Skrywer: Nicolette Kritzinger
Die Silwerskermfees is uiteindelik hier en een van die vollengte films wat beloof om vanjaar ’n hoogtepunt by die fees te wees, Vlugtig, word vandag, 25 Maart 2022, bekendgestel. Die film is oorspronklik in 2017 ingeskryf by die Silwerskermfees as ’n kortfilm, maar die potensiaal is raakgesien om dit in ’n vollengtefilm te omskep waarna skrywer Ernst van Wyk die boeiende teks neergepen het.
Vlugtig vertel die verhaal van die aspirantakteur Simon Berg (Arno Greeff) wie se lewe ‘n onverwagse wending neem wanneer hy ‘n uitnodiging ontvang om saam met sy rolmodel, die befaamde teaterregisseur Andreas Vog (Ernst van Wyk), aan laasgenoemde se nuwe Rooikappie-toneelstuk te repeteer. ‘n Reeks gebeure lei daartoe dat Simon onder die sadistiese Andreas se onortodokse metodes ly, met slegs sy medester, Chantel Opperman (Jane de Wet), wat hom bemoedig om voort te stoei.
Ander bekende gesigte soos Tobie Cronjé, Simoné Pretorius, Altus Theart, Annie Malan, Schalk Bezuidenhout, Gerald Steyn en Hannes Brümmer maak ook hul verskyning in dié film wat beloof om jou van begin tot einde op die punt van jou stoel te hou.
Afrikaans.com het met regisseur Marinus Gubitz gesels om meer uit te vind oor die film en die interessante toneelspeltegnieke wat in die film gebruik word. Maar eers …
Waaroor gaan Vlugtig?
Simon Berg se droom van toneelspel is aan flarde. Al sy jeugambisies van die rooitapyt het nou plek gemaak vir vernederende rolle op ‘n kinderprogram asook desperaatheid dat iemand hom in ‘n oudisie sal raaksien vir die talent wat hy is. Sy geluk draai egter wanneer sy rolmodel-regisseur met ‘n ultimatum aan sy deur kom klop. Dis ‘n byna Messiaanse oomblik wanneer Andreas aan Simon die rol van ‘n leeftyd – in die rol van houtkapper sowal as die wolf – in sy nuwe Rooikappie-toneelstuk bied. Die enigste voorwaarde is dat Simon alles wat in sy lewe aangaan prysgee en saam met Andreas in die kar klim om te gaan repeteer. Dit vat nie veel oortuiging nie en Simon durf die reis saam met Andreas aan. Wat Simon egter nie besef nie, is dat hy eintlik Rooikappie is wat in die pad val saam met die wolf en dié se duistere motiewe.
By Andreas se huisie in die woud aangekom ontmoet Simon sy mede-akteur, Chantel, ‘n treffende jong aktrise wat al baie meer as hy in die vermaaklikheidsbedryf bereik het. Ten spyte van die aanvanklike intimidasie wat hy ervaar, raak hy vinnig gemaklik met haar. Sy’s toeganklik, oop en opgewonde oor hom as mens.

Voordat hulle begin repeteer, moedig Andreas Simon aan om hout te kap, sodat hy gewoond kan raak aan die gevoel van die byl. Die sessies raak egter al hoe langer en meer uitmergelend soos die proses vorder. Dis ook nie lank nie voor Andreas tydens repetisies vir Simon met kritiek begin peper. Meeste daarvan taamlik onredelik. Dit raak duidelik dat Andreas besig is met meer as net method acting. Daar’s iets anders aan die broei. Andreas is besig om aan Simon se menswees te karring.
Gelukkig het Simon ‘n verlate kothuis in die woud ontdek waar hy nou en dan kan ontsnap van die wolk van spanning wat oor Andreas hang. Gepaard met Chantel se lieflike teenwoordigheid, mag hy dalk nog die proses in een stuk oorleef. In hierdie kothuis ontdek Simon nuwe dimensies van homself. Vaardighede en talente wat waagmoed by hom inboesem, wat hom selfstandig maak. Vaardighede wat hom laat besef dat hy nie so hulpeloos is as wat hy voorheen gedink het nie.
Simon word egter steeds tot die uiterste gedryf deur Andreas se onverbiddelike aanslae, maar wanneer Andreas sy fokus na Chantel toe skuif, breek die wolf in Simon uiteindelik los.
In gesprek met die regisseur
In die film, maak regisseur Andreas gebruik van ’n metode genaamd method acting. Hierdie tegniek is welbekend in die teaterwêreld en behels metodes wat die akteur help om ’n beter verstaan te kry van die ervarings van die karakter om hul vertolking na gelang daarvan aan te pas ten einde geloofwaardigheid aan die karakter te verleen. Deur hierdie metode te volg, verstaan en identifiseer die akteur met die karakter se innerlike motivering en emosies.
In Vlugtig neem die regisseur dit egter te ver en sien ons die impak wat dit op Simon se emosionele en fisiese welstand het. Op ’n vraag oor of Vlugtig-regisseur Marinus ’n voorstander van hierdie metode is, antwoord hy: “Persoonlik glo ek tot ’n sekere mate in hierdie metode. Ek glo dit is belangrik om te weet wanneer hierdie tipe voorbereiding nodig is, en wanneer dit beter sal wees om eerder nie te diep in ‘n karakter in te duik nie,” sê hy. “Dit hang ook maar af van die akteurs en hoe hulle die projek aanpak, maar dit is vir my belangrik dat almal betrokke 100% gee, en as dit buitengewone metodes van voorbereiding insluit, hoekom nie?”

