Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.

Skrywer: Ernusta Maralack
Foto’s:Michael Bryant& Verskaf
Deur dik en dun het hy aan sy opvoeding vasgeklou. Dít en mense met harte van goud het verseker dat hy sukses behaal!
Vanwaar dr. Mervyn Coetzee (54) vandag by sy kamervenster uitkyk op die rivier in Upper East Side, in Harlem, New York, is hy wêrelde verwyder van die stormagtige Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte waar hy grootgeword het.
Die Bonteheuwel waar hy in die jare tagtigs grootgeword en moes skoolgaan, het vir hom soos ’n “oorlogsone” gevoel en hy moet homself soms knyp om te glo die lewe wat hy vandag lei, is sy eie en nie die een van armoede, bendegeweld en trauma waartoe sy generasie verdoem was nie.
Maar Mervyn, wat destyds ’n pool cleaner was, het onlangs sy PhD-graad in Opvoedkunde: Taal en Geletterdheid aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) verwerf. Hy kan met reg trots wees op dié prestasie, want sy lewe tot hier was allesbehalwe maklik.
Ervaar self trauma
Mervyn se doktorale proefskrif is getiteld “Trauma, Injustice and Identity: Investigating an Egalitarian and Autoethnographic Approach to Analysing Students’ Personal Language Narratives” en word deur van sy nasieners as baanbrekerswerk beskou. ’n Ander nasiener merk op dat sy proefskrif in boekvorm opgeneem moet word omdat dit aandag skenk aan studente (veral eerstejaars) se persoonlike trauma wat ’n invloed het op hul teruggetrokkenheid om in die klas te praat omdat Engels hul tweede of selfs derde taal is.


