Plaatkoekies is ’n groot gunsteling vir ontbyt of ’n lekker bederf met ’n koppie koffie of tee. En jy kan dit met soveel verskillende elemente voorsit, van spek en heuning tot jogurt, bessies en kaneel – of dalk hou jy net van kaas en aarbeikonfyt. Selfs iets soos salm met suurroom en roket of piesang, grondbootjiebotter, kaneel en heuning is regtig lekker. Dié plaatkoekies het twee bestanddele wat dit beslis effens anders maak – karringmelk maak hulle ekstra veerlig en die fyngerasperde suurlemoenskil gee ’n baie interessante geur.
Lewer ongeveer 24 plaatkoekies
500 ml (280 g) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
2 groot eiers
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
500 ml (2 k) karringmelk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
60 ml (¼ k) botter, gesmelt
olie vir braai
ongegeurde jogurt, ekstra gerasperde suurlemoenskil, heuning, spek en bessies om mee voor te sit
- Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak. Klits die eiers, suurlemoenskil, karringmelk en vanielje saam en maak ’n holte in die middel van die meelmengsel.
- Klits die eiermengsel by die meel tot ’n gladde beslag vorm. Wees versigtig om dit nie te veel te meng nie, want dit kan die plaatkoekies swaar maak. Roer die botter goed deur.
- Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Skep lepelsvol beslag in die pan – besluit self hoe groot jy die plaatkoekies wil maak.
- Braai tot lugborrels bo-op vorm en draai versigtig met ’n eierspaan om. Braai net ’n paar minute tot gaar en goudbruin aan die ander kant. Hou die plaatkoekies warm, terwyl die res gebak word. Voeg nog olie in die pan by soos nodig, maar moenie die pan te warm maak nie, anders brand die plaatkoekies voor dit gaar is.
- Bedien die plaatkoekies warm en sit met die jogurt (of sien die wenk hier onder), suurlemoenskil, heuning, spek en bessies voor.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenk
- Geur 200 ml ongegeurde jogurt met 7,5 ml fyngerasperde suurlemoenskil of na smaak en roer 15 ml heuning by. Maak die mengsel net voor dit saam met die plaatkoekies voorgesit word.
Afrikaanse WOORD: karringmelk: die vloeistof wat oorbly nadat melk tot botter gekarring is. Deesdae word karringmelk wel ook kommersieel vervaardig. Maar jy kan ook aan iemand ‘karring’, dan torring jy aan hulle.