Die vervaardigers van bordspeletjies in Afrikaans, die maatskappy Spoetnik, is onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer.
Dr Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het erkenning gegee aan die rol wat Spoetnik vervul – nie net om gesinsbande te versterk nie, maar ook die manier hoe hierdie bordspeletjies die Afrikaanse kultuur en geskiedenis lewendig hou.
Spoetnik vervaardig en versprei reeds sedert 2015 unieke bordspeletjies soos Boereplaas, TydToer, die Patriot-troefkaarte, Tel jou woorde en Borgwoordkies. André Steyn, bemarkingshoof by Spoetnik, het vertel dat hulle die bordspeletjies ontwikkel het as teenvoeter vir die ure wat kinders spandeer om aanlyn speletjies te speel en beskou dit as die ideale manier om kinders besig te hou.
’n Afrikaanse Christelike bordspeletjie, Kalologos, word ook binnekort bekendgestel. Daar word ook planne gemaak om volgende jaar saam met die FAK ’n speletjies-olimpiade op kulturele vakansiedae by Fort Schanskop aan te bied. “Spoetnik is gefokus op gehalte speletjies wat spelers, oud en jonk, op prettige wyse aan die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis blootstel.”
Daar is ook ’n toekenning oorhandig aan Pieter Liebenberg wat die bordspeletjie Eendracht Maakt Macht ontwikkel het. In die bordspel word spelers strategies deur die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog geneem en word spelers aan verskeie historiese karakters en gebeure blootgestel. Liebenberg vertel dat hy reeds 23 jaar lank besig is met die ontwikkeling van die bordspel en dit is dan ook die eerste bordspeletjie wat onder sy handelsmerk Wolfkraal uitgereik is. Kenners soos prof Fransjohan Pretorius is geraadpleeg om seker te maak feite en gebeure is histories korrek.
Bron:
https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/goeie-nuus/vervaardigers-van-afrikaanse-bordspeletjies-vereer/
Lees ook:
https://afrikaans.com/2020/06/25/speel-jou-kind-genoeg/
https://afrikaans.com/2019/06/18/dit-is-vakansie-speel-bordspeletjies-saam-met-jou-kind/
https://afrikaans.com/2021/07/21/tel-jou-woorde-met-hierdie-nuwe-afrikaanse-bordspeletjie