Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Terug hok toe! Darem nie heeltemal die prentjie wat ’n mens wil skep om ons kinders opgewonde oor skool te maak nie. Nietemin, dit is hoe ons altyd daarna verwys het – daardie jare toe aanlyn skool, tuisonderrig en dies meer nie ’n opsie was nie … toe skool toe gaan en die kenmerkende reuk van bordkryt gemeng met stof en sweet deel van ’n kind se lewe was en ’n mens geleef het vir pouses en vakansies, maar tog jou “lot” gelate aanvaar het.
Nou … is dit anders en dit is nie net as gevolg van die covid-19-pandemie nie. Ons leefwyse is anders … vinniger … albei ouers werk, tegnologie en sosiale media het deel geword van ons daaglikse bestaan, veral nou te midde van die covid-19-pandemie. Die virus gaan bepaal hoe en wanneer ons kinders skool toe gaan en of tuisskool of afstandsonderrig gaan plaasvind. Die druk op ons kinders is soveel meer. Geen wonder dan dat hulle angstig voel aan die begin van ’n nuwe skooljaar nie. Dit hoef egter nie ’n onseker tyd te wees nie. Afrikaans.com het so ’n paar wenke saamgestel wat ons hoop die eerste skooldag-monster se tande sal trek.
Graad 1 is GROOT skool!
Die meeste van ons kinders is deesdae deel van ’n voorskoolse program en ontmoet reeds vooraf hulle graad 1-juffrou. Dit is dus nie heeltemal nuut en vreemd nie. Nietemin is dit ’n groot gebeurtenis in enige kind se lewe en is hy/sy nou blootgestel aan meer druk, ’n vasgestelde roetine en moet hulle leer om konflik te hanteer en aanpasbaar te wees.
Die heel belangrikste is om seker te maak jou kind is skoolgereed, want indien nie, sal geen wenk hond haaraf maak nie. (Lees meer oor skoolgereedheid in die kassie.)
’n Paar basiese wenke
’n Gelukkige kind het selfvertroue en sien uit na skool: Doen die volgende:
- Wees ’n rolmodel: Stel ’n voorbeeld deur liefdevol en versorgend te wees. Jou kind geborge te laat voel.
- Prys jou kind: Dit skep selfvertroue en versterk goeie gedrag.
- Gesels met jou kind: Stel belang in wat jou kind sê. Op die manier weet jy wat in daardie koppies aangaan. Boonop is dit ’n uitstekende manier om jou kind taalvaardig te maak en woordeskat uit te brei.
- Maak seker die basiese vaardighede is in plek: Dit maak deel uit van perseptuele ontwikkeling t.o.v. luistervaardighede en visuele vaardighede. Jou kind moet sy/haar naam en van herken en indien moontlik ook kan skryf. Hiermee saam, behoort jou kind skoenveters te kan vasmaak, die toilet selfstandig kan gebruik, tussen regs en links onderskei, kleure en vorms onderskei, knip met ’n skêr, verantwoordelikheid neem vir besittings, kan stilsit en luister, opdragte kan uitvoer.
- Emosionele intelligensie: Kinders wat emosioneel veilig voel, leer beter. Moedig daarom onafhanklikheid aan en laat jou kind toe om dinge vir hulself te doen. Leer jou kind ook om sy/haar emosies te verwoord.
- Goed ontwikkelde liggaamsbeeld. Laat jou kind gereeld voor die spieël staan en sy/haar liggaamsdele uitwys.
- Oefen daardie spiere vir groot motoriese ontwikkeling: Beperk skermtyd en kry jou kind aan die beweeg. Lê, kruip, loop … Begin reeds op babastadium deur jou baba op sy/haar magie te laat lê om die rugspiere te versterk.
- Speel met jou kind: Gooi, vang, skop, balanseer, huppel.
- Teken, inkleur, knip, plak, klei speel, blokkies bou: Ontwikkel kleiner spiere in die hande, vingers en gewrigte wat nodig is vir leesbaar skryf, self eet, aantrek, ens.
- Geheue: Speel geheuespeletjies. Dit help jou kind om iets van die bord af te skryf en om te onthou wat hy/sy gehoor het.
- Logiese denke: Dit stel jou kind in staat om met begrip te lees en is ’n belangrike bousteen van wiskunde.
- Tel alles: Die eerste stap in wiskundige taalvaardigheid. Maak dit ’n speletjie. Tel hardop hoeveel kouse is in die laai, hoeveel potlode in die sakkie, hoeveel meel in die resep. Doen basiese optel- en aftreksomme: Daar is vier balle, ek skop een weg. Hoeveel bly oor?
Ter voorbereiding vir daardie eerste skooldag
Jou kind het waarskynlik reeds sy juffrou ontmoet, weet waar die skool is en hoe die klaskamer lyk, maar wat kan jy nog doen om daardie oorgang seepglad te laat verloop. ’n Mens wil mos hê jou kind moet opgewonde wees oor daardie eerste dag – al beteken dit hy/sy staan reeds vyfuur die oggend aangetrek, reg om te ry. Dit is hoekom vooraf beplanning so belangrik is, want dit help om die angs te besweer. Laat jou kind die slapies aftel, want dit skep opwinding. Lig al die lekker dinge van skool uit. Jou positiewe gesindheid skep ook ’n positiewe beeld vir jou kind.
