Idiome word dikwels beskryf as die speserye van taal. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se veeltalige idiomeboek, Ons almal drink van dieselfde stroompie, wat vroeër vanjaar die lig gesien het, is daarop gemik om die kleur en geur van taal en ook kultuurerfenis wat hand aan hand daarmee loop, vas te vang. Om egter seker te maak dat hierdie netjies gebottelde speseryrakkie gebruik word, is daar besluit om ’n klankweergawe van die idiomeboek te skep om te wys hoe hierdie geure die spreker se palet in konteks ophelder.
Die bestaande boek is aangevul deur kort, gedramatiseerde klankgrepe wat wys hoe die idiome in Afrikaans in die mond van die spreker lewe kry. Idiome-klankgrepe in isiXhosa en Engels is ook op die SBA se webtuiste beskikbaar. Klik hier om na die isiXhosa en Engelse klankgrepe te luister.
Nie net is die klankopnames verrykende luistergenot vir die taalliefhebber nie, maar dit bied ook ’n praktiese en byderwetse invalshoek vir onderwysers wat tydens onderrig lewe aan idiome wil gee.
Die veteraanaktrises Thoko Ntshinga en Sandra Prinsloo was onder meer deel van die stemkunstenaars wat die vertolking van die tonele vir die idiomeboek behartig het.
Afrikaans.com het met die SBA hande geneem vir die samestelling van kunswerke wat die idiome uitbeeld, hetsy letterlik of figuurlik. Ons moedig onderwysers en leerders aan om hierdie hulpbron deel van jou klaskamerervaring te maak.
Wie is die SBA?
In 1992 is ’n Afrikaans- Geletterdheidstrust gestig om spesifiek in die Wes-Kaap Afrikaansgebruikers in veral plattelandse gemeenskappe, te bemagtig. Uit hierdie trust is die SBA gestig. Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Klik hier vir die SBA-historie van Stigting tot 2019-boekie.
Geletterdheid omsluit alle kommunikasievaardighede wat verwerf word op grond van gesproke en geskrewe taalvaardighede en wat noodsaaklik is vir die uitlewing van volle menswaardigheid op alle lewensterreine. Die SBA-projekte word saamgestel en ontwikkel om te help met nasiebou deur Afrikaans, en ingeboude veeltaligheid is ’n belangrike komponent daarvan.
Besoek die SBA se webuiste om meer te leer.
Afrikaans! My moedertaal. Wat ‘n wonderskone taal! Seker een van die mees beskryeende tale wat daar is.