Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Navorsing wat in 2016 gedoen is, het bevind dat 53% van huishoudings in Suid-Afrika enkelouerhuishoudings is.”
– Katherine van Heerden, opvoedkundige sielkundige (in Groeipyne op RSG – 12 Augustus 2021)
Daar is verskeie redes hoekom ‘n mens jouself in die enkelouerskapsituasie kan bevind, naamlik die dood van ‘n huweliksmaat, egskeiding, swangerskap buite die huwelik, of selfs in gevalle waar een ouer (hetsy getroud of ongetroud) onwillig is en sy/haar verantwoordelikheid ten opsigte van die kinders dus opgee. Dit laat die ander ouer dan met volle verantwoordelikheid vir die grootmaak van die kinders. Wat ook al die rede – die alleenouer moet talle uitdagings die hoof bied en dikwels gaan dit gepaard met sielkundige en emosionele gevolge. Dit is alles situasies wat hanteer moet word … na die beste van die enkelouer se vermoё. Afrikaans.com het die volgende riglyne saamgestel oor hoe om die verskillende uitdagings positief te hanteer.
Die uitdagings
Gebrek aan finansies
Die enkelouerhuishouding dra dikwels swaar aan die finansiёle las. Daar is slegs een inkomste en in die geval van onderhoud, kry so min as 10% wat hulle moet kry per maand. Die ander 90% sukkel en moet allerhande planne maak om die pot behoorlik aan die kook te hou. Dit behels dikwels ‘n tweede beroep wat natuurlik inbreuk maak op tyd en die gesinslewe. Daar moet aanpassings gemaak word om die begroting te laat klop. Die kinders moet dalk ekstra dansklasse of sportafrigting laat vaar omdat daar nie genoeg geld daarvoor beskikbaar is nie. Veral in huishoudings met meer as een kind, raak dit moeilik om in almal se behoeftes te voorsien. Dit veroorsaak spanning, plaas bykomende druk op almal en het ook ‘n impak op die kinders se emosionele welstand.
Geestes(oor)lading (mental load)
As enkelouer is jy 24 uur van die dag verantwoordelik vir die behoeftes van jou kind. Daar is nie nog iemand om jou take oor te neem of te verlig nie. Dit is ook nie noodwendig tasbare goed nie – dit is juis dikwels die goed wat ‘n mens nie kan sien nie, wat die meeste uit ons haal. Daarom is dit belangrik om strukture in plek te hê om jou hiermee te help. Onthou, jy hoef nie altyd alles alleen te doen nie. Vra hulp!
Jou kind is bloot net nog ’n kind …
Dit klink vreemd, maar wat dit beteken is dat dit dikwels gebeur dat die enkelouer “afpak” by die kind, of emosioneel op die kind staatmaak. Hou in gedagte, jou kind is nie ’n volwassene nie en het nie die geestelike of emosionele vermoё om jou hiermee te help nie. Dit sit onnodige druk op die kind wat hom skuldig kan laat voel, tot oorbeskerming van die “teenwoordige ouer” kan lei en dikwels ook gevoelens van woede of haat teenoor die “afwesige” ouer teweeg kan bring. Dus … emosioneel baie ongesond!
Impak op skoolprestasie
Die enkelouer is dikwels so oorlaai dat hulle nie by alles kan uitkom nie, dalk belangrike skoolgeleenthede misloop en nie daar is om die kinders met hulle huiswerk te help nie. Hierdie gebrek aan tyd en leiding, kan lei tot swak prestasies wat weer kan uitkring tot skuldgevoelens en lae selfbeeld. Navorsing het ook bevind dat kinders wat grootword sonder ‘n aanwesige vaderfiguur, soms swakker presteer.
Lae selfbeeld en gedragseienskappe
Kinders in enkelouerhuishoudings kry nie altyd die nodige aandag en raad wat hulle dalk nodig het nie en dit kan hulle emosionele en sielkundige ontwikkeling kortwiek. Daarom is dit belangrik om tyd te maak vir jou kind en erkenning aan hulle prestasies te gee – nie net op skool nie, maar op alle gebiede – selfs iets so klein as self bed opmaak of die stoep te vee.
Party kinders voel eensaam en raak sosiaal afgestomp en meng dus nie genoeg met hulle maats nie. Hulle ervaar gevoelens van hartseer, angs en woede. Hulle kan ook voel dat hulle ouers nie lief is vir hulle nie en dat hulle in elk geval nie die liefde werd is nie.
