Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Ons het so agt jaar gelede vir Marinda Engelbrecht leer ken op die realiteitsprogram, Kokkedoor, toe sy een van die finaliste was en as onthoukok kykers week na week op die kassie vermaak het. Maar eintlik het die dinamiese vrou met die rooi lipstiek en interessante bril lankal haar merk gemaak as “die tannie wat Vlooi op die verhoog gesit het”. Sy en Margit Meyer-Rödendeck (Dowwe Dolla) het saam Krazy Katz en vervaardig reeds 20 jaar lank kinderteater. Intussen het Marinda natuurlik nie stil gesit nie en is sy behalwe vervaardiger en skrywer, ook ‘n motiveringspreker en sien ‘n mens haar gereeld op die kassie. Haar kookprogram, Maklik met Marinda, was heerlike kykgenot.
Kykers kan nou ook uitsien na Stoofstories met Marinda wat vanaf Februarie 2022 op Via, DStv-kanaal 147, te siene gaan wees. Afrikaans.com wou graag meer uitvind oor die program en ook sommer hoor wie Marinda is.
Waarna kan ons uitsien in Stoofstories met Marinda?
“Kos is ‘n taal wat praat sonder dat daar iets op skrif is.”
Marinda vertel dat daar elke dag stories langs die etenstafel en by die stoof gedeel word – en dit is presies daardie gebruik van ons wat tot die idee en program gelei het. Marinda gesels tydens Stoofstories onder andere met bekendes soos Koos Kombuis, Min Shaw, Amanda Strydom, Peter Veldsman, Vinette Ebrahim en Toks van der Linde. Daar langs die tafel gesels hulle oor die moeilike, maar ook gelukkige tye van hulle grootword en lewe. En maak dan ‘n sout- en ‘n soetgereg om hierdie tye simbolies voor te stel. Soos Marinda sê: “Daar het pragtige stories uitgekom – party hartseer, maar tog ook so baie om voor dankbaar te wees. Dit was vir my ’n lekker reeks en ek het self baie geleer. Nog iets wat sommer spontaan gebeur het, is die nuwe en bestaande Afrikaanse woorde vir kos of geregte wat deur my gaste gebruik is. Woorde soos begrafnisbroodjies, feesbroodjies, viskombersie, sneeupoeding – allerlei koesterwoorde.”
Ons moet darem net vinnig iets sê oor Kokkedoor en hoe jy dit ervaar het, veral daardie selfie.
“Ja, eintlik wou ek nie deelneem nie, maar my kinders het aangehou en op die laaste dag toe die inskrywings sou sluit, het hulle my toe oortuig om tog maar te probeer. Nou ja – die res is geskiedenis, want na Kokkedoor het ek besluit om dié talent wat vir my gegee is verder te neem en mense met nuwe oё en passie na kos te laat kyk. Maar nou goed, die selfie. Saam met die inskrywing moes ‘n mens ‘n selfie stuur. Ek was natuurlik glad nie bekend met die gedoente nie, maar het tog maar voor die badkamerspieёl gaan staan en die foto geneem en voordat ek daarna gekyk het, sommer ook die send-knoppie gedruk. Weke later, tydens my onderhoud, het hulle toe my selfie vir my gewys … dit was helaas ‘n pragtige foto van my agterkop! Ek glo nou nog die beoordelaars was so nuuskierig om te sien hoe die persoon lyk, dat hulle my net moes nooi!”
Foto: Netwerk 24
Vertel ons bietjie meer oor jou komvandaan.
“Ek het op ‘n plaas grootgeword – nog met ‘n Agastoof waarop die pot stokkiestee (Rooibos) heeldag gestaan en prut het en waaruit ‘n mens gereeld kon skink en weer water bygooi sodat daar vir die volgende persoon ook is.
“Ons het nie ‘n binnebadkamer gehad nie en ‘n sinkbad voor die stoof was ons badplek. My ma het ons kinders se handjies besig gehou terwyl sy agter die ore en die rug gewas het, deur ons te laat botter karring terwyl ons bad.
“Ons het daardie jare in seisoen geёet – alles wat op die plaas verbou is, is verwerk en die kênfruitbottels het in gelid op die kombuisrak gestaan. Dit is ook daar waar ek die waarde van familie geleer het. Daar langs die tafel wanneer ons een keer ‘n dag moes saam eet – of jy nou siek was of nie lus vir eet nie – geen verskoning, behalwe die dood self, is aanvaar nie. My ma het my ook van trooskos geleer. Hoendersop wat sonder verduideliking vir my in die bed gebring is as ek siek was, of as ‘n kêrel my dalk afgesê het, brood met plaasbotter en konfyt wat spesiaal vir my gemaak is – net omdat sy geweet het hoe lief ek daarvoor is en dat dit my sou troos. Ja, kos was soveel meer as net iets om jou maag vol te maak. Dis ook hoekom my wens is dat my liefde vir sielskos ander sal inspireer.”
