Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
In ons vierde en laaste onderhoud met Siegfried Louw, bespreek ons die kwessie van alleenheid of isolasie – asook verslawing. Die geїllustreerde kinderboekie, Sofia en die grot, gaan hieroor. Afrikaans.com het met Siegfried gesels.
Isolasie en alleenheid klink soos een ding. Verslawing klink soos iets heeltemal anders.
Is daar ʼn verband tussen die twee? Hoe werk dit?
Ons almal het uitdagings wat in ons lewens na ons toe kom. Soms raak dit net te veel en dan raak die druk te erg. Dan is dit vir ons lekker en goed om van die werklikheid te ontsnap, sodat ons net ʼn breek kan neem. Ons almal het dinge wat ons doen of gebruik wat ons help om te ontspan of om net ʼn bietjie te vergeet van alles. ʼn Maklike voorbeeld, is oormatige alkoholgebruik deur volwassenes. Maar ons sien dit ook deesdae baie by kinders, wat verknog raak aan rekenaarspeletjies of selfone en sosiale media.
Dink net: ʼn Kind het ʼn moeilike dag by die skool gehad en kom moeg en gefrustreerd by die huis. Haar gunstelingrekenaarspeletjie help haar om vir ʼn rukkie van haar moeilike dag te vergeet. Dit is op sigself nie ʼn slegte idee nie. Maar voor jy jou oë uitvee, word die rekenaarspeletjie die standaard manier om van uitdagings te ontsnap. Sy leer hoe om haar van haar omstandighede te isoleer deur met die speletjie besig te wees.
Die meganisme waardeur sy van die moeilike dae ontsnap, veroorsaak dan uiteindelik isolasie. Sy beland alleen in ʼn leefwyse wat haar afsny van regte mense rondom haar.
Beteken dit dan dat ons nie goed kan gebruik wat ons help om ʼn bietjie te ontspan nie?
Moet ons kinders byvoorbeeld verhoed om met rekenaarspeletjies besig te wees?
Die uitdaging is egter om die “regte lewe” nie af te skeep nie. Dit vra kontak met die mense vir wie ons lief is, al is dit om moeilike en vervelige dinge saam te moet doen en af te handel.
Glad nie, maar ons almal moet leer wat dit beteken om net bietjie af te skakel van alles wat ons aandag verg. Ons almal ontdek maniere hoe ons dit doen. Dit is gesond. Maar enige afskakel-strategie of ontkoppeling kan ʼn patroon raak. Dan trap ons in ʼn spesifieke slaggat. Ons kan nie die heeltyd van die lewe met uitdagings ontsnap nie.
Dit kan gesond wees om jou kind toe te laat om bietjie met ʼn rekenaarspeletjie te ontspan. Maar soms raak dit maar net te maklik om kinders met skerms besig en stil te hou, sodat hulle nie die lewens vir die grootmense rondom hulle moeilik maak nie. Baie van vandag se speletjies is ook interaktief. Tydens ons huidige pandemie het baie van ons ouer kinders juis kontak met vriende behou deurdat hulle saam aanlyn speletjies kon speel.
Die uitdaging is egter om die “regte lewe” nie af te skeep nie. Dit vra kontak met die mense vir wie ons lief is, al is dit om moeilike en vervelige dinge saam te moet doen en af te handel.
As ek vermoed my kind is verslaaf aan sosiale media, of rekenaarspeletjies, wat kan ek doen?
Die teenvoeter vir enige verslawing, is egte kontak.
Dit gaan waarskynlik die verkeerde uitwerking hê as jy jou kind net belet om speletjies te speel. Jy wil tog aan jou kind die kans bied om bietjie te ontspan.
Stap een met enige uitdaging met jou kind, is om jou kind se lewe te verstaan. Kyk dus ʼn bietjie hoe hy die speletjie speel. Vra uit hoe die speletjie werk. Stel belang in wat jou kind doen. As jy nie tyd het om dit te doen nie, is die gevaarligte aan die flikker. Die teenvoeter vir enige verslawing, is egte kontak.
ʼn Volgende stap is om ʼn tydsbeperking op die speletjie of sosiale media te sit. Maar doen dit met ʼn gepaardgaande gesprek. Jy moet ook die moeite doen om alternatiewe vir ontspanning en ontkoppeling te voorsien. Soos om met die hond te gaan stap, of om in die natuur uit te kom. Kies aktiwiteite wat isolasie en alleenheid deurbreek.

Beteken dit dus dat alleenheid en isolasie ʼn slegte ding is?
Kan dit nie ook positiewe gevolge inhou nie?
Om oukei te wees met alleenheid, is eintlik die groot stap.
Ons moet eintlik almal leer hoe om op ons eie te wees, sonder om benoud of ongemaklik te raak. Die vraag is: Wat doen jy sodra jy alleen of geïsoleerd is? Is daar vaste patrone wat jy aangeleer het, wat jou kontak met jou omgewing verbreek? Sommige mense slaap baie wanneer hulle alleen is. Of hulle gebruik selfs medikasie of alkohol. Kinders kan aanmekaar televisie kyk of speletjies speel.
Om oukei te wees met alleenheid, is eintlik die groot stap. Ons wil meeste van die tyd graag ontsnap van die werklikheid rondom ons. Ons word dikwels die meeste daarmee gekonfronteer wanneer ons alleen is. Die mooi waarheid is wel dat ons dikwels saam met ander mense leer hoe om teenwoordig te wees.
Wys jou kinders dus van kleins af dat regte teenwoordigheid alle verskil maak.
Sofia en die grot – waar daar op alleenheid en ook verslawing aan byvoorbeeld rekenaarspeletjies en sosiale media gefokus word.
Daar is ook riglyne oor hoe om uit dié omgewing te ontsnap.
Sofia die Uil is oud en wys. Gawie het ’n wegkruipplek teen die moeilike dinge van die lewe gekry en Sofia sien hoe Gawie se wegkruipplek ’n grot word wat hom gevange hou.
Sofia help vir Gawie om te ontdek hoe hy uit die alleenheid van sy grot kan ontsnap: Jy kyk in die oë van die mense vir wie jy lief is sodat hulle jou kan help om nie alleen te leef nie.
Sofia en die grot is ’n storie wat spesiaal geskryf is om kinders (oud en jonk) te herinner:
- Jy is nie gemaak om alleen in jou grot te leef nie.
- Kyk in die oë van die mense vir wie jy lief is om uit die alleenheid van jou grot te ontsnap.
- Vra mense om jou te help met dié dinge in die lewe wat nie lekker is nie. Dit sal keer dat jy in jou grot gaan wegkruip.
- Kyk na alles wat jy in die lewe doen – veral om van alleenheid/isolasie te ontsnap. Vra dan vir jouself: Help dit my? Of maak dit my lewe ongesond?
Bestel die boekie en ander in die reeks hier
Die boekies word deur Bybelmedia uitgegee en is in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Sesotho beskikbaar.
