Op Stoofstories met Marinda, raak die aktrise Elsabé Daneel en Marinda nostalgies en maak hulle disse uit Elsabé se kinderdae. Smul saam aan tamatiebredie, pampoenskywe en melkkossnysels. Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00.
TAMATIEBREDIE
Lewer 6-8 porsies
2 uie, fyngekap
15 ml olie om die uie in te braai
2 kg skaapnek en skaaprib gemeng
1 blikkie tamatiesmoor
1 blikkie tamatiepuree
1 koevertjie of blikkie tamatiepasta
60 ml asyn
80 ml suiker
60 ml worcestersous
6 naeltjies
5 ml fyn gemmer (as jy nie daarvan het nie is dit nie noodsaaklik nie)
sout en peper na smaak
250 ml water
6 aartappels
- Braai die uie tot glaserig in ’n pot bo-op die stoof.
- Braai die vleis saam met die uie tot effens bruin.
- Meng die res van die bestanddele behalwe die aartappels in ’n bakkie.
- Gooi dit oor die vleis in die pot en laat dit liggies prut vir 45 minute.
- Skil die aartappels en sny dit in kwarte.
- Nadat die bredie vir 45 minute in die pot geprut het, kan die aartappels bygevoeg word.
- Kook nou totdat die aartappels en vleis lekker sag is – ongeveer 30 minute (jy moet maar proe).
- Kook gewone witrys om dit op voor te sit.
PAMPOENSKYWE
Lewer 6-8 porsies
¼ pampoen, in 2 cm-skywe gesny met die skil aan
sout en peper
250 ml soetwyn
heuning na smaak
125 ml botter
2 kaneelstokkies
’n handvol tiemie en roosmaryntakkies
- Sit die pampoenskywe in ’n oondbak.
- Geur met sout en peper na smaak.
- Gooi die soetwyn oor.
- Bedruip met heuning.
- Stip met botter.
- Sit kaneelstokkies en kruie bo-op.
- Bak dit toe by 180 °C vir 25 minute en dan oop totdat die pampoen mooi bruin en gaar is.
MELKKOSSNYSELS
Lewer 6-8 porsies
3 eiers
2,5 ml sout
250 ml mielieblom (maizena)
water
melk
kaneelstokkies (opsioneel)
kaneelsuiker
- Klits die eiers en sout vir ’n kort rukkie.
- Voeg die mielieblom by en meng dit goed.
- Voeg genoeg water by om ’n stywe deeg te vorm.
- Knie die deeg lank en goed totdat dit elasties is.
- Rol die deeg op ’n meelbestrooide deegplank tot ’n dikte van ½ tot 1 cm.
- Sny dit met ’n skerp mes in dun repies.
- Kook die snysels sowat 15 tot 30 minute lank in kokende melk (gebruik 250 ml melk per persoon) totdat dit gaar is.
- Voeg 2 stukke pypkaneel by indien verkies.
- Dien die melkossnysels op in diep borde en strooi kaneelsuiker bo-oor.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Elsabé Daneel