Nog wenke:
- Sorg dat die voorgeskrewe skoolklere reg is – kinders is groepdiere en wil graag inpas.
- Die aand voor die groot dag: Maak seker jou kind se tas is gepak met die nodige skryfbehoeftes en die skoolklere is gereed. Terloops, nuwe penne en potlode is ’n ideale Kersgeskenk.
- ’n Gesonde kosblik is ’n belangrike element van enige skooltas. Besluit saam met jou kind oor wat om in te pak – en ja, daardie lekkertjie is dalk nie ’n sogenaamde gesonde versnapering nie, maar dit troos wanneer die dag lank raak en mamma ver is.
- Kinders hou van roetine, want dit laat hulle veilig voel. Begin dus so week voordat die nuwe skooljaar begin met die skoolroetine. Dit sluit in om op ’n sekere tyd te gaan slaap en op te staan.
- ’n Honger kind kan die konsentreer nie. Daarom is ontbyt belangrik. Dit hoef nie ’n driegangmaaltyd te wees nie, maar ’n proteïen en koolhidrate voed die brein en gee genoeg brandstof tot pouse.
- Rustigheid is die wagwoord. Maak seker julle is betyds by die skool, want ’n onnodige gejaag (wat gewoonlik met hard praat gepaard gaan) veroorsaak nog meer spanning. Indien nodig, neem verlof vir die dag.
- Neem foto’s – dit is immers die eerste dag van ’n lang skoolloopbaan. En hou maar die trane vir wanneer jy terug is by die huis.
- Maak seker na skool-reëlings is in plek. Jou kind moet weet wie daar gaan wees om hom/haar te kom haal of waarheen hy/sy moet gaan vir na skool-sorg. Moenie laat wees nie!
- Stel veiligheidsmaatreëls in plek. Jou kind en die onderwyser moet in kennis gestel word as die reëlings verander. ’n Wagwoord wat net julle ken, is ook ’n goeie idee. Jou kind moet ook sy/haar adres ken, asook jul telefoonnommers.
’n Gelukkige kind kom uit ’n gelukkige en standvastige huis. Maak elke dag tyd om met jou kind te gesels. Soms wil hulle nie direk na skool oor hulle dag praat nie, maar jy sal vinnig agterkom wanneer dit die regte tyd en plek is. As jy agterkom daar is iets wat pla, kan jy dit dan onmiddellik ondersoek en hanteer. Dit geld ook vir tye wanneer daar dalk iets gebeur wat jou kind emosioneel kan raak (bv. dood, egskeiding, ens.). Dit is dan raadsaam om die onderwyseres in kennis te stel.
Sterkte vir die volgende 12 jaar!
Skoolgereedheid
Die kognitiewe breinontwikkelingspesialis Dalena van der Westhuizen, sê dat skoolgereedheid ’n maatstaf is wat aandui tot watter mate ’n kind gereed is om suksesvol in te skakel en deel te neem binne ’n skoolopset. En dis juis hier waar die tameletjie taai raak. Volgens Dalena is jou kind nie noodwendig skoolgereed omdat hulle kan tel, hul naam skryf en basiese woorde herken nie. Dit behels meer en dui op die totale ontwikkeling van ’n kind op ’n spesifieke tydstip. Daarom word die volgende ontwikkelingsareas in ag geneem:
- Fisieke vaardighede Kommunikasievaardighede (taalvaardigheid en kommunikasievermoë)
- Kognitiewe vaardighede.
- Sosiale en emosionele vaardighede
- Perseptuele ontwikkeling, nl. visuele persepsie,visuele diskriminasie, visuele geheue, ouditiewe persepsie, ouditiewe diskriminasie en ouditiewe geheue.
Binne hierdie ontwikkelingsareas is daar verskeie tekens waarna jy moet oplet wanneer dit by die ontwikkeling van jou kind kom omdat dit ’n goeie aanduiding kan wees dat ’n kind dalk hulp nodig het. Dit is egter belangrik dat hy/sy eers getoets word voordat enige gevolgtrekkings gemaak word of besluite geneem word.
Die mees algemene tekens sluit in:
- Sukkel om (basiese) instruksies te volg en/of kan nie meer as een instruksie op ’n slag onthou of uitvoer nie.
- Sukkel om behoeftes te kommunikeer.
- Vind dit moeilik om onder druk te werk.
- Neem lank om takies/werkies te voltooi (of jaag alles so vinnig moontlik af).
- Sukkel om stories te verstaan en basiese inhoud daarvan te herhaal/vrae daaroor te antwoord.
- Sukkel om te konsentreer en gefokus te bly.
- Vergeet maklik/gereeld inligting wat dan weer herhaal moet word (dieselfde werk moet oor en oor herhaal word).
Lees gerus meer oor die onderwerp, hier.