Deur Wilna van Rooyen
Kinders se kommunikasievaardighede ontwikkel slegs wanneer hulle gemotiveerd is om iemand anders te laat verstaan wat hulle beleef, dink, voel of nodig het. Dit is ’n feit dat kommunikasievaardighede makliker tuis as in ’n skoolopset ontwikkel.
Kinders is vanselfsprekend meer gemaklik wanneer hulle tuis kan oefen om hulself in woorde uit te druk. Ouers het meer geleenthede as onderwyseresse om een-tot-een-gesprekke met kinders te voer en kinders vind dit makliker om tuis aktief aan gesprekke deel te neem omdat daar tuis direk met hulle gepraat word en hulle nie nodig het om hul beurt af te wag om iets te sê of vra nie.
Het jy geweet?
Tweelinge is meer geneig as enkelkinders om agterstande te ontwikkel wat mondelinge vaardighede betref omdat hulle dikwels doodgelukkig is om op hul eie manier met behulp van gebare met mekaar te kommunikeer. Hulle is gevolglik minder gemotiveerd om met ander mense te leer kommunikeer (Lewis & Thomas, 1992).
Ouers kan die ontwikkeling van kinders se mondelinge vaardighede daagliks met behulp van twee p’s ondersteun:
- Die eerste stap is om plek in jou dag te maak vir geselsies met jou kinders.
- Dit help ook om ’n plan met teikenwoorde teen die muur op te plak.
Wenk 1: Die maklikste manier om plek vir geselsies te maak is om kinders tuis by alledaagse aktiwiteite te betrek.
Gesprekke wat in en om die huis gevoer word is goud werd. Navorsers sê die gesprekke wat ouers deur die loop van ’n normale dag met hul kinders voer terwyl hulle saam dagtakies verrig, maak die grootste bydrae om hul woordeskat uit te brei en hul mondelinge vaardighede te help ontwikkel (Hart & Risley, 1995).
Daar is baie om te sê wanneer daar iets prakties is om te doen.
Dit help as ouers hul kinders vra om hulle met allerhande takies in die huis te help – selfs wanneer dit nie regtig nodig is nie – omdat kinders ingesluit voel wanneer hulle betrek word en makliker gesels oor tasbare ervarings waarmee hul hande en verstand op die oomblik besig is. Navorsers sê dis omdat hulle dan kan praat oor wat in die oomblik gebeur en nie nodig het om soveel verstandsenergie te gebruik as wat die geval sou wees wanneer hulle hul aandag herwaarts en derwaarts moet verskuif om ’n gesprek te voer nie (Akhtar, Dunham & Dunham, 1991).
Kinders leer nuwe woorde vinniger in ’n omgewing wat vir hulle prakties en bekend is.
Nog ’n rede hoekom kinders se taalvaardighede so goed ontwikkel wanneer ’n mens met hulle gesels oor take of speletjies waarmee hulle besig is, is omdat hulle gewoonlik met werkies help en speel in ’n omgewing wat hulle goed ken. Dit beteken baie omdat kinders van nature ontdek wat nuwe woorde beteken deur aandag te skenk aan alles wat hulle weet omtrent die konteks waarin die nuwe woord opduik, die nie-verbale gedrag van die spreker en die betekenis van bekende woorde wat saam met die nuwe woord gebruik word (Hirsh-Pasek, K., et al., 2009).
Kinders leer die taal wat hulle die meeste hoor die heel beste aan.
Kinders sal vanselfsprekend leer om te praat met ’n aksent wat ooreenstem met die aksent wat hulle meestal hoor. Netso kan ’n mens verwag dat die kwaliteit van die woordeskat en sinskonstruksies wat ’n kind hoor sal bepaal wat die kwaliteit sal wees van die woordeskat en sinskonstruksies wat daardie kind later self sal gebruik (Huttenlocher, J., et al., 1991). Dit is hoekom dit belangrik is vir ouers om as goeie taalmodelle op te tree.
Wenk 2: Plak ’n plan met teikenwoorde teen die muur op.
Ouers kan self ’n lys teikenwoorde saamstel wat hulle dikwels in alledaagse gesprekke met hul kinders kan herhaal om die kinders mettertyd so goed aan die woorde bekend te stel dat hulle dit self sal begin gebruik. Die lys kan weekliks bygewerk en aangepas word.
* Dit is belangik om nie net selfstandige naamwoorde nie, maar ook werkwoorde, beskrywende woorde en allerlei uitdrukkings by so ‘n lys in te sluit.