Dit is darem nie net alles negatief nie
Navorsing het getoon dat kinders ouer as 12 binne die enkelouerhuishouding geen noemenswaardige nadelige gevolge ondervind ten opsigte van opvoedkundige, sielkundige of sosiale ontwikkeling nie. Tog, hang dit baie af van persoonlikheid en natuurlik die manier hoe ouerskap hanteer word. Trouens, die kinders tree dikwels meer verantwoordelik en selfstandig op en moet dikwels inspring en die huishoudelike take oorneem. Daar ontwikkel ook ‘n sterk band tussen die kinders en die ouer – juis omdat hulle op mekaar aangewese is en mekaar moet ondersteun.
Wanneer familie, soos grootouers of ooms en tannies betrokke is, lei dit ook tot sterker familiebande.
Wenke vir die enkelouer
Om alleen kinders groot te maak, is nie ‘n maklike taak nie en plaas baie druk op die ouer. Daarom is dit raadsaam om strategieё in plek te kry om dinge so glad moontlik te laat verloop.
- Tyd is ‘n groot faktor en iets wat nie altyd in oorvloed in ‘n enkelouer se lewe is nie. Daarom is dit belangrik om elke dag tyd te maak. As jy ‘n dagboek gebruik, kan jy selfs daardie halfuur of hoe lank ook al uitblok sodat jy jou volle aandag aan jou kind kan gee. As jy meer as een kind het, raak dit natuurlik ingewikkelder, maar nie onmoontlik nie – selfs al moet jy die dae vir persoonlike aandag aan elke kind afwissel. Dit is egter nie iets wat verwaarloos mag word nie, want dis die ideale tyd om uit te vind waarmee jou kind besig is, waarmee hulle dalk sukkel of oor bekommerd is en waarop hulle trots is. Daar is nie ‘n beter manier om jou liefde en omgee te wys nie.
- Kry ’n ondersteuningsnetwerk in plek. Dit is so dat baie enkelouers te trots is om hulp te vra en liewer alleen sal sukkel, maar glo my, diegene wat ondersteuning kry van ander, hetsy vriende, ouers of sibbe, hanteer enkelouerskap eenvoudig beter. Onthou, mense gaan nie noodwendig aanbied om te help nie, maar dis nie omdat hulle nie wil nie, hulle dink net nie noodwendig daaraan nie. Daarom moet jy nooit bang wees om te vra nie.
- Mense kan nie gedagtes lees nie. Daarom is dit belangrik om met diegene wat deel uitmaak van jou leefwêreld te kommunikeer oor jou omstandighede. Jou kind se onderwyseres of sportafrigter moet byvoorbeeld weet wat aangaan – dit sal baie help om die kind se gedrag te verstaan, indien daar probleme opduik. En die onderwyseres sal ook weet om jou vroegtydig in te lig oor die opkomende taak sodat jy nie vanaand na werk moet skarrel om die benodigdhede vir die taak wat môre klaar moet wees, in die hande te kry nie. Onthou, jy hoef hulle nie op te saal met die volle verhaal nie, maar hou hulle ingelig.
- Roetine is bobaas. Kinders hou van struktuur, al baklei hulle soms daarteen. Op die manier weet almal in die huishouding wat daar van hom/haar verwag word.
- Dissipline. Dit bly belangrik om dissipline binne die gesin te handhaaf. Moenie dinge toelaat omdat jy moeg is of dalk skuldig voel nie. Jy doen jou kind ’n onguns aan. Kinders moet grense hê.
- Maak tyd vir jouself. ’n Gesonde liggaam, huisves ’n gesonde gees. Eet gesond, oefen gereeld en probeer om ten minste een keer per week iets lekker net vir jou te doen. Al is dit net ’n halfuur in ’n skuimbad of 10 minute alleen in die tuin om tot verhaal te kom – asem te haal. Moenie te hard wees op jouself nie – jy mag maar aan jouself ook dink. Dit is harde werk om kinders alleen groot te maak en ’n mens het mandjies vol kapasiteit daarvoor nodig. Kinders kan maar dikwels ’n mens se geduld beproef. Hou dus jou kapasiteitmandjie so vol as moontlik.
- Depressie. Wees bedag op jou geestesgesondheid en as jy agterkom dat jy nie alleen regkom nie, ten spyte van hard probeer, gesels dan met ‘n kundige soos jou huisdokter, ‘n sielkundige of berader.
- Laat vaar daardie skuldgevoelens. Die lewe gebeur en dit lyk nie altyd soos die prentjie wat jy in jou kop gehad het nie. Daarom is dit nodig om jouself te vergewe en met ’n positiewe gesindheid elke dag se uitdagings aan te pak.
