Min Shaw is ’n legende in ons land se musiek- en vermaakbedryf. Marinda maak ’n heerlike bobotie met ’n appelkrummellaag en Min se ouma se broodpoeding met ’n Nutella-kinkel! Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00.
BOBOTIE
Lewer 4-6 porsies
Bobotielaag
bietjie kookolie
2 groot uie, fyngekap
30 ml kerriepoeier
10 ml borrie
5 ml komyn
1 kg maalvleis
20 ml appelkooskonfyt
60 ml vleisaftreksel
1 klein blikkie tamatiepasta
90 ml blatjang
50 ml asyn
20 ml suiker
10 ml vars gemmer, fyngerasper
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Smeer ’n oondbak.
- Gooi ’n klein bietjie olie in ’n kastrol en braai die uie tot sag en deurskynend.
- Voeg kerriepoeier, borrie en komyn by en braai saam.
- Voeg die maalvleis by en braai tot dit liggies begin kleur kry.
- Meng die res van die bestanddele in ’n beker en gooi dit dan by die vleis.
- Laat dit prut vir so 10 minute en gooi dit dan in ’n oondbak.
Appellaag
1 blik tertappels
10 ml vlapoeier
10 ml witsuiker
5 ml botter
250 ml goue sultanas, geweek in rooibostee
- Kook al die bestanddele vir die appellaag stadig saam totdat dit dikkerig raak.
- Druk dit fyn en skep egalig oor die vleislaag in die oondbak.
Bo-kors
250 ml meelblom
5 ml bakpoeier
5 ml suiker
125 g botter
250 ml gerasperde cheddarkaas
- Meng al die bestanddele goed tot dit soos sand lyk.
- Krummel dit bo-oor die appellaag.
- Bak die bobotie vir 30 minute totdat die kors mooi goudbruin raak.
NUTELLA-BROODPOEDING
Lewer 4-6 porsies
8 croissante
1 potjie Nutella-sjokoladesmeer
500 ml room
250 ml melk
4 eiers
5 ml vanieljegeursel
125 ml strooisuiker
- Sny die croissante middeldeur en smeer dit dik met die Nutella.
- Pak die gesmeerde croissante soos dakteëls oormekaar in ’n oondvaste bak.
- Meng die room, melk, eiers, vanieljegeursel en strooisuiker goed.
- Gooi dit oor die croissante.
- Laat dit staan vir 60 minute.
- Bak dit dan vir 40 minute by 180 °C.
- Haal dit uit die oond en sit voor met vla of roomys.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Min Shaw.
Fantastiese program en huis kos,so vinnig en smaaklik. Geniet die program baie, kosmaak is my passie en antidepressant!!!🌹