‘n Paar vinnige vrae oor kos …
Wat is jou gunstelinggereg?
Om te eet …
Bobotie, frikkadelle.
Om voor te berei …
Tradisionele bredies, eenskottelgeregte (want ek hou nie van baie skottelgoed nie), vars vis.
Wat is altyd in jou spens?
Ek is so bietjie van ’n regte botter-snob. En dan suurlemoene, meel om brood mee te bak, blik tamaties, tamatiepuree, eiers, kondensmelk (vir daardie vinnige nagereg).
Het jy ’n gunstelingspesery of -kruie?
Ek hou van vars kruie en het daarvan in my tuin, maar hou ook van neut, komyn, koljander – speserye vir kerrie.
Behalwe die nodige mes, kapbord en lepel, waarsonder kan jy nie in jou kombuis klaarkom nie?
‘n Suurlemoendrukker (dit is een wat met die hand gedruk word) en ‘n katoeter wat ‘n “microplane” genoem word (dis so ‘n plat rasper).
Dink jy ‘n mens kan lekker kook as jy hartseer of kwaad is?
Kook is terapie. ‘n Mens kook met jou hart. So kap daardie uie tot hulle verby fyn is, en as jy huil en die trane drup in jou bredie, is dit ekstra sout wat dit net beter kan laat smaak.
As jy ‘n Afrikaanse woord moet kies wat met kos of eet te doen het, wat sal dit wees?
Koester! Ek wil hê kos moet mense gekoester laat voel. Hulle moet lekker voel wanneer hulle van die tafel af opstaan.
Dink jy dit is waar dat die pad na ‘n man se hart deur sy maag loop?
Mmm … ek sou sê dis dalk so bietjie laer?
As jy drie persone vir ete by jou huis kon nooi, wie sou dit wees?
Dit is dalk nou nie die antwoord wat jy wil hoor nie, maar die mense wat ek langs my tafel wil hê, en wat ek met hartskos wil bederf, is my gesin – my man, kinders en kleinkinders. Hulle is die belangrikste in my lewe.
Gee ‘n kookboek vir Kersfees
Marinda het twee kookboeke geskryf. Kyk gerus uit vir Marinda se Koskas en dan ook haar kookboek vir kinders, Marinda se kinderkombuis. Heerlike Kersgeskenke propvol praktiese resepte.
Hier is ‘n lusmakertjie …
My Ma se Bobotie
Bestanddele
- 25 ml olie
- 1 ui, in klein stukkies gekap
- 750 g – 1 kg goeie maalvleis
- 3 snye brood
- 125 ml melk
- 1 eier geklits
- 80 ml appelkooskonfyt
- 60 ml asyn
- 60 ml matige kerrie
- 30 ml borrie
- 1 appel gerasper (opsioneel)
- 2 lourier- of suurlemoenblare
- Amandelsplinters (opsioneel)
Metode
- Braai jou gesnyde ui in die olie tot glaserig.
- Laat die brood week in die melk en krummel dit in by jou vleis in jou mengbak – hou die melk vir jou bolaag.
- Meng die res van die bestanddele in by die vleis behalwe die lourier/suurlemoenblare, amandels, eier en melk.
- Meng nou die gaar uie by jou vleis.
- Sit die mengsel in ‘n gesmeerde oondbak. Moet dit nie styf indruk nie.
- Meng nou jou eier en melk liggies met ‘n vurk en gooi oor die vleis.
- Druk jou suurlemoen/lourierblare in die vleis en sprinkel die amandels bo-oor.
- Bak vir 60 minute by 180° C.
Meer oor Marinda se Koskas
“Die resepte in hierdie boek het ek fyn uitgekies. Dit is kos wat ék sien as onthoukos”.
“Daar is resepte vir ontbyt, sop en voorgeregte, brood en beskuit, slaai, seekos, vleis, groente, pasta en bygeregte, nageregte, terte, koeke en ander soetigheid. Lipleklekker kos wat jy in ’n japtrap kan berei sonder fieterjasies of vreemde bestanddele. Die resepte is in alledaagse taal geskryf vir elke kosliefhebber, vir elke dag se gebruik.”
Marinda se kinderkombuis
“’n Kleurvolle kookboek met ’n kinkel. Benewens resepte, is daar ’n skatkis van wenke oor kookterapie en die voordele daarvan vir kinders, asook hoe bak-en-brou die jongspan op ’n pretmanier kan help met wiskunde, wetenskap, lees- en skryfvaardighede en bykans alle skoolvakke. Leer saam met Sjef Sout kook en doen eksperimente saam met Prof Pretzel.”
Lees meer op Marinda se Facebookblad en haar webtuiste.