Skrywer: Nicolette Kritzinger
Daar is sekere blywende tradisies wat oor die jare saam met geleenthede soos Kersfees, Nuwejaar of sommer net by ’n braai hul opwagting maak. Een hiervan is byvoorbeeld die kontroversiële trifle, of die meer wulpse benaming “koekstruif”. Baie mense het al oor die jare tot die besef gekom dat ’n trifle ’n taamlike grillerige ding is. Ander van ons verlustig ons jaar na jaar daarin en kla dan ’n week later dat die wasmasjien ons broeke gekrimp het.
Die afgelope Kerstyd het daar egter ’n ander tradisie onder my aandag gekom waaroor ons móét gesels. Dit kom nou al vir te lank aan. Hierdie kwessie is nie Kersdag-spesifiek nie. Dit duik op by alle geleenthede waar twee of meer Suid-Afrikaners bymekaarkom om te kla oor die politiek, Morné se slegte skop in Saterdag se toets en die vet om hul midrif.
Jellieslaai.
As jy nie weet wat ’n jellieslaai is nie, moet jy nou ophou lees en dadelik jou ouers gaan bedank dat hulle jou tot op hede weerhou het van die wreedheid van die wêreld.
Vir diegene wat nog nie dié trauma ervaar het nie, hier volg ’n verduideliking: ’n Jellieslaai is ’n walglikheid wat dikwels, onder dwang, by sosiale geleenthede voorgesit word.
’n Jellieslaai bevat altyd ’n onskuldige groente wat vasgevang word in gelatien en dan in ’n vorm gestol word. Sodra die dis uitgedop word en ’n bord tref, begin dit bewe. Wetenskaplikes beweer dit is die groente se vrees wat deurslaan.
Hierdie dis kom in verskillende kleure en geure: Groenjellie met komkommer, oranjejellie met wortel en dan, asof dit nie traumaties genoeg was nie … geeljellie met pynappel.
Oor die jare het ek al geleer dat enigiets wat vet maak in hierdie land ’n slaai genoem kan word. Aartappelslaai, noedelslaai, rysslaai … Persoonlik geniet ek hierdie onwaarheid wat ons onsself wysmaak.
Maar met die berugte jellieslaai het ons te ver gegaan. Ek verstaan nie die mens se obsessie daarmee om alles te stol nie. Dit laat net kinders huil en versuur die verhoudings tussen skoonfamilies. Ek het nog nooit gesien dat ’n stuk wortel die pad vat as jy hom bedien nie. Waarom dan ons groente onder arres plaas?
Ek maak onlangs die fout om ’n Google-soektog te doen na die woord “jellieslaai”. My verstaan van ’n jellieslaai het gestrek tot die drie wat ek in die definisie hierbo genoem het. Maar ek was verkeerd. Hierdie aakligheid word aan ander kossoorte ook gepleeg: ham, eiers, ertjies … almal slagoffers van die jellieslaai-tradisie. Resepte met name soos “gestolde piesang- en ertjieslaai”, “mayonnaise-beetvorm” en “tuna-stolvorm” het hul verskyning gemaak. Met baie grafiese foto’s wat nie vir kinders bedoel is nie. My gunstelingopskrif: “Hoe om ’n pragtige jellieslaai te maak” (as dít skoonheid is, dan was ek al lankal Mej. Heelal).

Na my Google-soektog het ek vir drie dae onder my bed gehuil oor al die naarheid wat ek aanskou het. Ek is nou vir die eerste keer gereed om oor my eie jellieslaai-ervaring te praat.
Ek was maar net sewe jaar oud. Soos die meeste kinders was ek bang vir die donker, spinnekoppe en monsters onder my bed. Dis maar net omdat ek nog nie regte vrees geken het nie. Ek sou dit daardie warm Sondagmiddag vir die eerste keer by ’n familiebraai ervaar.
Dis opskeptyd. Voor ek my saak kan stel, beland daar ’n ekstragroot homp van een of ander groen jelliegedoente in my bord. Die mengelslaai het dit nie verwag nie. Ek weet nie wie bewe meer nie … ek of die jellie nie. Ek begin rondom dit eet. Ek eet en ek eet, maar ek wen nie. Die slaai het reeds begin smelt. ’n Dun, groen jelliewatertjie (soortgelyk aan die inhoud van ’n loopneus) vul die onderkant van my bord en betas alles in sy visier. Dis nie lank nie of alles dryf. ’n Verlepte stukkie blaarslaai wat eens uitgeblink het as die ster van die mengelslaai, lê soos ’n opdrifsel aan die kant van die bord. Ek kyk na die groen moeras en dink … dís hoekom daar oorloë uitbreek.
Ek het gekla oor hierdie aaklige tradisie, maar my woorde het op dowe ore geval. Drie jaar later het my agterkleinniggie per ongeluk die dag voor Kersfees in die jellieslaai beland en saam met die komkommer gestol. Omdat niemand van die jellieslaai wou eet nie het hulle haar eers vier dae later gevind. Sy het nou nog ’n groen skynsel.
Baie nagte as ek na twaalf wakker lê, dink ek nie aan my aftree-annuїteit, my gewig, of waar ek my paspoort gesit het nie. Nee, ek dink aan jellieslaai. Soms probeer ek myself in die skoene van ’n jellieslaai sit. Probeer ek dink hoe dit moet voel om opgedis te word saam met al die ander hoofgeregte wanneer jy eintlik deel van die poedingfamilie is. Wat ’n verwarrende ervaring moet dit nie wees nie? Ek sou seker ook gesmelt het.
Jy moet verstaan, dis nie dat ek jellieslaaie haat nie. Ek kry hulle net jammer. ’n Jellieslaai is soos ’n veraf kleinnefie by ’n familiebraai. Niemand wil hom eintlik daar hê nie, maar almal voel verplig om hom te nooi. En dan wil niemand met hom praat nie. En dié wat dit wel doen, is spyt.
Ek moet byvoeg dat ek baie respek het vir elke persoon wat al ooit ’n jellieslaai gemaak het en die vrymoedigheid gehad het om dit na ’n braai of ’n feestafel te bring – dis ’n baie brawe ding om te doen. Maar hier is my pleidooi: Kom ons stop die identiteitskrisis wat jellie jaar na jaar beleef wanneer dit saam met ander onskuldige soutgeregte bedien word en dan alles in ’n 2 km-radius die skrik op die lyf jaag.
Kom ons gee dit eerder die vla wat dit verdien.
Ek dink die afgelope twee jaar was erg genoeg.
Ns. Ek vermoed die rede waarom baie mense steeds jellieslaai maak, is omdat hulle nie ander slaairesepte ken nie. Hier is ’n lekker bessieslaairesep met bestanddele wat bymekaarpas. Klik hier.
Ek het nou geskreeu (en gehuil) van die lag. En glo my, as ek ooit eendag op ñ jellieslaai gaan afkom op ñ etenstafel, gaan ek hierdie storie vertel, en seker verban word.
Dankie vir die kleurryke vertolking van ñ volksvreemde dis.
Genade, ek het gedink dis net ek wat so ‘n aaklige kinderlewe gehad het. Ek is bly daar is ander mense wat ook die jellie slaai en koekstruif probeer vergeet. ek het gelê soos ek lag!