- Daar sal ongeveer 25 000 klasse vir graad R opgerig moet word.
- Tans is daar slegs 7 900 gekwalifiseerde opvoeders beskikbaar.
- Dit gaan gepaard met hoë koste – nagenoeg R8.6 miljard per jaar.
- Daar is tans 15 650 openbare skole met graad R-klasse, en 7 090 skole daarsonder.
- 4 432 gemeenskapsentrums bied graad R-klasse aan.
- Daar is 19 082 graad R-praktisyns, maar slegs 7 900 persone is behoorlik gekwalifiseer.
- Privaat graad R-instansies wat nie tans aan ‘n openbare of onafhanklike skool gekoppel is nie, sal by die Departement moet registreer en sal dan moet voldoen aan bepaalde voorskrifte, soos byvoorbeeld skoolbeleid, skoolbeheerliggaam en aanstel van personeel.
*Met dank aan Fedsas en Juane van der Merwe (inligtingsessie)
Voorkeurberoep in die toekoms?
Daar is ‘n groot nood na gekwalifiseerde opvoeders en vele instellings bied kwalifikasies aan indien jy sou belangstel om ’n loopbaan in vroeëkinderontwikkeling te volg. Aspirantonderwysers kan kies uit sertifikaat-, diploma- en graadkursusse om kinders tussen die ouderdomme 0 – 9 jaar te onderrig.
“Volgens ’n voorlegging van die Departement van Onderwys wat lede van die VVOS in September 2019 bygewoon het, is die voorgestelde toekomstige vereistes vir die vlak van opleiding (2030):
- VKO: geboorte tot 3/4 jaar (teen 2030): Bestuurder – NKR Vlak 6 VKO-kwalifikasie; Praktisyn en klaskamerhulpe (assistente) – NKR Vlak 4 VKO-kwalifikasie
- Graad RR – 4/5 jaar (teen 2030): Opvoeders NKR Vlak 7 (BEd)
- Graad R – 5/6 jaar (teen 2024): Opvoeders NKR Vlak 7 (BEd)
- Die Gr R-diploma is tans gelykstaande aan ‘n NKR 6 en die BEd-graad gelykstaande aan ‘n NKR 7.
Opleidingsinstansies
- Assistant- graad R-onderwyser N6 EDUCARE (SAKO ID 67007) – Oxbridge Academy, Lyceum.
- Vlak 6 Diploma vir graad R-onderwyser: Aros, Unisa, Embury, Lyceum, SANTS, NWU, CPUT.
- BEd: Alle universiteite in Suid-Afrika.”
Op skoolvlak
‘n Nuwe KABV-vak, Vroeëkinderontwikkeling vir graad 8 en 9, is ontwikkel en geïmplementeer om leerders voor te berei op ‘n loopbaan in VKO.
Bronne & bykomende inligting:
Vir ‘n lys van geakkrediteerde opleidingsinstansies vir NKR Vlak 4, raadpleeg SAKO (Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid) se webblad:
Lees hier vir meer inligting oor die inhoud van Vroeëkinderontwikkeling vir graad 8 en 9 soos deur die Departement van Basiese Onderwys saamgestel.
Die AON en VKO
Word ‘n kleuterskoolonderwyser. Klik hier.
Matiemedia oor VKO
VVOS – Inligting vir ouers – artikels – bv. waarde van buite speel; skoolgereedheid; waarde van ontbyt
Die SA Nasionale Kurrikulumraamwerk vir kinders van geboorte tot 4 jaar. Klik hier.
SA se toekoms in hande van kleuters. Rol van VKO. Klik hier.