Die aktrise Vinette Ebrahim kuier by Marinda in die kombuis. Marinda maak vir haar haar ouma se begrafnisbroodjies met verskillende kleure botter en vir die soet gereg smul hulle aan pynappelpoeding. Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00.
PYNAPPELPOEDING
Lewer 6-8 porsies
2 pakkies pynappeljellie
1 blikkie yskoue Idealmelk
1 blikkie fyn pynappel
- Maak die jellie aan volgens die aanwysings op die pakkies. Gebruik van die pynappelstroop as deel van die 2 koppies koue water.
- Sit in die yskas tot die jellie net-net begin stol.
- Klits die Idealmelk en pynappel by.
- Laat stol oornag in een groot bak of in mooi kleiner houertjies.
- Sit voor met vla.
BEGRAFNISBROODJIES
Maak 24 broodjies
Reënboogbroodjies
4 Albany-brode (2 wit en 2 bruin)
1 blok sagte botter
12 eiers, hardgekook
Bovril
mayonnaise
1 ui, fyngerasper
500 ml kaas, fyngerasper
sout
peper
Aromat
1 blikkie fyn tuna in water
- Vulsel 1: Meng 40 ml botter en 20 ml Bovril. Klits dit met ’n vurk tot dit sag en goed gemeng is.
- Vulsel 2: Meng 40 ml botter en 20 ml mayonnaise. Rasper 2 gekookte eiers op die fyn kant en meng met die bottermengsel. Geur met Aromat, sout en peper.
- Vulsel 3: Meng 40 ml botter en 20 ml mayonnaise. Voeg 125 ml fyngerasperde kaas en 5 ml fyngerasperde ui by.
- Vulsel 4: Meng 40 ml botter en 20 ml mayonnaise. Dreineer tuna en meng met bottermengsel.
- Die orige eiers kan jy deursny, die eiergeel uithaal en meng met mayonnaise. Geur met sout en peper en skep die vulsel terug in die uitgeholde eier.
Pak 4 stapels brood van 5 snye elk opmekaar.
Smeer van die vulsels tussen elke 2 snye.
Sny die korsies met ’n skerp mes af.
Draai die broodjies toe in kleefplastiek en sit vir ten minste 8 ure in die yskas.
Sny dit in driehoekies of in kwarte.
Biltongbroodjies
1 Albany-witbrood
1 blokkie sagte botter
Bovril
1 houer kaassmeer
1 houertjie fyngerasperde biltong
- Smeer ’n snytjie brood met botter en Bovril. Plak nog ’n snytjie bo-op.
- Sny die korsies af en smeer smeerkaas aan beide kante.
- Druk die broodjies in die fyn biltong en sny in driehoeke.
- Sit voor met fyngekapte blaarslaai en krulblaarpietersielie.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Vinette Ebrahim