Rolmodelle binne die enkelouerhuishouding
“It takes a village to raise a child …”
Kinders het rolmodelle nodig, want of jy dit nou wil glo of nie, jou kind wil nie altyd noodwendig alles met jou deel nie – wat ook al die rede. Daarom is ‘n goeie ondersteuningsnetwerk weereens die antwoord. In die geval van seuns kan ’n oupa, oom of goeie huisvriend daardie rol vervul. Solank dit iemand is wat jy (en jou kind) ten volle vertrou en wat die kind kan respekteer. Iemand wat hy met vrymoedigheid kan nader as hy oor “seunsgoed” wil gesels of “seunsgoed” wil doen. So ook dogters. Ouma, daardie geliefkoosde tannie of vriendin, is goud werd as daar persoonlike of hartsake ter sprake is, of om sommer net “meisiegoed” te doen. Wat belangrik is om in gedagte te hou, is dat dit nie ‘n refleksie op jou vermoё as ouer is nie. Jou kind het gewoon net behoefte aan ’n ander perspektief – of dalk probeer hy/sy jou beskerm. Wat ook al die rede, gun jou kind sy/haar rolmodel.
Ten slotte
Daar is nie ’n perfekte resep waarvolgens ’n mens enkelouerskap kan hanteer nie. Jy is ook nie ’n wonderwerker nie. Sit goed in plek na die beste van jou vermoё en doen net dit wat vir jou en jou gesin werk. Kyk na jouself en jou geestesgesondheid … sit jouself soms eerste … die res sal in plek val. Kinders het eintlik soveel minder nodig as wat ’n mens dink. ’n Teenwoordige ouer is dikwels vir hulle genoeg. Elke kind verdien ’n ouer se onverdeelde aandag en liefde … tonne daarvan!
Hoe lyk die prentjie in Suid-Afrikaanse huishoudings?
Die konsep “kerngesin”, dui op kinders wat saam met twee ouers woon. In Suid-Afrika voldoen slegs 34,5% van alle huishoudings aan hierdie “kernnorm” en baie kinders woon ook nie by hulle ouers nie, terwyl ongeveer ‘n vyfde van huishoudings uit drie of meer generasies bestaan. Dit word deels daaraan toegeskryf dat familielede in veral nie-Westerse huishoudings “veel meer gedeelde verantwoordelikhede rakende kindersorg het as in die meer Westerse omgewing wat grootliks deur die kerngesin gekenmerk word.” Statistiek Suid-Afrika het in 2010 bevind dat “slegs ongeveer ‘n derde van voorskoolse kinders in Suid-Afrika by hul vaders woon”. In nog ‘n Algemene opname oor Suid-Afrikaanse huishoudings (sluit alle bevolkingsgroepe in) wat in 2018 deur Statistiek SA gedoen is, is bevind dat 43,1% kinders in Suid-Afrika net by hulle ma bly.
Volgens die Institute for Family Studies 2019:
- Woon slegs 31% van die kinderbevolking by albei hulle ouers.
- 36% woon by een ouer.
- 33% woon sonder ‘n ouer.
- Ongeveer 36% van kinders woon in huishoudings waar die grootouers aan die hoof staan.
Die SA Instituut vir Rasseverhoudinge en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het bevind dat 60% van kinders in Suid-Afrika grootword sonder “werklike betrokkenheid van die vader”, terwyl 40% vroue enkelouers is.
In ‘n ander verslag, het Solidariteit Helpende Hand primêr gefokus op wit, Afrikaanse huishoudings en die volgende statistiek bekend gemaak:
- Ongeveer een uit drie van Afrikaanse kinders kom uit ’n gebroke gesin (geskeide ouers).
- 66% van gebroke huishoudings se kinders leef by die ma.
- 15% van gebroke huishoudings se kinders leef by die pa.
- 19% van gebroke huishoudings se kinders leef by ander familie of vriende.
- Huishoudings spandeer 10-12 ure per week minder saam.
Bronne:
Potgooi: Die uitdagings en praktiese dinge wat met enkelouerskap gepaard gaan. Klik hier.
Hoe om te oorleef as enkelma. Klik hier.
Sielkundige en sosiale gevolge binne enkelouerhuisgesinne. Klik hier.
Die kwesbaarheid van kinders in die konteks van Suid-Afrikaanse huishoudings en families – deur J Grobbelaar en C Jones (2020) – Tydskrif vir Geesteswetenskappe.