Op Stoofstories met Marinda, kuier en kook Marinda die week saam met die veteraanakteur Albert Maritz. Kom deel in die soet en die sout en smul saam aan bokmelkkaasrolletjies, roomkaas met pekanneute en heuning en ‘n heerlike Peppermint Crisp-tert – ‘n nagereg wat Albert aan sy ma laat dink. Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00.
BOKMELKKAASROLLETJIE
60 ml sprietuie, fyngekap
60 ml pietersielie, fyngekap
15 ml basiliekruidblare, gekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
knippie sout
knippie growwe swartpeper
15 ml suurlemoenskil, fyngerasper
1 rolletjie ongegeurde bokmelkkaas
125 ml pekanneute, fyngekap
olyfolie
- Gooi die sprietuie, al die kruie, die knoffel en die sout en peper in ’n bak en meng dit. Haal 60 ml uit waarin die kaas later gerol kan word.
- Voeg die suurlemoenskil by die kruiemengsel.
- Meng die sagte bokmelkkaas by die kruiemengsel in die bak.
- Maak ’n wors met die kaasmengsel op ’n bakplaat met kleefplastiek uitgevoer, en draai dit styf toe in die kleefplastiek. Sit dit in die yskas vir 30 minute.
- Gooi die res van die kruiemengsel en pekanneute op ’n stuk bakpapier en rol die kaaswors in die neute totdat dit reg rondom bedek is.
- Sprinkel olyfolie oor voordat dit geëet word.
ROOMKAAS MET PEKANNEUTE EN HEUNING
1 houer Philadelphia-roomkaas
125 ml pekanneute, gerooster
100 ml heuning
growwe sout
- Rooster die pekanneute in ’n pan en laat dit afkoel.
- Sit die kaas op ’n mooi bord en gooi die heuning en pekanneute bo-oor.
- Strooi ’n klein bietjie growwe sout oor.
PEPPERMINT CRISP-TERT
500 ml room (“whipping cream”)
3 blikkies karamel
2 Nestlé Peppermint Crisp-sjokolades (150 g elk), fyngebreek
2 pakkies Tennisbeskuitjies
2 Nestlé Aero Peppermint-sjokolades (85 g elk)
vars mentblare
- Klits die room tot sagtepuntstadium.
- Maak die karamel sag in ’n bak deur dit met ’n lepel te roer.
- Roer die karamel by die room.
- Vou die Peppermint Crisp-sjokolade in.
- Sit een pakkie Tennisbeskuitjies onderin ’n gesmeerde bak en smeer die helfte van die mengsel oor.
- Plaas nog ’n lagie Tennisbeskuitjies bo-op en smeer die orige mengsel oor.
- Breek die Aero in growwe stukke en strooi bo-oor.
- Maak dit toe met kleefplastiek en los oornag in die yskas.
- Rond af met die mentblaartjies.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Albert Maritz