Skrywer: Dr NM Klapwijk
In hierdie reeks van vier artikels oor die onderrig van leesbegrip, het ons in artikel 1 die belangrikheid van die ontwikkeling van leesbegrip bespreek, en lesers bekendgestel aan die LOK-raamwerk (bestaande uit drie fases) vir die onderrig van leesstrategieё. Die raamwerk is spesifiek vir Suid-Afrikaanse skole ontwikkel, en gemik op gebruik deur onderwysers. In artikel 2 het ons die Voor-leesfase aangepak deur ’n beskrywing van die belangrikste strategieё in hierdie fase, asook hoe hulle toegepas moet word. Die aspek wat waarskynlik die meeste uitgestaan het vir opvoeders, is dat alles wat in die Voor-leesfase gedoen word, gedoen word om die grondslag vir leesbegrip te lê, voordat lees plaasvind. Die kernpunte uit die Voor-leesfase, was die volgende:
- Om nuwe gewoontes te vorm (d.w.s. strategieё te leer gebruik) verg tyd, oefening en geduld, maar is ALTYD die tyd, oefening en geduld werd!
- Dit is van kritiese belang dat onderwysers elke strategie hardop modelleer aan leerders, sodat hulle kan sien hoe om dit toe te pas, en gewoond raak daaraan voordat hulle dit self leer gebruik.
- Die eerste vier strategieё (1a, 1b, 1c en 2) van die Voor-leesfase moet in alle lesse gebruik word – hulle vorm ’n eenheid en is onontbeertlik vir die skep van ’n grondslag vir leesbegrip.
- Oefen, oefen, oefen! Wanneer leerders die strategieё eers onder die knie het, sal nie alleen die leerders nie, maar ook die opvoeder die vrugte daarvan pluk in hul leer-/leeservarings.
Laat ons dus nou kyk na hoe om te handel en strategieё toe te pas tydens die lees van die teks.
Die tydens-leesfase: Onderhou die grondslag vir betekenisskepping
Soos hierbo genoem, is die Tydens-leesfase die fase waar die teks vir die eerste keer gelees word. Die gebruik van die voorafgaande voor-leesstrategieë is uiters belangrik om te verseker dat die tydens-leesfase (meer) suksesvol verloop. Die leesfase, veral wanneer leerders gevra word om stil en op hul eie te lees, is ’n fase wat tipies afgeskeep word deur onderwysers deurdat hulle min tot geen aandag gee aan leerders terwyl hulle stil lees (daar is immers altyd een of ander stuk merkwerk of admin wat aandag nodig het!). Anders gestel, dit is ’n baie belangrike fase wat tot die uiterste benut moet word in die ontwikkeling van leesbegrip, want dit is immers die fase wanneer die teks gelees word. Soos ons sal sien, is dit ook ’n fase waartydens mens leerders kan betrek met ’n kompetisie-element, terwyl hulle sonder dat hulle dit besef, hul leesvaardighede ontwikkel. Let wel, leesvaardigheid en leesbegrip is twee verskillende konsepte (mens kan immers ’n vinnige leser wees sonder dat jy verstaan wat jy gelees het), maar is onlosmaaklik verbonde – daarom behoort beide vaardighede ewe veel aandag in die klas te ontvang.
Onderwyser en leerder moet aktief deelneem
Die belangrikste aspek van die tydens-leesfase is dat beide die onderwyser en die leerders aktiewe deelnemers in die leesproses moet wees. Of daar hardop of stil gelees word, dit is van groot belang dat leerders hul eie begrip monitor, en dat onderwysers die leerders monitor. Nogmaals, selfs hierdie skynbaar eenvoudige strategie moet eers hardop deur die onderwyser gemodelleer word, sodat leerders dit nie vreemd vind nie en sien hoekom dit waardevol is.
Leerders monitor hulself deur voortdurend te vra: “Verstaan ek (nog) wat ek lees?” As die antwoord “ja” is, lees hulle verder. As die antwoord “nee” is, moet hulle geleer word om herstelstrategieë toe te pas. Swak lesers is geneig om deur die hele teks te beur sonder om te verstaan wat hulle lees, en sonder om te bevraagteken of hulle verstaan wat hulle lees. Goeie lesers hou outomaties op met lees sodra iets onduidelik is, en pas herstelstrategieë toe. Leerders moet dus aktief geleer word hoe om herstelstrategieë te gebruik.
’n Herstelstrategie kan so eenvoudig wees soos om:
- terug te gaan na waar jy ophou verstaan het, en die voorafgaande gedeelte weer te lees,
- vooruit te spring in die teks om te bepaal of dit konteks bied vir wat nie duidelik is nie, of
- om die onderwyser om hulp te vra.