Judy de Loache het ’n navorsingstudie geloods waarin sy bevind het dat jong kinders meer nuwe woorde leer wanneer hul ouers ’n lys teikenwoorde byderhand hou waarop hulle kan fokus, in vergelyking met ouers wat wel met hul kinders gesels, maar nie op sekere teikenwoorde fokus nie (De Loache, J.S. & Chiong, C., 2009).
Debra Mills het op haar beurt gevind dat jong kinders wat ‘n klein woordeskat het geneig is om minder breinaktiwiteit te toon wanneer hulle nuwe woorde hoor. Hulle ignoreer letterlik die geleentheid om te leer omdat hulle breine nie daarop ingestel is om veel aandag aan nuwe woorde te skenk nie. Dit beteken dat die ouers van kinders wat ‘n klein woordeskat het hul kinders ‘n groot guns sal bewys as hulle nuwe woorde en uitdrukkings spesiaal sal beklemtoon en gereeld sal herhaal om seker te maak dat hul kinders daaraan aandag skenk.
Hierdie bevinding onderskryf weereens die waarde wat dit vir ouers inhou om ‘n lys teikenwoorde saam te stel waarop hulle met mening kan fokus.
*Die goeie nuus is dat Debra Mills in ‘n opvolgstudie getoon het dat kinders mettertyd nuwe breinbedrading ontwikkel wanneer hulle doelgerig gehelp word om hul woordeskat uit te bou. Hul breine begin dan om meer entoesiasties op nuwe woorde te reageer sodat hulle meer aandag aan leergeleenthede begin skenk (Mills, D.L., et al., 2005).
Kontak gerus vir Wilna van Rooyen deur ’n e-pos te stuur na: wilna@aonetwerk.co.za
Wilna van Rooyen, die vroeëkinderontwikkelingspesialis van die Afrikaanse Onderwysnetwerk spog met meer as 40 jaar ondervinding in die onderwys, waarvan 32 as hoof by vooraanstaande skole in Suid-Afrika.
Wilna is ‘n onderwyskundige, vroeëkinderontwikkelingspesialis, gewilde spreker, toegewyde eggenoot, liefdevolle moeder en trotse ouma. Haar passie vir die onderwys, opvoeding en neurowetenskappe dien as basis waarvandaan sy hierdie sektor graag met groot toewyding dien.
Wie is die AON?
Die AON is ‘n laeprofiel, vennootskapgedrewe organisasie wat ten doel het om gehalte Afrikaanse onderwys volhoubaar in ʼn pyplyn – van voorskools tot op tersiêre opleidsingvlak – te bevorder en wil leerders ter wille van die instandhouding en groei van Afrikaans en die versterking van gehalte Afrikaanse moedertaalonderrig lei. Dit is ‘n sambreelliggaam wat sonder oorvleueling nóú met bestaande organisasies in die onderwys saamwerk.
Klik hier om meer van die AON te leer.
Verwysings:
Lewis, B.A. & Thomas, L.A. (1992). A Study of Developmental Speech and Language Disorders in Twins. Journal of Speech and Hearing Research, Vol. 35, p. 1086-1094.
Hart, B., & Risley, T.R. (1995). Meaningful differences in the everyday experience of your American children. Baltimore, M: Paul H. Brookes.
Akthar, N., Dunham, F., & Dunham, P. (1991). Directive interactions and early vocabulary development: The role of joint attentional focus. Journal of Child Language. Vol. 18. p. 41-49.
Hirsh-Pasek, K., Golinkoff, R.M., Berk, L.E., & Singer, D.G. (2009). A mandate for playful learning in preschool: Presenting the evidence. New York, N.Y. Oxford University Press.
Huttenlocher, J., Haight, W., Bryk, A., Seltzer, M., & Lyons, T. (1991). Early vocabulary growth: Relation to language input and gender. Developmental Psychology. Vol. 27 (2), p. 236-248.
Christakis, D.A., Gilkerson, J., Richards, J.A., et al. (2009). Audible television and decreased adult words, infant vocalizations, and conversational turns: a population-based study. Archives of Pediatrics and Adolescent Medicine. Vol. 163 (6), p. 554-558.
De Loache, J.S., & Chiong, C. (2009) Babies and baby media. American Behavioural Scientist, Vo.l 52, p. 1115 – 1135.
Mills, D.A., Plunkett, K., Prat, C., & Shafer, G. (2005) Watching the infant brain learn words: effects of vocabulary size and experience. Cognitive Development. Vol. 20, p. 19-31