Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Familie is ’n mondvol!”
Barakat, ‘n Moesliem-film in Afrikaaps, is onlangs gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 2022-Oscars, in die kategorie, Beste Internasionale Film. Die nominasies word op 8 Februarie 2022 aangekondig. Die Oscars word op Sondag, 27 Maart 2022, gehou.
Kyk gerus die film op kykNET op 18 Desember om 20:00.
Meer oor die film
Barakat (Islam)
Betekenis: Seёninge, oorvloed en vooruitgang. Dit is kos wat oorgebly het van ‘n maaltyd as geskenk saam te stuur aan diegene wat nie daar kon wees nie. (HAT6)
Foto’s: BBC News
Barakat is geskryf en geregisseer deur die bekroonde Amy Jephta, met Ephraim Gordon as die vervaardiger. Jephta en Gordon is die medestigters van die produksiemaatskappye PaperJet Films en Nagvlug Films. Jephta was ook die draaiboekskrywer vir Suid-Afrika se 2018-inskrywing vir die Golden Globes, naamlik Ellen: The Story of Ellen Pakkies.
“Ek is trots op hierdie film – hierdie eenvoudige storie – wat na ’n uitdagende jaar in die filmindustrie dit reggekry het dat ons raakgesien word. Daarom was dit belangrik om die storie in ons moedertaal (Afrikaaps) te vertel – om dit so outentiek moontlik te hou. Dit is die taal wat die Moesliemkultuur, -tradisies en alledaagse bestaan die beste weergee.
“Dit is vir ons as Suid-Afrikaanse filmmakers belangrik om ons lewens en dit wat ons elke dag ervaar, met die wêreld te deel. Om te weet ons stories kan inspirerend wees sonder om noodwendig uit trauma of hartseer voort te vloei.
“Dit is ‘n voorreg om die kans te kry om ons land te verteenwoordig en ons stories te deel. Dit alleen is reeds vir ons ‘n groot prestasie.”
Barakat is in Mei 2021 in Suid-Afrika vrygestel en was gedurende Junie op DStv BoxOffice te sien. Die film het reeds sewe internasionale toekennings ontvang, onder andere by die 2021 Idyllwild Internasionale Filmfees, die Motion Picture Internasionale Filmfees en die Reel Sisters of the Diaspora in 2020.
Kortliks die storie
“Die film is ’n soort nabetragting. Dis ’n suiwer rolprent wat jou, met sy terloopse, onselfbewuste humor, saamsnoer en bekendstel aan iets anders.”
– Leon van Nierop in ‘n resensie op LitNET
Die storie speel op die Kaapse Vlakte af. ‘n Moesliemweduwee, Aisha Davids, gespeel deur die veteraanaktrise Vinette Ebrahim, moet die vrede tussen haar vier seuns bewaar wat sukkel om die dood van hulle pa twee jaar gelede te verwerk. Hulle kom vir Eid-ul-Fitr (Labarang)– na alfoop van Ramadan – huis toe. Daar is natuurlik familiekonflik wat Aisha ongelukkig maak – veral omdat sy probeer om met haar lewe voort te gaan en nou vir hulle moet vertel van haar voornemende huwelik. Die storie verweef hartseer en vreugde, maar uiteindelik besef ‘n mens dat familie tog maar die belangrikste is.
Sê Leon van Nierop: “Die film is maklik om te verstaan. Dit verbreed jou horisonne en laat jou inspit in ‘n ander kultuur en laat jou deur ander ore luister. Afrikaanse film het nou ‘n nuwe gesin en taal ryker geword.”
Die rolverdeling sluit behalwe Ebrahim, ook gesoute en geliefde akteurs soos Joey Rasdien, Mortimer Williams, Keeno-Lee Hector, Danny Ross, Quanita Adams en June van Merch in.
Kyk hier na die amptelike lokprent: