Ek het met mieliebrood grootgeword. Vandag is my kinders ook dol daaroor, so ek bak altyd twee brode, sodat daar vir hul kosblikke ook iets oorbly.
Lewer 2 klein brode of 1 groot brood
250 ml (1 k) growwe mieliemeel
330 ml (1⅓ k) volkoringmeel (steengemaalde meel is heerlik)
10 ml (2 t) bakpoeier
2,5 ml (½ t) paprika of na smaak
2,5 ml (½ t) sout
330 ml (1⅓ k) karringmelk of ongegeurde jogurt
2 groot eiers, geklits
80 ml (⅓ k) olyfolie
1 x 410 g-blik geroomde suikermielies
2 mielies aan die stronk, gekook en mielies in repe van die stronk afgesny
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer die bodem van twee 1 liter- of een 1,5 liter-broodpan(ne) met bakpapier uit en smeer die pan liggies met olie.
- Plaas al die bestanddele, behalwe helfte van die repe mieliepitte, in ‘n mengbak. Roer tot goed gemeng.
- Skep die beslag in die broodpan. Plaas die orige mielies bo-op as garnering. Bak vir 45-60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Kleiner brode sal vir 45 minute bak.
- Laat vir ’n paar minute in die pan afkoel en keer dan op ’n afkoelrakkie uit. Sit warm met botter voor.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenk
1. As daar iets oorbly, is die mieliebrood regtig lekker gerooster, met ’n smeerseltjie botter op.