Idiome en spreekwoorde is vaste uitdrukkings wat eie en uniek aan ’n bepaalde taal en kultuur is. Elke taal en kultuur en die gebruike binne daardie spesifieke konteks gee ’n unieke betekenis aan hierdie uitdrukkings wat soms vir mense uit ander kulture vreemd klink. Verskeie idiome en spreekwoorde verwys na die natuur en die omgewing. Dit dui op ’n hegte verhouding tussen die mens en die natuur. Juis daarom is die tema “aarde” vir die idiome en spreekwoorde in die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se sakgids gekies. Met hierdie tema wil hulle die unieke verskynsel vier dat verskillende tale en kulture ’n gemene deler in die natuur vind. Hulle wil ook erkenning gee aan die feit dat die aarde ’n lewensbelangrike rol in ons elkeen se bestaan speel. Die idiome en uitdrukkings in hierdie boek herinner aan die uiteenlopende geografiese landskappe van Suid-Afrika en aan ons gesamentlike verantwoordelikheid om ons omgewing te bewaar.
Bevorder veeltaligheid
Die vier tale in Ons almal loop op dieselfde aarde – Afrikaans, isiXhosa, Engels en Setswana – bied elk ’n reeks idiome waarvan die wortels binne elke spesifieke taalkonteks lê. Daar is telkens gepoog om ’n ekwivalent vir elke idioom in die ander tale te voorsien. Omdat idiome en spreekwoorde so diep binne ’n sekere kultuur gewortel is, moes die samestellers egter in sommige gevalle tevrede wees met ekwivalente wat slegs rakelings ooreenstem. In hierdie gevalle het hulle hul deur die betrokke tema van die idiome laat lei. Die doel van hierdie sakgids is om veeltaligheid te bevorder deurdat ons die idiome en spreekwoorde van Suid-Afrika se inheemse tale bewaar.
Terselfdertyd wil die SBA ’n harmonieuse verhouding tussen die verskillende kulture bevorder deurdat die vier verskillende tale se sprekers by die ander tale kan leer op watter kreatiewe maniere húlle die aarde in idiome en spreekwoorde gebruik.
Ons almal loop op dieselfde aarde is die tweede SBA-projek in die idiomereeks oor die vier natuurelemente. Die eerste weergawe het gefokus op water; hierdie uitgawe fokus op die aarde, en wind en vuur sal in die toekoms die lig sien. Setswana is in hierdie sakgids bygevoeg omdat dit ’n algemene gebruikstaal in die Noord-Kaap met sy oorvloed grond en klip, is.
Jy kan WEN!
Die SBA nooi alle leerders in graad 8 of 9 uit om deel te neem aan ’n fotokompetisie. Deelnemers kan die kans staan om weg te stap met ’n splinternuwe slimfoon en ’n kontantgeskenkbewys ter waarde van R10 000 vir die betrokke skool waarin hul is. Klik hieronder om meer te leer oor hoe jy kan inskryf.
Wie is die SBA?
In 1992 is ’n Afrikaans- Geletterdheidstrust gestig om spesifiek in die Wes-Kaap Afrikaansgebruikers in veral plattelandse gemeenskappe, te bemagtig. Uit hierdie trust is die SBA gestig. Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Klik hier vir die SBA-historie van Stigting tot 2019-boekie.
Geletterdheid omsluit alle kommunikasievaardighede wat verwerf word op grond van gesproke en geskrewe taalvaardighede en wat noodsaaklik is vir die uitlewing van volle menswaardigheid op alle lewensterreine. Die SBA-projekte word saamgestel en ontwikkel om te help met nasiebou deur Afrikaans, en ingeboude veeltaligheid is ’n belangrike komponent daarvan.
Ek hou baie van foto’s neem van die natuur , en Afrikaans het my groot gemaak . Ek wil baie graag in hierdie deel neem , want dit klink na n baie interesante manier om die natuur in al Suid Afrika se tale te bewonder . Ek hoop ek staan n kaans om te wen .