2021 is op sy rug … Soos altyd was die jaar propvol uitstekende Afrikaanse boeke in elke genre. Maar, wat was Afrikaanssprekendes se gunstelinge? Hierna, die Afrikaanse Top-20-boeke vir die jaar soos aangekoop by Exclusive Books.
WEN 1 van 2 Exclusive Books-geskenkbewyse ter waarde van R500
– teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! Klik hier.
Gebruik die kompetisie-kodewoord ‘’Exclusive’
1. Donkerdrif |
Donkerdrif
Deon Meyer
‘n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ‘n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ‘n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.
2. Na ‘n Plaas In Afrika |
Na ‘n Plaas In Afrika
Irma Joubert
In 1939 bars die oorlogbom in Europa. Drie miljoen kinders word uit London ontruim na veiliger gebiede. Een van hulle is die sesjarige Charles Smith, op pad na ‘n onbekende tante van sy pa in ‘n klein dorpie in Skotland. By aunty Grace wag ‘n nuwe lewe op hom. Aan die anderkant van Europa ruk die Duitse Sesde Leёr op teen Rusland. Tussen die manskappe is die vurige majoor Oswald von Stein, Hildegard se stiefseun. Voor hulle wag die Russiese winter, Stalingrad en die krygsgevangenekampe van Siberiё. 90 000 word gevange geneem, net sesduisend oorleef. Charles en Oswald beleef teenoorgestelde kante van die oorlog. Beide bevind hulself egter op pad na ‘n plaas in Afrika waar hul paaie sal kruis met die van Seretse Khama en Mentje de Vries.
3. Hartedief |
Hartedief
Rudie van Rensburg
‘n Reeksmoordenaar jag by stormweer, en Rooi en Kassie moet hom vastrek. Die Hartedief kom met moord weg, en dan is Kassie se volle aandag ook nie eintlik by die saak nie, want hy is smoorverlief op ‘n aanvallige medeseёlversamelaar. Vlerksleep is nie vir sissies nie. Om sake vir hom en Rooi te vererger, word hul baas daarvan verdink dat sy hul ondersoek in die wiele ry, en Kassie moet haar onskuld bewys. Intussen word Kaapse vroue vermoor wanneer daar onweer broei.
4. ‘n Baie Lang Brief Aan My Dogter |
‘n Baie Lang Brief Aan My Dogter
Marita van der Vyver
’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoires. Hierin vertel ’n Afrikaanse ma vir haar Franse dogter van haar grootwordjare in die sestigs en sewentigs, in die bloeityd van apartheid. Maar is dit ook ’n storie oor taal en boeke en die wonderwerk van woorde. En hoe dit gekom het dat ’n skaam boekwurm uit ’n Afrikaanse middelklasfamilie, wat slegs ’n geslag vroeër nog werkersklas was, ’n skrywer geword het. Dis ’n boek wat die meeste mense nie sal kan neersit nie omdat dit ’n speurtog is deur ’n skrywer se beginjare en ’n liefdesbrief is aan ’n dogter en aan ’n taal en aan ’n land. En ’n ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige en wrede wêreld waarin sy haar nou begewe.
5. Minder as niks |
Minder as niks
Irma Venter
Dertig jaar gelede is Johan Botha lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op drie tienermeisies. Terminaal siek en pas vrygelaat, vra hy misdaadjoernalis Ami Prinsloo om hom te help om sy onskuld te bewys. Hoe kan sy nee sê? Dis ‘n uitstekende storie. En as ‘n voormalige swemkampioen met geraamtes in haar eie kas, weet sy hoe dit voel om als te verloor. Om te sukkel om mense in die oё te kyk. Hoe dit voel as iemand na aan jou vermoor word en te weet dat die skuldige nog op vrye voet is . . .
6. Gerugte van ‘n ontvoering |
Gerugte van ‘n ontvoering
Chris Karsten
Wanneer Harry asemskep tussen sy omswerwinge deur Afrika, kom kuier hy by sy geliefde ma in Johannesburg. Gusta is veral na aan sy hart na sy pa haar vir ‘n jonger pop gelos het. Gelukkig weet Harry sy is veilig daar bo in haar luukse penthouse in Ponte Towers. Teen die tyd dat Harry in Oos-Afrika opgespoor word, is sy ma al dae lank dood. Harry kry die reuk van ‘n groot gekonkel. Nie eens daai parmantige Ella Neser gaan hom keer nie. Nog ‘n hoogtepunt in Chris Karsten se Ella Neser-oeuvre.
7. Hans bars die bioborrel |
Hans bars die bioborrel
Rudie van Rensburg
Huis Madeliefie word deur die staat se vlak 5-inperking in die gesig gestaar. Hans besef teen dié virus groei geen kruid nie, maar die drakoniese reëls van die tehuis se interne bevelsraad kry nie vatplek by Hans en kie nie. Voorts is Hans oor die hoof gesien as leier van dié raad. Altoon Ahlers, befaamde akteur van weleer, neem die leisels. Hans se plan om die inwoners met die verbode vrug se sap aan sy kant te kry, boemerang sleg. Hy sal Ahlers op ’n ander manier moet onttroon . . .
