Die kombinasie van groenboontjies en geroosterde amandels is só lekker. ’n Paar pangebraaide sampioene is net wat jy daarby nodig het om ’n vinnige bygereg van formaat voor te sit.
Lewer 4 – 6 porsies
80 ml (⅓ k) gevlokte amandels
30 ml (2 e) olyfolie
250 g bruin sampioene, in skywe gesny
15 ml (1 e) balsamiese asyn
300 g dun groenboontjies
sout en peper
- Verhit ’n groot braaipan oor matige hitte. Rooster die amandels, sonder enige olie, tot goudbruin – hou dit dop, die neute brand maklik. Skep uit en hou eenkant.
- Verhit die helfte van die olie in dieselfde pan en soteer die sampioene in twee sarsies tot gaar. Skep die sampioene alles in ’n bak, meng die balsamiese asyn deur en hou ook eenkant.
- Skink die orige olie in die pan en soteer die groenboontjies tot gaar en steeds heldergroen. Doen dit ook in sarsies as jou pan nie groot genoeg is nie.
- Skep die sampioene by die boontjies en meng vinnig deur tot alles warm is. Skep in ’n opdienbord, geur na smaak en strooi die amandels oor.
- Sit dadelik as bygereg voor. Dit is veral lekker saam met vis of die plathoender. Hierdie resep is ook beskikbaar op Afrikaans.com.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira