Deur: Erik Kruger
Die wêreld hou aan om teen ’n ongelooflike vinnige tempo te verander en te ontwikkel. Eintlik is dit op die oomblik nogal ’n skrikwekkende plek om in te bestaan.
Wat dit so vreesaanjaend maak, is dat drie dinge besig is om gelyktydig te gebeur:
- Verandering vind vinniger plaas. Ons sien dit in alle fasette van die lewe en besigheidswêreld.
- Daar is ’n ongelooflike akkumulatiewe effek. Dit is klaar ’n groot uitdaging om een groot verandering te hanteer, wat nog te sê van veelvuldige veranderinge soos Covid, van die huis af werk, trek, werk verloor, by ’n nuwe werk begin, beurtkrag, stygende brandstofpryse en oorlog.
- Die grootte van verandering het toegeneem. Of dit nou net ons persepsie van verandering of die werklike grootte daarvan is, voel alles net groter en erger om te hanteer.
In hierdie artikel, wil ek drie denkpatrone deel wat jou meer suksesvol sal maak in moderne en chaotiese tye.
Chaosbestuur
Die mees nuttelose raad wat ’n mens vir iemand kan gee, is om nie bekommerd te wees nie. Al is die bedoeling hoe goed, weerspieël dit hoegenaamd nie die werklikheid nie. Mense kan nie anders as om bekommerd te wees nie.
Miskien moet ons dan, in plaas daarvan om te sê om nie bekommerd te wees nie, daarop fokus om bekommerd te wees oor die dinge wat regtig saak maak. Daar is baie aspekte wat jou bestaan beïnvloed, maar net ’n handjievol wat dit regkry.
Die beste benadering is om te leer om jou denke te beheer. Dit beteken dat jy moet verhoed dat sekere gedagtes en bekommernisse jou van stryk bring en jou aandag fokus op wat regtig belangrik is.
Wees kreatief
Kreatiwiteit word dikwels gesien as iets wat ‘kreatiewe mense’ doen. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. Die oorspronklike Latynse woord vir kreatief is creare, wat beteken om iets te skep of tot stand te bring.
Wanneer jy kreatief is, skep jy iets nuuts. Dit is nie net noodsaaklik om die toekoms te skep wat jy wil hê nie, maar dit is ook ’n manier om jouself en hoe jy oor die wêreld dink, te weergee.
Ons leef in ’n wêreld waarin daar sonder perke geskep kan word. Jy het niemand se toestemming nodig om ’n video, ’n potgooi, ‘n nuwe diens of produk te skep nie. Die internet gee vir ons die nodige toegang tot gereedskap en mense wat ons kan help om van elke droom ’n realiteit te maak.
Gee aandag aan onsekerheid
Sekerheid het die gebou verlaat en sal heel waarskynlik vir ’n rukkie uitstedig wees. Wat dit beteken, is dat jy al hoe minder oomblikke sal hê waar jy besluite sal kan neem met volle oortuiging dat dit die regte ding is om te doen.
Leiers moet dus leer om in die ruimte tussen swart en wit te werk. Ons leef nou in ’n ‘dit-hang-af-era’. Toe ek nog in besigheidskool was, het ek vinnig geleer dat die antwoord op elke vraag was dat dit “afhang van sekere faktore”. Dit hang af omdat die konteks die omgewing verander, en alles anders verander. Die regte ding vir vandag is dalk môre die verkeerde een.
Die beste manier om onsekerheid te hanteer, is bloot om meer aandag daaraan te gee. Maak seker dat jy uit die staanspoor besef dat die besluite wat jy nou neem soms reg en ander kere verkeerd gaan wees. As jy hard hieraan werk, sal jy leer en sal jou oordeel ook mettertyd verbeter.
Erik Kruger is ’n internasionale spreker en skrywer. Sy nuwe boek, Dangerous, sal vanaf 14 April 2022 in goeie boekwinkels of aanlyn beskikbaar wees. In hierdie boek, onthul Kruger dat daar net een ding is wat jy kan doen wanneer jy bedreig word: Werp jouself in die stryd en raak gevaarlik (Dangerous).
Hy gee jou die gereedskap om die beste te maak van jou dapperheid, voornemens en vermoëns en help jou om te verander hoe jy dink, voel en optree, sodat jy jou uitdagings en nog meer kan oorkom.
Dangerous is jou uitnodiging om beter, sterker en vinniger te wees.
SOSIALEMEDIASKAKELS:
FACEBOOK: https://www.facebook.com/erik.kruger.359
INSTAGRAM: @erik_kruger
TWITTER: @EricKruger
YOUTUBE: https://youtube.com/c/ErikKruger
TIKTOK: @erik_kruger