Maklike kos waarmee die hele gesin kan help, is altyd groot pret om te maak. My kinders was een aand lus vir pizza, maar daar was nie tyd om nog eers die deeg te maak nie. Ons het toe sommer pitas vir basisse oopgesny en dit het uitstekend gewerk. Elkeen kan sy eie ‘pizza’ bou en daar is soveel opsies om as bolaag te gebruik. Die speserye in die tamatiesous is ’n lekker verrassing van geure en dié pita-pizzas is perfek as naweek- of vakansiekos. Of sit dit as peuselhappie om die braaivleisvuur voor.
Lewer 4 porsies
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
10 ml (2 t) rooiwyn- of balsamiese asyn
2,5 ml (½ t) gerookte paprika
5 ml (1 t) matige kerriepoeier
sout en peper
4 volkoring- of gewone pitas, oopgesny
15 ml (1 e) olyfolie
250-375 ml (1-1½ k) gerasperde mozzarella- of wit cheddarkaas
2 mielies, gekook en pitte in stroke van die stronke gesny
2 sprietuie, in skyfies gesny
lepelsvol ongegeurde jogurt of suurroom om mee voor te sit.
’n handvol vars koljanderblare of Italiaanse pietersielie.
suurlemoenwiggies om mee voor te sit.
- Plaas die tamaties, asyn en speserye in ’n klein kastrol. Geur na smaak en prut vir 10-15 minute of tot effens verdik.
- Voorverhit intussen die oond tot 180 °C. Pak die pitas op twee bakplate en verf liggies met die olie. Smeer die sous op die pitas.
- Strooi die kaas, mieliepitte en sprietuie oor en bak vir 10-15 minute of tot die kaas gesmelt is en die pitas liggies goudbruin word.
- Skep lepelsvol jogurt of suurroom op en garneer met kruie en peper. Sit voor met suurlemoenwiggies.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Gebruik gaar spek, hoender of maalvleis vir ’n meer vullende bolaag.
- Skyfies vars tamatie of avokado is heerlik met die ander geure.
Afrikaanse WOORD: sprietuie (spring onions in Engels). Moet dit nie met grasuie (chives) of preie (leeks) verwar nie.