Net so belangrik as leerders se selfmonitorproses, is die onderwyser se waarneming van leerders. In plaas daarvan dat onderwysers iets anders doen terwyl die klas die teks lees, neem hulle die leerders aktief waar, en kyk uit vir probleme, soos leerders wat sukkel om te konsentreer, rondkyk of huiwer om hulp te vra. Dit is ’n uitstekende manier om leerders se leesgewoontes en leesvaardigheid te leer ken, sodat die onderwyser tydens ander lesse (d.w.s. inhoudsvakke, Wiskunde, ens.) bedag kan bly op leerders wat sukkel om te lees of gewoon sukkel om te fokus of konsentreer. Soos met alle strategieë, as ’n herstelstrategie toegepas moet word, moet onderwysers dit deeglik demonstreer en leerders leer om dit stapsgewys onafhanklik toe te pas, totdat dit outomaties gebeur.

Kontroleer voorspellings/voor-leesvrae
Die tydens-leesfase is ook die fase waartydens die voorspellings wat gemaak en die vrae wat gestel is tydens die voor-leesfase, gekontroleer word. As ’n uitdeelstuk, soos byvoorbeeld ’n Voorspellingsgids, gebruik is, kan leerders hul voorspellings kontroleer en hul vrae beantwoord. Dit motiveer lesers wanneer hulle vind dat hul voorspellings raak was, of dat hul vraag beantwoord word. Waar dit nie die geval is nie, kan hulle nuwe vrae stel en nuwe voorspellings maak voordat hulle verder lees. So bly hul aandag en motivering vir lees behoue. Dit is belangrik om seker te maak dat leerders weet dat daar nie soiets is soos ’n “verkeerde” voorspelling of vraag nie – slegs een waarvoor daar soms ’n antwoord is, en soms nie.
Die tydens-leesfase is ook die perfekte tyd om leestegnieke toe te pas, wanneer die teks en leesdoel dit toelaat. In my ondervinding kan die oefen van leestegnieke self die leesdoel wees, omdat dit die ontwikkeling van leesvaardigheid kombineer met die ontwikkeling van leesbegrip namate leesvaardigheid toeneem. Leestegnieke is veral nuttig om in inhoudsvakke te gebruik, omdat dit kort oefeninge behels terwyl leerders “oefen” op die doelteks van die les.
Leestegnieke
Daar is drie nuttige leestegnieke wat in elke klas toegepas word, naamlik Spoedlees, Oorsiglees en Soeklees. Al drie vaardighede is onontbeerlik in ’n leerder se akademiese ontwikkeling. Hoe gouer hulle hierdie tegnieke leer, hoe beter.
BELANGRIK: Selfs wanneer die gebruik van ’n leestegniek die leesdoel is, moet alle strategieё van die Voor-leesfase steeds toegepas word. Hoekom? As die grondslag vir begrip reeds gelê is, gaan leerders veel gouer leer om met begrip te kan spoedlees, oorsiglees of soeklees – en dit is immers die einddoel.
Spoedlees
Spoedlees is wat die woord impliseer – so vinnig as moontlik (leer) lees. Die doel is om leerders se leesspoed te verhoog, omdat dit ’n nuttige vaardigheid is hoe verder hulle in hul opvoeding vorder, en omdat navorsing (1) toon dat spoed, genot en begrip nou verband hou met mekaar. Nog ’n rede hoekom leerders moet leer om vinnig(er) te lees, is omdat leesbegrip belemmer word wanneer mens te stadig lees – aandag dwaal af, konsentrasie verminder. Deur vinniger te lees word mens gedwing om (meer) aandag te gee en dus beter te konsentreer. Dit is dus belangrik om die huidige leesvaardighede van elke klas in gedagte te hou wanneer die tegniek geoefen word. Hoe meer leesontwikkeling nodig is, hoe korter die teks – of gedeelte van ’n teks – waarop geoefen word sodat leerders nie ontmoedig word nie. Gee alle leerders kans om sukses te behaal met die tegniek voordat die teks verleng word, of die tyd verkort word.
In ’n spoedleesoefening word leerders tipies gevra om ’n (gedeelte van ’n) teks binne ’n bepaalde tyd te lees. Gebruik spoedlees sporadies en wanneer die tekstipe dit toelaat, en begin met een paragraaf, dan twee tot ’n hele teks gespoedlees kan word. Die doel is nie noodwendig begrip nie, hoewel begrip tesame met spoed mettertyd sal verbeter.
Leesspoed word tipies as ‘woorde per minuut’ (WPM) bepaal. Daar is ’n verskeidenheid boeke en aanlyn bronne beskikbaar oor hierdie onderwerp. Afhanklik van die bron wat mens raadpleeg, kan navorsers se opinie oor die gepaste aantal woorde per minuut vir ’n spesifieke ouderdomsgroep verskil. Onthou egter dat elke klas en elke leerder verskil, en dat die WPM-riglyne presies dit is: riglyne. Die volgende mikpunte word in ’n bron (2) as die gepaste woorde per minuut aangegee:
Figuur 1: Woorde per minuut per ouderdom
Ouderdom | WPM |
6 – 7 | 53 – 111 |
7 – 8 | 89 – 149 |
8 – 9 | 107 – 162 |
9 – 10 | 123 – 180 |
10 – 11 | 139 – 194 |
11 – 14 (Hoërskool) | 150 – 204 |
14 – 18 (Hoërskool) | 200 – 300 |
LW: Die WPM-telling in Figuur 1 is aan die einde van die (Amerikaanse) skooljaar gemeet, dus op die piek van die vaardigheid vir die bepaalde ouderdom of skooljaar – moet dus nie dieselfde WPM verwag aan die begin van ’n skooljaar of met ’n klas van ontwikkelende lesers nie.
Hoe om leerders se leesspoed te meet
Die beginpunt van enige doel is om te weet waar jy is voordat jy kan bepaal waarheen jy gaan/mik. Net so is dit nuttig om te bepaal wat jou leerders se huidige leesspoed is sodat jy dit aan die einde van die jaar weer kan meet om te sien of vordering plaasgevind het. Om leerders se leesspoed te bepaal, kan mens aanlyn toetse op die internet gebruik (hoewel dit in die meeste gevalle in Engels is), of mens kan dit een leerder op ’n slag doen aan die hand van ’n riglyn en die gepaste teks per ouderdomsgroep (kyk onderaan die artikel vir leesspoedtekste vir leerders asook kontroletekste wat gedruk kan word). Daarna kan jy volgens Figuur 1 bepaal in watter WPM-kategorie elke leerder val.
Kom ons kyk na nou die tweede leestegniek, een wat leerders toenemend sal nodig hê namate hulle na die hoër skoolgrade beweeg.
Oorsiglees
Oorsiglees (skimming) is ’n tegniek wat hoofsaaklik gebruik word om ’n algemene oorsig te vorm van wat die teks behels. Dit is van onskatbare waarde in hul akademiese loopbaan. Leerders word geleer hoe om ’n hele teks te lees deur slegs plek-plek fisies ’n woord raak te lees. Oorsiglees is ’n tegniek wat belangrik is vir die leesdoel ‘lees vir inligting’ by take en projekte omdat die leerder kan bepaal of ’n gegewe teks waarde het of opsygesit moet word, sonder dat die hele teks woord vir woord gelees word. Op dié manier word leerders se vermoë om krities te lees ook ontwikkel. Leerders se kennis van tekseienskappe kan ook deur die gebruik van oorsiglees getoets en ontwikkel word.
Hoe om oorsiglees te gebruik:
- Lees die titel, hofies en subhofies om uit te vind waaroor die teks gaan
- Kyk na die illustrasies vir meer inligting oor die teks
- Lees die eerste en laaste sin van elke paragraaf
- Moenie elke woord of elke sin lees nie. Laat jou oë oor die teks beweeg terwyl jy na sleutelwoorde soek.
- Hou die hoofgedagte van die teks in gedagte
Wanneer om oorsiglees te gebruik:
- Om die oorsig of hoofgedagtes van ’n teks te bepaal
- Wanneer daar baie leeswerk is, maar min tyd
- Wanneer jy na spesifieke inligting soek, en nie lees vir plesier nie
- Wanneer jy wil bepaal waaroor die teks/boek gaan en of dit nodig is om in meer detail te lees
- Wanneer jy wil weet of die teks nuttig kan wees vir jou taak/huiswerk
Oorsiglees kan in feitlik enige/alle lesse toegepas word. Soos altyd – begin klein! Maak dit maklik en haalbaar vir alle leerders. Begin met een paragraaf, dan twee en bou op tot die hele teks gebruik word. Oorsiglees kan geoefen word met die bestaande doelteks vir ’n bepaalde les, deur leerders byvoorbeeld te vra om te soek vir kernwoorde of kernsinne wat belangrik is vir die les (iets wat jy as onderwyser vooraf sal weet of bepaal), of die hoofgedagte van ’n bepaalde paragraaf. Om dit interessant te hou, kan mens ’n limiet op die soektyd plaas, of punte toeken vir die regte antwoord, en/of vir die leerder wat dit eerste vind, en dit afwissel deur antwoorde skriftelik of mondeling te vra.
Oorsiglees kan ook die hele doel van ’n les wees deur ’n spesiale oefening te skep. Sien Oorsigleesoefening vir ’n voorbeeld van ’n oefening. Skep soortgelyke oefeninge vir jou eie klasse – as jy dit eers gedoen het, kan jy dit elke jaar weer gebruik, en vir elke nuwe klas.
Kom ons kyk nou na die derde leestegniek, naamlik Soeklees.

Soeklees
Soeklees (scanning) is die vinnigste manier van lees omdat slegs ’n spesifieke stuk inligting (selfs slegs ’n woord) in ’n hele teks gesoek word. Leerders word geleer om hulle oë vinnig oor elke sin (en soos hulle vaardigheid verbeter, hele paragraaf) te laat gaan en slegs na ’n spesifieke stuk inligting te soek. Dit is, soos met oorsiglees, van toenemende waarde soos hulle in hul akademiese loopbaan vorder.
Soos met die bogenoemde twee leestegnieke kan dit positief toegepas word deur dit in ’n klein kompetisie te omskep. Leerders word naamlik gesê hoeveel tyd hulle het, of waarvoor hulle moet soek, en die wenner is die eerste een wat klaar lees en ’n eenvoudige vraag oor die teks kan beantwoord, of wat eerste die woord/inligting vind.
Soos met spoedlees en oorsiglees, kan die doelteks van ’n bepaalde les gebruik word – dit is maklik en verg min voorbereiding van die onderwyser. Deur vooraf te bepaal wat belangrik is in die doelteks (veral met niefiksietekste in inhoudsvakke), kan die oefening beide doelgerig wees (soek na spesifieke feite) en leerders se gebruik van die tegniek bevorder. Omdat Soeklees veral gemik is op akkuraatheid, kan die onderwyser byvoorbeeld vra:
- Hoeveel keer kom die woord [kies ’n woord] voor [in paragraaf/op ’n blad/in hele teks]?
- Hoeveel hofies is in vetgedrukte teks?
- Hoeveel figure is in die teks?
- Op watter bladsy verskyn Illustrasie 3?
- Hoeveel paragrawe verskyn op bladsy 1?
- Op watter blad is die hofie [kies ’n hofie]?
- Skryf die eerste woord van elke paragraaf neer.
Samevatting:
Soos aan die begin van die artikel genoem, is die Tydens-leesfase ’n baie belangrike fase wat tot die uiterste benut moet word in die ontwikkeling van leesbegrip. Hierdie fase verg die aktiewe deelname van beide onderwyser en leerder. Die belangrikste twee strategieё is die “Verstaan ek wat ek lees?”-strategie (die vraag wat leerders hulself deurgaans moet vra), en die gebruik van herstelstrategieё as begrip begin haper. Die Tydens-leesfase is ook ’n geleentheid om leesvaardigheid te ontwikkel deur die toepassing van leestegnieke, naamlik Spoedlees, Oorsiglees en Soeklees.
Hou die volgende kernpunte in gedagte in die Tydens-leesfase:
- Die onderwyser moet aktief betrokke wees – dit is ’n uitstekende kans om jou leerders se leesvaardigheid en -gewoontes te ontdek.
- Modelleer die “Verstaan ek wat ek lees?”-strategie.
- Verduidelik en modelleer alle herstelstrategieë.
- Gebruik die leestegnieke – dit is nie nodig om al drie tegnieke in een les toe te pas nie, hoewel dit wel gedoen kan word.
- Hou leestegnieke so kort as moontlik, maar doen dit so gereeld as moontlik. Voeg ’n kompetisie-element daarby (individueel of in spanne).
- Die skep van ’n nuwe gewoonte verg tyd, oefening en geduld, maar is ALTYD die tyd, oefening en geduld werd!
- Oefen, oefen, oefen! En begin klein, maar begin!
Wanneer die hele teks gelees is, is dit tyd vir die na-leesfase, waar die skep van betekenis (begrip) gekonsolideer word. Hierdie fase word in die volgende artikel aangepak.
Bronne:
- Nuttall, C. 1996. Teaching reading skills in a foreign language (2nd ed). Oxford: Heinemann.
- Hasbrouck, J. & Tindal, G. (2017). An update to compiled ORF norms (Technical Report No. 1702). Eugene, OR, Behavioral Research and Teaching, University of Oregon.
Leesspoed- en kontroletekste: Graad 1 tot 8