“Dit is baie belangrik om in jou moedertaal skool te gaan, veral in die laerskool. Dit is omdat ‘n mens vinniger verstaan en makliker nuwe werk leer. En juis omdat ons Afrikaans so goed onder die knie gehad het, het ons goed reggekom in die hoёrskool waar party van ons vakke en handboeke in Engels was. Buitendien voel ‘n mens net soveel gemakliker in jou moedertaal en is dit makliker om deel te neem aan gesprekke of om kennis oor te dra. Ons het beslis nie ‘n agterstand omdat ons in ons moedertaal skoolgegaan het nie.”
– Christiaan en Carla Botes

Só presteer ‘n mens mos deur Afrikaans!
Kom ons wees nou maar eerlik: Skoolgaan vandag is nie vir sissies nie. Daar is talle uitdagings waaraan ons leerders blootgestel is en veral die afgelope twee jaar was een groot uitdaging – nie net vir leerders en hulle ouers nie, maar ook vir ons onderwysers. En tog is daar steeds talle voorbeelde van leerders wat ongeag die omstandighede steeds buitengewoon presteer. Soos die tweeling, Christiaan en Carla Botes. Hulle was in Helpmekaar Kollege en het onderskeidelik 14 en 10 onderskeidings losgeleer en -geskryf in die 2021-matriekeksamen. Hulle het die Onafhanklike Eksamenraad- (IEB-) se eindeksamen geskryf. Afrikaans.com het met die twee skrander jongmense gesels oor wat dit geverg het om soveel sukses te bereik, hoe moedertaalonderrig tot hulle sukses bygedra het en oor hulle planne vir die toekoms.
Vertel ons so bietjie meer oor julle belangstellings.
Christiaan: Ek hou van skaak en e-sport (vir diegene wat nie weet wat e-sport is nie – kyk in die kassie hier langsaan). En dan stel ek baie belang in karre, maar veral motorsport – maar meer wat agter die ontwerp van die renmotors en die ontwikkeling daarvan lê. Ek hou veral van Adrian Newey, die hoof- tegniese beampte van die Red Bull Formule 1-span en sy ontwerpe. En dan bly rekenaars en programmering ‘n passie – ek het op 13 my eerste rekenaar gebou.
Carla: Ek hou van hokkie en lees, maar my groot passie is somatologie (‘n dinamiese veld in die skoonheidskundewêreld met verskeie loopbaanmoontlikhede – sien kassie) en daarom is dit wat ek gaan doen.
E-sport
Dit is aanlyn rekenaarspeletjies wat in spanverband teen ander spanne wêreldwyd gespeel word en is een van die aktiwiteite wat deur Helpmekaar aangebied word.
Die voordele van e-sport is:
- Deelnemers leer om strategies te dink; en
- Om optimaal in ‘n span te funksioneer.
Die beste van alles? Jou beserings in die sport is dalk ‘n stywe nek en seer vingers en miskien selfs seer oё, maar darem nie gips, verrekte spiere en ‘n blou oog nie. En die weer kan ook maar guur wees!
Wat is somatologie?
Dit is ‘n multidissiplinêre studie van die menslike liggaam waar die vel en liggaam behandel word deur ‘n holistiese benadering in te span. Studente word opgelei in verskeie tegnieke en behandelings, soos onder andere masseringstegnieke, aromaterapie, refleksologie, limfdreinering en chemiese afskilfering. En nadat ‘n mens volledig opgelei is, is die loopbaangeleenthede legio en kan ‘n mens selfs jou eie onderneming bedryf.
Om so te presteer beteken ure voor die boeke – het julle ooit gevoel dat julle nie genoeg tyd het vir ontspan nie en was daar darem tyd om saam met julle vriende te kuier?
Albei: Ons voel nie ons het te veel misgeloop nie. Ons het geweet ons sou moes opofferings maak om goed te presteer en was oukei daarmee. Ons kon darem oor naweke ontspan en saamkuier as daar nie toetse of eksamens was nie. En vakansietye het ons darem kon opmaak daarvoor. Goeie tydsbestuur en dissipline het ons verder baie gehelp.
Dit is baie vakke. Hoe het julle tyd gekry om by alles uit te kom?
Christiaan: Ja, 14 vakke is nogal baie, maar my onderwysers het my baie tegemoetgekom. Ek kon nie al my klasse bywoon nie en moes selfstudie inspan. Hulle het my toegelaat, solank ek net in die klas was vir toetse en eksamens. Wat ook baie gehelp het, is dat ons vanaf graad 10 tot 12 in dieselfde groep met dieselfde onderwyser ingedeel is vir vakke soos gevorderde wiskunde en fisika.
Carla: Ek dink my vakke was darem makliker as Christiaan s’n, maar ek moes ook maar tydsbestuur toepas om by alles uit te kom. Een van my gunstelingvakke was Gevorderde Afrikaans waar ons boeke gelees en bespreek het en gedigte ontleed en dan opstelle daaroor moes skryf.
Wat dink julle is die wenresep wanneer dit kom by toetse en eksamens?
Albei: Weer eens tydsbestuur en om van die begin van die jaar hard te leer en jou bes te doen. Ons het veral gesorg dat ons goed voorbereid was vir die rekordeksamens, want ‘n mens skryf mos maar eintlik oor dieselfde werk in die eindeksamen. Moenie huiwer om jou onderwysers te vra om te help nie. As hulle sien jy is bereid om die tyd in te sit, is hulle meer as bereid om te help. Dan is dit belangrik om goed voor te berei. Wat ons baie gehelp het, is om ou vraestelle uit te werk. Dit gee ‘n mens ‘n goeie idee wat om te verwag en met behulp van die memorandums kom ‘n mens ook agter hoe om die vrae te beantwoord. Carla sluit af: “Dit is belangrik om te besluit wanneer jy waar die meeste energie moet insit. Moenie bang wees om hulp te vra nie, veral as jy op emosionele vlak sukkel. Dit bly steeds belangrik om gebalanseerd te lewe.”
Julle het in Afrikaans skoolgegaan – julle moedertaal. Dink julle dis belangrik om in jou moedertaal te leer en hoe het dit julle bevoordeel?
Albei: Dit is baie belangrik om in jou moedertaal skool te gaan, veral in die laerskool. Dit is omdat ‘n mens vinniger verstaan en makliker nuwe werk leer. En juis omdat ons Afrikaans so goed onder die knie gehad het, het ons goed reggekom in die hoёrskool waar party van ons vakke en handboeke in Engels was. Buitendien voel ‘n mens net soveel gemakliker in jou moedertaal en is dit makliker om deel te neem aan gesprekke of om kennis oor te dra. Ons het beslis nie ‘n agterstand omdat ons in ons moedertaal skoolgegaan het nie.
Julle gaan nou swot – vertel ons bietjie meer daaroor.
Christiaan: Ek gaan megatroniese ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch studeer en hoop om uiteindelik my meesters oorsee te gaan doen – hopelik in lugvaartkundige ingenieurswese.
Carla: Soos genoem, is somatologie my passie en ek gaan aan die Isa Carstens Akademie in Pretoria studeer. Ek hoop om dan ‘n ruk lank op die skepe te werk en uiteindelik my eie besigheid te begin.
En sommer net: Wat is julle gunsteling- Afrikaanse woord?
Albei: Lekker! Dis so ‘n unieke woord met geen plaasvervanger in Engels nie. Die woord beskryf ook sommer alles – of dit nou ‘n gevoel is, of hoe iets smaak – “lekker” sê dit die heel beste!
Bron:
Lees gerus ook Leonie Bezuidenhout se artikel op Maroela Media hier.