’n Eenvoudige kombinasie van vars bestanddele word ’n manjifieke slaai met ’n tuisgemaakte slaaisous van olie, asyn, heuning, korrelmosterd en vars tiemie. Of maak ’n vinnige bygereg daarmee op klein aartappeltjies in die skil of gestoomde broccoli met fetakaas en geroosterde sonneblomsaad. Die slaaisous sal enige ander slaai in ’n wengereg verander.
Lewer 4 – 6 porsies
Mosterd-en-kruieslaaisous:
45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
20 ml (4 t) appel- of framboos-asyn
15 ml (1 e) heuning
10 ml (2 t) korrelmosterd
15 ml (1 e) vars tiemieblare
sout en peper
Slaai:
45 ml (3 e) sonneblomsaad
45 ml (3 e) pampoensaad
150 g groenboontjies, in die breedte gehalveer
250 g elk rooi en wit druiwe, gehalveer
¼ komkommer, met ’n groenteskiller in linte gesny.
’n handvol vars seisoensbessies, bv. frambose, aarbeie of bloubessies.
groot handvol slaaiblare, babaspinasie en kruie soos roket-, basiliekruid- of kruisementblare.
1-2 skywe feta, grof gekrummel.
Slaaisous:
Meng al die bestanddele saam in ’n glasflessie en geur na smaak.
Slaai:
- Verhit ’n braaipan oor matige hitte en rooster die sade sonder olie tot goudbruin, maar hou dit dop, want dit brand maklik. Skep uit en laat afkoel.
- Plaas die groenboontjies in ’n vlak bak. Giet kookwater oor en laat vir 5-7 minute staan of tot net gaar. Dreineer, spoel met koue water af en dreineer deeglik. Dit kan ook liggies in ’n kastrol geblansjeer word, maar dit moet steeds krakerig en heldergroen bly.
- Rangskik die groenboontjies met die res van die slaaibestanddele op ’n groot slaaibord. Strooi die sade en fetakaas oor en sit met die slaaisous voor.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Berna Coetzee
Wenke
- Ander seisoensvrugte sal ook lekker wees in die slaai, bv. mango, perske of selfs avokado, of as ‘n kombinasie met die bessies.
- Bokmelk- of ricottakaas is ook heerlik in die slaai.