Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“As Herman Lensing ’n tert was, was hy eenhonderd persent ’n cremora-tert.” Só lees ek in ’n onderhoud wat Hanlie Retief met Herman Lensing gehad het. En lees ’n mens verder oor Herman, en beleef jy hoe hy selfs ’n eenvoudige tert kan “optert”, besef jy gou, dié glanssjef is beslis nie op die wêreld van ons geplaas om net ordinêr te wees nie. Herman het dit wat hy aanvanklik by sy ma geleer het sy eie gemaak en vandag kook hy saam met die bestes in die bedryf. Elke bestanddeel en geur en gereg in sy hande is met passie deurspek en kyk jy na een van sy TV-programme en hoor jy hom praat oor die kos, of lees jy sy rubrieke en blaai deur sy kookboeke, weet jy … die eindresultaat gaan asemrowend wees – selfs al is dit dan nou net die beskeie cremora-tert. Afrikaans.com het met Herman gesels oor sy komvandaan, sy inspirasie en sy Afrikaanse wortels. Ons deel dit graag met jou.
Herman vertel dat hy in Johannesburg gebore is, maar dat hy hom as ’n kind van die Noord-Kaap beskou omdat sy grootword- en vormingsjare in Upington was. Nadat hy aan die Hoërskool Duineveld gematrikuleer het, het hy sy sjefskwalifikasie by die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch behaal.
’n Mens kan die wêreld beter maak met ’n bord kos
Sekerlik sy grootste inspirasie en die persoon wat die passie vir kosmaak in hom aangewakker het, was sy ma, Susan. Sy het op ‘n stadium ’n baie suksesvolle tuisbedryf, Sandies, in Upington begin en vir lank ook ’n gastehuis gehad. “Haar toegewydheid tot dié besighede en haar liefde vir kosmaak, en om só mense gelukkig te maak, het ’n baie groot rol gespeel in wie ek vandag is. Sy het my gereeld herinner aan twee goed: ’n Mens kook vir die man agter die bult en ’n mens kan die wêreld beter maak met ’n bord kos.”
Yes … no … Fanta!
Met die dat Herman in Upington grootgeword het en daarom oorwegend Afrikaans, omdat Engels nou nie juis hoog op die agenda was nie, kan ek nie help om te wonder of dit hom enigsins ’n agterstand gegee het toe jy jonk-jonk die wêreld in is en sy merk in die oorwegend Engelse mediawêreld moes maak nie. Maar Herman vertel ’n ander storie: “Ek spot altyd dat toe ek grootgeword het, het ek net drie Engelse woorde geken: Yes, no en Fanta! Ons het goeie Engelse onderwysers op skool gehad, maar om Engels te praat was nie noodwendig daagliks op die spyskaart nie. Ek voel geensins dat die minder blootstelling wat ek aan Engels as omgangstaal in my grootwordjare gehad het, my in my latere loopbaan genkiehalter het nie. Net omdat jy baie vlot in ’n spesifieke taal is beteken dit nie jy gaan altyd uitstyg nie… Met passie en deursettingsvermoë kan jy baie ver kom.”
Vat daai kans!
Herman was bitter jonk toe hy as kosredakteur by Sarie aangestel is. In sy woorde: “Ek het ’n groot kans gevat om aansoek te doen, en het nooit in my wildste drome gedink Michelle van Breda (Sarie se redakteur) gaan my kontak vir ’n onderhoud nie. Maar vir my was dit belangrik om aansoek te doen, om die moed bymekaar te skraap en in myself te glo. Uiteraard was ek stomgeslaan toe Sarie my kontak vir ’n onderhoud, en toe Michelle my vir ’n tweede ontmoeting kontak en sy die posisie vir my aanbied, het ek uit skone skok opgespring en basies uit haar kantoor gehardloop! Dit was ’n droom wat bewaarheid is, maar ek het geweet ek gaan myself steeds moet bewys en dat daar eintlik meer druk op my gaan wees om suksesvol te wees oor ek so jonk was.”
Die selferkende perfeksionis vertel egter dat as dit by sy werk kom en veral as dit ’n geval is om die visie wat hy vir projekte het suksesvol uit te voer, hy baie hoë standaarde vir homself stel. Dit is dan ook die rede hoekom die Sarie-omgewing en die mediabedryf hom destyds dadelik soos ’n handskoen gepas het. “Maar ek het allermins alles geweet, en moes baie leer. Ek moes ook vinnig ‘groot word’, want skielik was ek omring met ongelooflike talentvolle, hardwerkende en gerekende joernaliste en mense wat jare se ervaring in die tydskrifomgewing gehad het.”
Ons word daagliks gebombardeer met kosprogramme, kostydskrifte en -boeke, maar watter eienskappe laat iemand soos Herman uitstaan? “Jy moet bereid wees om na mense te luister en van hulle te leer – ongeag wie hulle is of waar hulle in ’n rangleer inpas. Selfdissipline is noodsaaklik, want in dié bedryf bestaan jou lewe uit spertye en om aanpasbaar te wees.”
Eerlik en sonder pretensie
Pretensieloos. Dit is wie Herman is – net soos sy antwoord op watter gereg of gebak hy sou wou wees: ”’n Tuisgebakte brood met egte plaasbotter – eerlik en sonder pretensie, en as jy verkies om my nie te eet nie, is dit ook oukei!”
Soos elke goeie vakman, het sjefs ook hulle gunsteling- of dan onmisbare bestanddele, werktuie en katoeters waarsonder hulle nie graag kook nie. Herman vertel dat ’n mens altyd plaaslike olyfolie, botter, room en geblikte tamaties in sy spens sal kry. En behalwe die gewone messe en lepels, is sy Le Creuset-potte en sy voedselverwerker die items waarsonder hy nie kan klaarkom nie. Veral as dit kom by sy gunstelinggereg: “’n Groenboontjiebredie gelooi met witpeper.”
Omdat dit verlede maand moedertaalmaand was, wou ek natuurlik by Herman weet hoe hy oor moedertaalonderrig voel. “Ek dink as ’n mens in die posisie is om moedertaalonderrig te ontvang, moet jy dit omarm. Dit is deel van jou identiteit en persoonlikheidsvorming. En inderwaarheid help dit om individualisme aan te wakker.
“Dink net so daaraan – as almal in ’n blik gedruk word om in ’n spesifieke taal onderrig te ontvang, word jy dalk net ‘nog ’n nommer’. Terselfdertyd glo ek dat as jy vir jou eie moedertaal respek het, dit jou meer respekvol maak teenoor diegene wat ’n ander taal liefhet, want jy het begrip vir die passie wat hulle daarvoor het. ’n Moedertaal, ongeag wat dit is, moet wel ook ruimte bied vir vrye en kreatiewe denke.”
En dit is Herman Lensing.
“Vat alles met ’n knippie sout … want hoe ouer ek raak, hoe meer leer ek dat ’n mens nie altyd alles of almal te ernstig moet opneem nie.”
Aldus die man met die mooiste smaail in die bedryf.
As jy hou van resepte en graag lekker, pretensielose kos met ‘n kinkel kook, is een of meer van Herman Lensing se boeke ’n moet op jou wenslysie. Kies uit: Huiskos – Nostalgie is die beste geurmiddel; Dit proe soos huis – geure van my ma se kombuis; Nog ’n voorskoot, en Voorskoot.
Lees ook dié artikel oor Herman Lensing en hoekom hy juis Hartenbos uitsonder.