Foto deur Lelanie du Preez
Regisseur Marinus Gubitz
Maar waar trek ’n mens die lyn? “Daar is definitief ‘n lyn, en die akteurs en regisseur moet darem weet waar dit is, want dit word nie altyd op die regte manier gedoen nie. En dan is party akteurs so goed, hulle kort net ‘n sekonde om in die karakter in te spring.”
Die vraag is dan egter, is dit moontlik om ’n karakter te word, of sal akteurs altyd maar net ’n karakter vertolk? “Dit is definitief moontlik,” meen Marinus. “Hoe meer jy soos die karakter begin loop, praat en aantrek, hoe meer begin jy om so te dink. Ek dink wat mens bedoel deur die karakter te word, is dat jy gemaklik moet raak met wie die karakter is. En hoe meer jy iets begin doen, begin herhaal, hoe makliker word dit. Om die karakter te word het meer te doen met gewoonte en gemak. Jy word dit wat om jou is, die dinge wat jou beïnvloed, en wat jy besluit om in te neem. Dus glo ek dat wanneer jy jouself totaal en al in ‘n wêreld ingooi, hoe makliker sal dit wees om deel van daardie wêreld te word. Wanneer dit by toneelspel kom, is die oë vir my die belangrikste – ‘n akteur se oë sal vinnig kan wys of daardie karakter daar binne lewe of nie.”
As regisseur bly dit ’n uitdagende proses om die emosionele reis waardeur karakters gaan geloofwaardig uit te beeld. “Die emosies in die film is iets wat ‘n baie fyn balans nodig gehad het,” sê Marinus. “Die grootste uitdaging was om seker te maak dat mens net genoeg van elke emosie gee – nooit te veel nie, nooit te min nie.”
In Vlugtig gaan elke karakter deur sy of haar eie unieke emosionele reis waarvan die mees komplekse sekerlik dié van Simon is. Hoe het Marinus hierdie reis saam met akteur Arno Greeff aangepak? “Ons het baie fokus op die verskillende fases van Simon se emosies geplaas sodat ons seker was dat nie een toneel dieselfde sou wees nie. Dit was belangrik dat hy op sy eie unieke manier deur die film beweeg, en met die invloed om hom, sy emosies bestuur. Al was daar oomblikke waar dit gevoel het dat die emosies moet oorloop, het ons dit steeds probeer terughou, want die krag van die film was in die subtiele, fyner details.
“Omdat Ernst van Wyk en Arno Greeff ook deel van die oorspronklike kortfilm was, het hulle maklik in die rolle ingespring. En Jane de Wet het van dag een af geweet wie en wat sy wil speel. Die hooffokus was om die karakters se eienskappe en lewens te bestudeer, om seker te maak mens weet wie hulle is, sodat die akteurs die karakters amper die heeltyd kon leer ken.”
Alhoewel die film fiktief is en binne ’n spesifieke konteks afspeel, laat dit die kyker met ’n vraag oor die realiteite van die toneelindustrie en die uitdagings waarmee akteurs dikwels worstel. In Vlugtig gaan Simon gebuk onder hewige kritiek, nie alleenlik oor sy toneelspel nie, maar ook oor sy menswees.
“’n Lewe op die verhoog, en op die skerm, is opwindend, maar skep ook baie geleenthede vir kritiek en haat,” sê Marinus. “Akteurs, skrywers en regisseurs gee baie van hulself oor aan die kyker. Die skrywer Neil Gaiman het gesê om ‘n storie te vertel is soos om kaal by die straat af te loop. In hierdie bedryf gaan jy altyd wonder of jy beter kon doen, of wat jy doen die regte ding is. En vir mense wat dit nie ken nie, kan baie van wat ons doen as vreemd en anders aanskou word. So, ek dink dat Vlugtig dit hier en daar regkry om meer van die industrie op ‘n simboliese manier met die kyker te deel.”

Foto deur Lelanie du Preez
Marinus gesels met die akteurs op stel.

Foto deur Lelanie du Preez
Oefening vir houtkaptoneel in Vlugtig.
Interessante feite oor Vlugtig:
- Vlugtig is gebaseer op die kortfilm met dieselfde titel wat in 2017 die eerste keer by kykNET se Silwerskermfees vertoon is.
- Vier byle het gebreek tydens die verfilming van die houtkaptonele in die rolprent.
- Die karakter van “41” word vertolk deur die regisseur, Marinus Gubitz.
- Tobie Cronjé het nooit gedink hy sal die woord “drol” op skerm hoef te sê nie.
- Vlugtig is grotendeels verfilm in Magoebaskloof in Limpopo.
- Vlugtig was in voorproduksie om te skiet in Februarie 2020, maar moes uitgestel word na September 2020 weens die Covid-19-pandemie.
- ‘n Eucalyptus saligna-boom met die naam ‘Fourth Kin’ in Magoebaskloof is die hoogste geplante boom ter wêreld en toring 83,7 meter in die lug.
Die première van Vlugtig vind op 25 Maart 2022 by die Silwerskermfees plaas en sal ook op BoxOffice beskikbaar wees.
Die film sowel as die opinies wat uitgespreek word in die film verteenwoordig nie die siening van Afrikaans.com of enige van ons medewerkers nie.