8. Die Uil In die Ysbos |
Die Uil In die Ysbos
Susan Coetzer
Gracie-Jane Coetzee se eerste kleinkind word gebore kort voordat die president die eerste inperking aankondig. Gracie is ‘n skrywer en illustreerder van kinderboeke, en nie juis ‘n konvensionele ouma nie. Sy verkies die geselskap van haar getroue basset-hond bo enige ander verhouding in haar lewe. Saans wanneer PTS haar tussen die mure van haar huis rondjaag en die gevoel van onheil soos ‘n uil op die dak kom sit, dokter sy graag die kompulsief-obsessiewe simptome met ‘n glasie wyn of twee.
9. 107 Kaalkoppe |
107 Kaalkoppe
Nataniël
Nataniel vier 20 jaar as Kaalkop-rubriekskrywer met hierdie nuwe versameling van sy gewilde SARIE-rubrieke: 107 Kaalkoppe geskryf vanaf 2012 tot 2021. Eerlik, persoonlik, nugter, inspirerend, melankolies, hartseer, opgewonde, driftig, simpatiek, verbaas, dwars, reguit en vasbeslote mik hy na elke moontlike emosie. Met die wêreld op sy kop was daar nog nooit ‘n beter tyd vir ‘n boek soos die nie.
10. Marilyn |
Marilyn
Chanette Paul
Omring met haar geliefde vywervroue, weet Marilyn sy is nie een van hulle nie. Sy is kaivrou, die waterwese wat mans en kinders die dieptes intrek en verdrink. Daarvan getuig haar hele lewe tot hier toe. Dis iets waarmee sy gedink het sy vrede gemaak het. Met die pandemie wat die wêreld op sy kop keer en die ouderdom wat Marilyn al hoe meer bewus maak van haar sterflikheid, is dit seker nie vreemd om bestek op te neem van wat agter lê nie. Dit moet wees waarom haar gedagtes deesdae aanhoudend terug foeter na die verlede toe. So ver terug as daardie jaar toe sy Paul Avenant ontmoet het, en uiteraard ook die tragiese gevolge van die ontmoeting. Nie dat dit daarna veel beter gegaan het nie. Een onbesonne ding na die ander het sy aangevang tot sy hier op Vywerbaai beland het. Hier waar sy met haar seun kon herenig en, as enorme bonus, die vywervroue leer ken en hegte vriendskappe gesmee het. Sy was sowaar naїef genoeg om te dink die meetsnoere begin nou vir haar in die regte plekke val. Tot die dag voor die eerste grendeltydperk toe sy besef mens se sondes haal jou altyd in. Selfs sondes wat jy nie self gepleeg het nie …
11. ‘n Hart is so groot soos ‘n vuis |
‘n Hart is so groot soos ‘n vuis
P.P. Fourie
‘n Hart is so groot soos ‘n vuis is die storie van ‘n seun, Paul, se komplekse verhouding met sy gewelddadige dog charismatiese alkoholis-pa. Paul onthou sy ouers se somtydse versoening, gevolg deur desperate vlugtogte saam met sy ma. Dit is ook die roerende verhaal van Paul se ontwikkeling as jongman, en van sy selfontdekking. En die storie van sy ontferming oor sy vervreemde halfbroer, iemand wat hy met alle mag wil beskerm, die enigste ander persoon wat daardie man “Pa” kan noem.
12. Dik Dun Thick Thin |
Dik Dun Thick Thin
Nataniël
ʼn Splinternuwe, skitterende versameling kortverhale deur Nataniёl. Twintig in Afrikaans en agt in Engels. Skreeusnaaks, aangrypend, wys, onvoorspelbaar en – soos altyd – hoogs vermaaklik. Soos gewoonlik delf hy goud uit sy kinderjare – oor sy ouers, sy ouma – maar daar is ook fantastiese en fantasmagoriese verhale oor sy lewe as sanger op plattelandse dorpies, oor ‘n vreemdeling wat hom een aand in sy huis help om sy vrese te besweer, en hoe ‘n mens jou eerste reus oorwin . . .
13. Vlug |
Vlug
Wilna Adriaanse
Milla Roux is ‘n veearts wat werk by ‘n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK. Sy het as ‘t ware “gevlug” daarheen nadat haar man en seuntjie in Suid-Afrika reg langs haar doodgeskiet is tydens ‘n mislukte motorkaping. Sy stort hart en siel in haar werk en probeer ‘n werklike verskil maak jeens die voortbestaan van ‘n spesie waarvan die getalle besig is om so drasties te krimp. . .