Mervyn ontvang sy eerste graad.
Dis moeilik om te glo hierdie welgeleerde man en gerespekteerde akademikus het destyds swembaddens saam met sy ma skoongemaak. Dit het baie swaar gegaan ná sy pa se afsterwe toe hy net agt jaar oud was. Hulle was vyf kinders en om kos op die tafel te sit, was ’n uitdaging.
Soveel so dat hy en een van sy broers telkemale by ’n viswinkel rondgehang het in die hoop dat hulle aan die einde van die dag viskaiings (viskuite) kon kry wat hul gesin daardie aand kon eet.
Mervyn het op skool vir drie somers (in 1982, 1983 en 1984) swembaddens skoongemaak; hy het later ’n strandkonstabel geword wat onder meer kleedkamers skoongemaak het; en hy het as ’n VHS tape rewinder gewerk waarvoor hy met kos betaal is en hy kon movies kyk. Hy het ook al gewerk in ’n bakkery in Wynberg, as ’n koerantsorteerder vir die Cape Times en as ’n lifeguard. Hy het enigiets gedoen om ’n inkomste te verdien en om kos op die tafel te kan sit. “Daai tyd was ’n ding van ‘solank jy net ’n werk het’. Almal wou ’n permanente werk hê,” vertel Mervyn. Maar hy het altyd hierdie knaende gevoel gehad dat daar meer aan sy lewe moet wees. In 1988 het hy die kans gevat om by UWK aansoek te doen nadat sy meisie van destyds hom aangemoedig het om ook te studeer. Sy aansoek was egter afgekeur en hy het ook gesukkel om befondsing vir sy studies te kry. Maar sy chance encounters met sleutelmense by UWK het sy lewe en toekoms dramaties verander. En hy is uiteindelik by UWK aanvaar om te studeer.
Mervyn raak steeds emosioneel wanneer hy hieraan dink, en sê hy sal altyd dankbaar wees vir mense soos Niel van den Heever, Harold Jooste, prof. Sivakumar
Sivasubramaniam en vele ander wat vir hom “ja” gesê het toe al die odds teen hom was en wie se bydrae gehelp het dat hy ’n opvoeding en werk kon kry.
Sy grade sluit in ’n BA in Engels en filosofie; ’n honneursgraad in Engels, ’n meestersgraad in Engelse Literatuur en ’n PhD in Opvoedkunde: Taal en Geletterdheid.
Mervyn het ’n groot deel van sy werklewe by UWK, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en die Universiteit van Kaapstad spandeer in verskeie kapasiteite. Hy werk tans as die akademiese hersieningspesialis in UWK se Akademiese Beplanningseenheid.
Mervyn het ook al in Amerika klas gegee, waar hy vir 16 jaar gebly het. Tans woon en werk hy tussen Suid-Afrika en Amerika, en was kort ná sy onderhoud met Kuier juis op pad terug Suid-Afrika toe. Hy keer weer in Desember vanjaar terug na Amerika, waar hy permanente verblyfreg het. (Hy en sy vrou het saam na Amerika getrek in die laat negentigs, maar is sedertdien geskei. Sy eksvrou en seun, Blake, woon steeds in Amerika.)
Dis Mervyn se lewe nou, maar hy wil almal ook laat verstaan:
“My storie is glad nie uniek nie”.
Toe Mervyn grootgeword het, het bendegeweld hoogty gevier; die apartheidspolisie in hul Casspirs en barricades was ’n algemene gesig op die Kaapse Vlakte. En om koeëls verby jou gesig te sien trek; met traangas gegooi te word en te sien hoe bendelede voor hom doodgekap of -geskiet word, was die abnormale normaal daai tyd. Net om skool toe gaan, het jy jou lewe gewaag. En dis in sy grootwordjare waar sy trauma begin het en hoekom hy met sy studente se stories van trauma kon connect tydens sy navorsing.
“Toe my pa dood is, kon ek nie dadelik huil nie. Ek het eers twee weke later gehuil en het daardie trauma vir lank saam met my gedra. My boeta (broer) Benito het toe soos ’n pa geword vir my,” maak Mervyn oop oor ’n baie pynlike tyd in sy jong lewe.
Verduur vernederling
Behalwe die omstandighede rondom hom, moes Mervyn op ’n persoonlike vlak ook onophoudelike geterg en vernedering verduur omdat hy met twee duime aan albei hande gebore is. “Ek is name genoem soos ‘Thumbelina’, ‘Creature’, ‘Hande-soos-’n-kreef’ en ‘Alien’. Ek was baie skaam en het altyd met my hande in my sakke geloop of dit onder my ingedruk wanneer ek gesit het.”
Ander trauma wat hy moes verwerk, was toe sy broer Benito (toe 15, nou 60) in Augustus 1976 deur die apartheidspolisie in die rug geskiet is. “Hy is nie hospitaal toe gevat nie, maar na Goodwood-tronk toe waar hy verder gemartel en gedreig was dat hy gesodomiseer sou word,” vertel Mervyn.
Al hierdie dinge het Mervyn woedend en haatdraend gemaak en hy het byna by uMkhonto we Sizwe, die ANC se gewapende vleuel, aangesluit. Maar hy glo tot vandag toe sy ma se gebed dat haar kinders bewaar moet word, het hom gered.
Mervyn het dit ook amper nie gemaak tot in matriek nie. In graad 10 het hy sy September-eksamen gedruip en sy ma wou hom dadelik uit die skool haal, maar Benito het namens sy broer by hul ma gepleit: “Laat ten minste één van ons matriek het”. Benito se pleidooi was nie verniet nie, want in 1984 het Mervyn matriek geslaag.
Daarom beklemtoon Mervyn al sy akademiese prestasies, veral sy doktorsgraad dra hy op aan sy familie en sy ma, Joan Coetzee (81), wat nog uitgespaar is om haar seun se sukses te beleef. Sy familie het weens apartheid nooit die geleenthede gekry om baie van hulself te maak nie, maar hulle het bankvas agter hom gestaan dat minstens hý geleerdheid moes kry.
“Ek was tot in my volwasse lewe baie selfbewus (oor sy ekstra duime), maar ek eien dit nou en ek eien wie ek is. Ek deel dit nou met mense wat selfbewus voel oor enigiets. Ek het ook geleer om oplossinggedrewe te wees en te vra hoe kan ek help omdat sleutelmense gekies het om ja te sê vir my,” voeg Mervyn by.
En ja, hy mag vandag dr. Mervyn Coetzee wees, maar hy sal altyd ’n klong van die Kaapse Vlakte bly. Sy hoop is om vir elke laitie van Bonteheuwel te wys goeie dinge ís moontlik as jy kanse vat en geleenthede aangryp sodat jy die lewe en alles wat dit kan bied, kan ervaar.

Dr. Mervyn Coetzee met sy doktorsgraad.