Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Skep moed! Onthou, vandag is die môre waaroor jy jou gister so gekwel het
– Victor Hugo.
En hier is ons nou! ‘n Nuwe jaar met nuwe uitdagings. Dit terwyl verlede jaar nog vars in die geheue is, die sogenaamde voornemens reeds ’n stille dood gesterf het en talle van ons sukkel om nuwe moed te skep. Afrikaans.com gee so ’n paar riglyne oor hoe om nie net jouself nie, maar ook ander mense te bemoedig sodat hulle vol nuwe moed en hoop die nuwe jaar kan aanpak, want dit is ’n feit dat positiewe mense gereed is vir nuwe ervarings, nie bang is vir uitdagings en verandering nie en sommer die bul by die horings pak, want … hulle glo hulle kan!
Leef bewustelik.
Eintlik is dit bloot ’n gewoonte wat ’n mens moet aanleer … om met meer aandag of bewustheid te lewe. Om weer tyd te maak vir die belangrike goed in die lewe, soos om kwaliteittyd saam met geliefdes te spandeer, om stil te raak en jou omgewing in te neem en te geniet, ’n boek te lees, kreatief te raak. Om ontslae te raak van daardie swart hond wat gedurig aan jou hakke hap, daardie angstigheid wat op die krop van jou maag sit, die stres wat jou vreugde steel. Klink dit vergesog? Makliker gesê as gedaan? Dalk wel, maar tog is dit binne elkeen van ons se bereik. Ons moet net strategieё in plek sit. Hier is so ’n paar wenke:
- Begin jou dag in die regte gemoedstemming (dalk maar aan die ander kant van die bed opstaan – sodat jy nie die “verkeerde” voet eerste laat vloer raak nie).
- Knyp ’n tydjie af en gaan sit êrens gemaklik en orden jou gedagtes.
- Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal en lys die dinge waarvoor jy dankbaar is.
- Doen asemhalingsoefeninge, mediteer, doen joga (as jy weet hoe en nie jouself in die proses gaan knoop nie) – alles raad om jou stresvlakke te verlaag en om meer ontspanne te voel.
- Kom aan die beweeg. Ligte oefening soos stap is perfek. En terwyl jy stap, raak bewus van die sonlig op jou vel, die reuk van die plante en gras, die geluide rondom jou. As jy fikser is, is fietsry, tennis of ander sport dalk jou passie. Solank jy dit net geniet.
- Leef stadiger. Doen dinge anders.
- Plant jou eie groente, berei ‘n maaltyd voor sonder kitskos of bestanddele uit pakkies en blikkies.
- Dek jou tafel met jou beste breekgoed, skakel die TV af en sit en geniet dit wat jy eet – selfs ‘n eenvoudige toebroodjie of slaai smaak net soveel lekkerder as jy elke happie geniet.
- Geniet jou skuimbad – moenie jou steur aan die hond of kinders voor die badkamerdeur nie – as daar nie bloed is nie, is alles eintlik oukei.
- Jy is nie ’n superheld nie. Dalk is party mense beїndruk met mense wat meer as een ding op ‘n slag kan doen, maar deur op slegs een taak op ’n keer te fokus, veroorsaak dat jy die taak na die beste van jou vermoё afhandel en boonop voel jy sommer meer ontspanne – en soos navorsing bewys het, handel ’n mens op die manier jou take eintlik vinniger af.
- Doen minder. Prioritiseer en stel vas wat regtig belangrik is. Dit is regtig nie ’n doodsonde om elke dag ’n rukkie lank net mooi niks te doen nie …
- Wat ook al vir jou werk.
- Dalk is dit rustig sit en bewustelik asemhaal, jouself anker.
- Dalk is kosmaak of skoonmaak jou soort meditasie. Solank jy net daarop fokus en dit stadig en deeglik doen.
- Bekommer jou net oor dit waaroor jy beheer het. Deur jou te bekommer oor goed buite jou beheer, steel jou lewenslus en motivering. Onthou – jy het dalk nie beheer oor wat met jou gebeur nie, maar jy het wel beheer oor hoe jy daarop reageer.
- Raak opnuut bewus van jou emosies en gevoelens. Die lewe gebeur en dit is onmoontlik om altyd tevrede en gelukkig te voel.
- Laat jouself toe om deur jou gevoelens te werk. Jy mag maar hartseer, kwaad, teleurgesteld, vrolik, ens. voel.
- Vestig positiewe denkpatrone en herhaal hulle vir jouself elke dag.
- Gebruik positiewe woorde om jouself en jou lewe te beskryf. Hoe jy praat, is hoe jou lewe sal wees.
- Gee jou volle aandag aan ander. Wees daar – aanwesig – as jy met iemand gesels.
- Luister met aandag en geniet die tydjie saam met die ander persoon.
- Detoks van tegnologie. Sit daardie selfoon/rekenaar af of weg, gooi ’n doek oor die televisie en geniet die eenvoudiger dinge, soos mooi musiek of die natuurskoon. Of gesels!
- Wees elke dag kreatief. Of dit nou skryf, verf, naaldwerk, fotografie of houtwerk is – doen iets waarvan jy hou, want dit dra by tot bewustelikheid en boonop leer jy ’n nuwe vaardigheid.
Dus: Sien om na jou welstand. Leef in die oomblik en neem weer beheer oor jou lewe.
Geestesgesondheid
Geestesgesondheid en emosionele welstand gaan hand aan hand. Goeie geestesgesondheid stel jou in staat om met oorgawe te lewe en die moed te hê om die goeie en die slegte van die lewe positief te hanteer.
Maar ons is nie almal dieselfde nie en hanteer ook nie die draaiballe wat die lewe na ons toe gooi, dieselfde nie. En dit is reg so. Solank jy omsien na jou eie geestesgesondheid en hulp vra as jy voel dat jy nie alleen regkom nie. ’n Paar praktiese wenke:
- Praat daaroor en sê hoe jy voel. Jy hoef nou nie met almal alles te deel nie, maar kry iemand wat jy vertrou en deel jou gevoelens. Al sê daardie persoon niks nie en luister hy bloot, laat dit ’n mens dikwels sommer beter en ligter voel.
- Wees aktief. ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees(tesgesondheid).
- Leef gesond. Goeie eetgewoontes, genoeg water, genoeg slaap/rus. Eintlik maar ’n eenvoudige resep.
- Jy is nie ’n eiland nie. Reik uit, maak kontak met ander, want eintlik is ons almal deel van ’n groter gemeenskap. Om geliefd te voel, verrig wondere vir die siel. En om te voel dat jy iets vir iemand anders beteken, laat jou meer sin in die lewe ervaar en dra by tot jou eie geestesgesondheid.
Kortom, as jy moedeloos voel, probeer in gedagte hou dat jy nie die enigste een is wat so voel nie, maar hou ook in gedagte dat jy nie op ander kan staatmaak om jou beter te laat voel nie. Jy is die enigste een wat iets daaraan kan doen. Dalk het jy ’n berader of lewensafrigter nodig om jou hiermee te help en jou lewe te orden – hoe dit ook al sy – neem daardie eerste stap en begin fokus op die hede deur in die oomblik te lewe.