Maar spoedig begin die skermutselings tussen regeringstroepe en rebelle-organisasies van die hele Kongo ‘n gevaargebied maak, en kort voor lank is ook die rehabilitasiesentrum in die kruisvuur vasgevang. Saam met drie klein sjimpansee-wesies slaan ‘n gewonde Milla weer op die vlug, vergesel van die enigmatiese Graham Saunders van die organisasie Dokters sonder grense, wat na die DRK gekom het om van sy eie problematiese verlede te probeer ontsnap . . . Vlug is ‘n boeiende roman, propvol spanning en intrige, asook die meesleurende karakterverhoudinge waarvoor Wilna Adriaanse so bekend is.
14. Fortuine |
Fortuine
Ebbe Dommisse
’n Ongekende opkoms van Afrikaner-magnate het die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope drie dekades gekenmerk. Dit is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging. Vandag ding talle van hulle internasionaal mee. Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is die mediagroep omvorm tot ’n internasionale beleggingshouergroep wat op e-handel en die internet fokus. Johann Rupert het Richemont in die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot Afrika se grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel uitgebou het. Fortuine verduidelik hoe hierdie en ander sakeleiers, waaronder Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Roelof Botha, Hendrik du Toit en ’n aantal megaboere, hul sakeryke tot stand gebring het. Dit beskryf hul lewens- en sakefilosofieë en wat van hulle sulke suksesvolle entrepreneurs maak. In onlangse tye het die ineenstorting van Steinhoff Internasionaal, die meubelhandelaar met Markus Jooste aan die stuur, ’n groot hap uit sommige van hierdie fortuine geneem. Jooste is die fokus van een van die hoofstukke, terwyl dit in ander op die filantropiese projekte van hierdie superrykes val.
15. Op ‘n mooi dag |
Op ‘n mooi dag
Irna van Zyl
Met Louw Roodt se verdwyning na ‘n werkgeselligheid word Kristien Liebenberg se grootste vrees bewaarheid: Haar lewensmaat kom nie huis toe nie. Was Louw in ‘n ongeluk, het sy ‘n affair, is sy ontvoer, aangerand, of erger, in die sandduine en bosse van die Kaapse Vlakte vir dood agtergelaat? Of het dit met hulle groot bekgeveg die oggend te doen? Toe breek die nuus van ‘n man wat in ‘n Kaapse hotel vermoor is. Dieselfde hotel waar Louw was. Dieselfde aand as wat sy verdwyn het. Dieselfde man wat vroeёr die dag die gasspreker by haar werk was. Het Louw iets met die moord te doen en vlug sy nou? Die polisie dink so. Of hou die verdwyning verband met haar ma wat een-en-twintig jaar gelede voor hulle huis in Tamboerskloof met motor en al gekaap is? ‘n Voorval wat vir Louw ‘n groot sielkundige knou gegee het. Deur al die vrae en groeiende paniek, weet Kristien Louw is in die moeilikheid en sy moet haar red.
16. Onder een dak |
Onder een dak
Dana Snyman
Die ikoniese en geliefde skrywer Dana Snyman deel sy 100 gunstelingstories in ’n buksie van ’n bundel, net betyds vir Kersfees. Die stories strek van ou familiestories, reisverhale uit Dana se Weg!-dae en ware lewensdrama uit sy Huisgenoot-dae, tot intieme verhale uit sy meer onlangse werk. Twintig nuwe stories gaan oor rugby en oor die huidige pandemie, gesien op Dana se unieke manier.
17. Hans gee Herklaas horings |
Hans gee Herklaas horings
Rudie van Rensburg
Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ‘n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ‘n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.
18. Loer binne die plaas (kinderboek) |
Loer binne die plaas (kinderboek)
Verskeie skrywers
Hierdie kartonboeke met tien lig-en-loer-flappies gee aan kinders ‘n prettige geleentheid om meer oor die plaas uit te vind. Gaan kuier op die plaas en sien watter diere daar woon, watter verskillende plante geplant word en watter voertuie op die plaas gebruik word. Gaan kuier in die stalle, die hoenderhok, by die varke en hulle kleintjies en maak ‘n draai by die dam waar jy ganse en eende sal sien!
19. Hans steek die Rubicon oor |
Hans steek die Rubicon oor
Rudie van Rensburg
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
20. In die Wildtuin |
In die Wildtuin
Yi-Hsuan Wu
Trek-en-skuif wildtuinstories vir kinders.
Kom in aanmerking om een van twee geskenkbewyse ter waarde van R500 te WEN saam met Afrikaans.com en Exclusive Books deur in te teken op Afrikaans.com se nuusbrief. Gebruik die kompetisie-kodewoord ‘’Exclusive’’. Wenners sal in Januarie 2022 gekontak word. Geskenkbewyse sal in Janaurie 2022 per e-pos gestuur word.