Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.
Skrywer: Tarren-Lee Habelgaarn
Foto’s: Verskaf
Wanneer jy in ’n winkel of selfs uit jou kas uit klere kies, kom dit soos tweede natuur. Jy kyk na die reënboog van opsies, jy besluit van watter een jy hou en daar gaan jy. Maar wat as alles net pikswart voor jou is, soos in die wêreld van ’n blinde?
Hierdie is ’n stryd wat die mode-ontwerper Balini Naidoo (29), oorspronklik van Durban, maar wat nou op Saldanhabaai aan die Kaapse Weskus woon, goed verstaan omdat haar oom blind is.
’n Taak soos om klere te kies wat maklik is vir iemand wat kan sien, is iets waarmee ’n blinde hulp nodig het en dit het Balini geïnspireer om buite die boks te dink. Met haar klere wat met braille-skrif ingeweef is, wil Balini die modewêreld een kledingstuk op ’n slag vir blinde mense verander. Balini wil nie net klere maak wat gewild en mooi is nie.
Sy wil hê haar klere moet ook funksioneel wees en sien dit as ’n geleentheid vir haar om sosiale uitdagings aan te spreek wat haar na aan die hart lê. Want behalwe dat iemand na aan haar blind is, het Balini haar hele skoolloopbaan met disleksie gesukkel.
Sukkel met disleksie
Balini is op laerskool met disleksie gediagnoseer. Disleksie is ’n leerversteuring wat verband hou met die vaardighede wat lees en spel beïnvloed. Omdat sy met spelling en lees gesukkel het, moes sy twee keer harder werk as die kinders in haar klas wanneer dit by haar skoolwerk gekom het.
Haar ouers moes elke dag met haar sit, sy het ook ekstra lesse gekry en baie boeke probeer lees vir oefening, sodat sy woorde kon herken en memoriseer. Dit het soms haar selfvertroue beïnvloed en sy was dikwels kwaad en gefrustreer omdat sy haarself met die ander kinders en hul pas vergelyk het.
Maar sy het nooit toegelaat dat dit haar keer nie, daarom is dit nie vreemd dat sy nou klere ontwerp met blindeskrif wat die lewe vir ander ’n bietjie beter maak nie. “In alles wat ek aanpak, wil ek altyd vir mense aanmoedig en hulle hoop gee sodat hulle ’n positiewe uitkyk op die lewe kan hê en groot droom. Ons almal het uitdagings, maar dit hoef nie ons drome en lewens te bepaal nie,” sê sy.
En dit is hierdie uitkyk en houding wat haar gebring het tot waar sy vandag is. As jy na Balini se sosiale media en persoonlike styl kyk, kom jy onmiddellik agter dit is netso kleurvol en prettig soos haar persoonlikheid.
Tog wou sy nie aanvanklik ’n klereontwerper wees nie. Sy wou geboue ontwerp en het ná skool vir ’n jaar argitektuur geswot, voordat sy besef het dit is nie vir haar nie. Dit was nie kreatief genoeg nie en met haar borrelende persoonlikheid wou sy meer met haar idees en kreatiwiteit doen, vertel sy. In 2014 het sy by die Durban Universiteit van Tegnologie begin om mode te studeer.
’n Jaar later is sy gekies as een van die top-10-ontwerpers in die Society of Dyers and Colourists-kompetisie. In 2016 het Balini die top-25 van die Vodacom Durban July Young Designer Awards behaal en in 2017 het sy haar Bachelor of Technology-diploma in mode- en tekstielontwerp ontvang. Balini sê haar prestasies was vir haar ’n bewys dat sy die regte besluit gemaak het toe sy haar studierigting verander het, maar sy wou meer doen as net gewilde klere ontwerp. Sy is deur haar oom geïnspireeer wat eers met sy sig gesukkel het en toe later heeltemal blind geword het.
“As ’n disleksiese persoon was dit soms vir my moeilik om die etiket van ’n kledingstuk te lees. Maar ek het nie woorde nodig gehad om in ’n winkel te besluit of ek van iets hou en of dit my grootte is nie, nog minder om soggens te besluit wat ek gaan aantrek vir die dag.”
Ongelukkig is dit nie die geval vir blinde mense nie en dit het haar hartseer en moedeloos laat voel toe sy sien hoe haar oom met iets so eenvoudig soos klere uitkies, moes sukkel, voeg sy by. “Dit is daagliks onmoontlik vir blinde mense om hul klere sonder bystand of hulp van ’n familielid te kan uitkies, behalwe as hulle spesiale knope of identifikasie-opsies in die familielid se klere ingewerk het, sodat hulle verskillende kleure en klere kan identifiseer. “En selfs as ’n blinde klere kan uitkies deur die materiaal en styl te voel, is daar gewoonlik geen blindeskrif (braille) op ’n etiket wat vir ’n blinde persoon kan sê wat die grootte van ’n kledingstuk is of as daar spesiale instruksies is wanneer dit by die was of stryk van daardie produk kom nie.”
Balini het gevoel as sy net een mens beter en meer onafhanklik kon laat voel deur haar klere en passie, het sy in haar taak geslaag. Maar dit was nie maklik nie, want sy moes haarself weer challenge om self eers braille te kan leer en lees. Sy sê dit was verbasend makliker as haar vorige ervarings met lees en skryf. Maar, voeg sy by, braille is glad nie maklik om te leer nie.
Reaksie op reeks
Gedurende haar studies het sy prototipes geskep en navorsing gedoen. “Niemand anders het hieraan gedink nie en my dosente het destyds nie gedink dit sou werk nie. Hulle het gevoel ek is mal, maar ek het idees geskep en getoets.” Sy het met een grys T-hemp begin en vandag het sy ’n hele reeks wat baadjies, rompe en bloese insluit.
Sy weef nou blindeskrif in haar kledingstukke, wat inligting oor die grootte, kleur, stylbeskrywing en wassorg bevat. “Dit gee blinde mense hul onafhanklikheid terug, maar net as hulle wel blindeskrif kan lees,” sê sy. Ek was verbaas oor die reaksie wat my klerereeks ontvang het en dit het net weereens aan my bewys dat daar regtig ’n behoefte is. Op die oomblik verkoop ek my klere slegs aanlyn, maar my droom is om ’n winkel te hê waar blinde mense self deur die rakke kan stap en voel en vir hulself besluit.”
Op die oomblik het blinde mense nog ’n bietjie hulp nodig om haar klere aanlyn te bestel, maar sodra hulle dit het, kan hulle self hul klere kies en was sonder om bang te wees dat hulle dit verkeerd gaan doen. Wanneer sy nie besig is om klere te ontwerp nie, werk Balini met kinders by skole vir gestremdes op Saldanhabaai. Sy leer ook ander die praktiese vaardighede rondom kleremaak.
“Ek bied lesse in naaldwerk aan en gee motiveringspraatjies. Ja, dit is ’n handelsmerk en ’n onderneming, maar ek sien dit ook as ’n sosiale verantwoordelikheid. Ek hoop dat meer jong ontwerpers geïnspireer sal wees om mode te maak wat ook groter betekenis vir (ander) mense kan hê.”
“In alles wat ek aanpak, wil ek altyd vir mense aanmoedig en hulle hoop gee sodat hulle ’n positiewe uitkyk op die lewe kan hê en groot droom.”
– Balini Naidoo